Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die Here aanroep (Ps. 116:13); [HK So. 1 V/A 2].

Volgens die Bybelse Ensiklopedie dui dankbaarheid in die Bybel op die antwoord wat die mens verskuldig is op die handelinge van God: eerstens by die skepping en die onderhouding daarvan asook vir sy goedheid wat veral in sy barmhartigheid jeens die sondige mens geopenbaar word.

Die Boesmans van die Kalahari en die Namib het ’n eienaardige gewoonte gehad. By tye was hulle vir dae aaneen sonder vleis omdat die wild weggetrek het. Wanneer hulle weer wild gekry het, het hulle voorkeur gegee aan die jag van ’n kameelperd. Nie net omdat hy baie vleis gehad het of omdat die vleis lekkerder was nie, maar dit was veral oor die murgbene. Dit het groot bene met baie murg en hulle was lief vir murg. Hy sou daar langs die vuur sit en homself ooreet aan die murg en net daar aan die slaap raak. Sodra hy wakker word, gaan hy net aan waar hy laas opgehou het en hy sal nie ophou voordat alles op is nie! Dit doen hy omdat hy dankbaar is en hy glo hy bewys dankbaarheid aan sy voorvaders wat sy pad so voorspoedig gemaak het met die jag. Eet hy dit nie vinnig op nie, dink hulle dalk hy is ondankbaar en gee nie weer vir hom ’n kameelperd nie.

Besef ek as Christen waar die genade van God vandaan kom; besef ek as Christen werklik dat die verlossing van my sondelas deur die bemiddelingswerk van Jesus Christus plaasgevind het? Hierdie wete moet so ’n oormaat van dankbaarheid by my tuisbring dat ek sonder ophou vir Hom wil leef en my elke dag in sy liefde sal verlustig!

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 18:1-15

Gebed: Dankie, Here, dat ons in die sonskyn van u verlossende genade mag lewe. Amen.

Ps. 116:1-19

Ges. 316:1-3

Noodsaaklike kennis … deur die wet is die kennis van sonde (Rom. 3:20); [HK So. 2 V/A 3].

“Kennis is mag” het ons geleer. Om kennis te hê, is om ’n hele ket­ting­reaksie aan die gang te sit. Alles begin by kennis wat lei tot iets daaropvolgend en so hou dit aan. Dit eindig egter nie by kennis nie. Kennis alleen is nie genoeg nie. As ek weet ek is siek en ek doen niks aan my siekte om dit op te klaar nie, bly ek in daardie siektetoestand.

So is dit met sonde ook. Om te weet dat ek sondig is, is ’n baie goeie begin, maar dit bly slegs ’n beginpunt. Ek moet werk maak van my sonde. Die eerste ding wat ek moet doen, is om tot die kennis van hoe groot my sonde is, te kom; wat hierdie sonde van my dus alles behels.

Eers as ek onder die diepe besef kom van hoe groot my sonde is, begin ek besef hoe groot die penarie is waarin ek myself bevind. En hier kom God ons ook weer tegemoet deur aan ons sy wet te gee. En as ons praat van sy wet, moet ons daarna kyk soos na ’n piramide.

Die eerste vyf boeke van die Ou Testament vorm die breë basis aan die onderkant en dit word al nouer na bo met die Tien Gebooie wat die spits vorm. Die res van die Bybel volg dan hieruit. En die doel van dit alles is juis om my onder die diepe besef van my sondige toestand en die hopeloosheid daarvan te bring. Die besef dat ek hulp van buite nodig het, moet vir my deur al hierdie kennis na God lei.

Dan eers begin hierdie kennis vir my ’n mag word, nl. ’n mag teen die duiwel.

Bykomende Skrifgedeelte: Deut. 6:1-25

Gebed: Here, oortuig my van sonde deur u Gees sodat ek dit sal haat en daarvan wegvlug. Amen.

Rom. 3:9-20

Ges. 56:9