Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart (Ps. 26:2); [HK So. 2 V/A 4].

Wanneer ’n donkie voor ’n nuwe hek te staan kom, weet hy nie wat om te doen nie. So staan baie kinders van God ook voor sy wet.

Dit voel op ’n vreemde manier oorweldigend, want hoe op aarde kan ek hieraan voldoen? Hoe kan ek dit aan die een kant alles onderhou en dan terselfdertyd ook nog ’n lewe hê?

Die antwoord hierop is eenvoudig: Dieselfde Here wat hierdie eise aan ons stel, ken ook ons harte. Hy toets ons gesindheid. Al is dit só dat ons vanweë ons sondige geneigdheid en liefde vir die kwade nooit sy wet sal kan onderhou nie, gee Hy sy wet as ideaal waarna ons moet streef.

As ons nie die wil van God geken het nie, sou ons nie weet wanneer ons in stryd met sy wil handel nie. Omdat ons nou sy wet ontvang het en bewus is van ons oortredinge, kan ons dit in die Naam van Jesus Christus bely.

Hy werk deur sy Gees by ons ’n opregte begeerte om nie sy wet te oortree nie. So dien die wet dan as toetssteen van ons gesindheid en lê dit ons liefde vir God bloot.

Ons is nie volmaakte mense wat sy wet volkome kan onderhou nie en Hy weet dit. Maar nog verhinder dit Hom nie om dit van ons te eis nie. Probeer ons ten minste in alle opregtheid of gooi ons uit die staan­spoor tou op?

Met die regte gesindheid kan ons opreg daarna streef om die wil van God te doen deur sy wet in diepe afhanklikheid te gehoorsaam.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kron. 29:10-19

Gebed: Here, dankie dat u my innerlike gesindheid toets en my nie net oordeel op my uiterlike werke nie. Amen.

Ps. 26:1-12

Ges. 63:1

Hef op jul hoofde, o poorte! Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon … Die Here van die leërskare – Hy is die Erekoning … (Ps. 24:1, 10); [HK So. 2 V/A 4].

In hierdie Psalm word die mens direk voor God gestel; meer nog, word hy in ’n bepaalde verhouding voor die Skepperkoning gedaag. Dit bring mee dat ek, as geskape mens, tot die besef moet kom dat my hele bestaan geraak word deur my verhouding met God.

Hierdie Psalm word in die kerk juis gebruik om ons op die verlos­sings­werk van Christus te wys deur sy oorwinning oor die graf en dat Hy opgevaar het na die hemel waar Hy sit aan die regterhand van God, ons Vader, om vir ons in te tree, omdat ons dit self nie vanweë ons gebro­ken­heid kan doen nie.

Dit alleen moet al genoeg wees om ons tot die vraag te lei van: Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? (Ps. 24:3). En die antwoord is ewe bedrukkend, want die vereiste is alles-­behalwe waartoe ons in staat is! En die bedoeling is ook nie ’n sondelose toestand nie, want dan kan niemand hier ingaan nie.

Wat wel gevra word, is opregtheid voor die Here. Dit is slegs moontlik met ’n gesindheid wat spruit uit ’n hart wat vervul is met die vrees vir die Here. Hier het ons eintlik in wese ’n samevatting van die wet.

Die wonderlike is dat die oorwinning reeds behaal is! Die Erekoning het alreeds deur die poorte ingegaan! Hierdie poorte wat so hoog, groot en eeue oud is, moes oopgemaak word sodat Hy kan ingaan. Die poorte is oopgemaak en is nou vir ons finaal oop! En Hý is u en my Koning!

Bykomende Skrifgedeelte: Núm. 21:4-9

Gebed: Dankie, my Erekoning, dat ek rus kan vind in die wete dat ek eendag voor u troon sal kan staan. Amen.

Ps. 24:1-10

Ges. 172