… Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees (Joh. 17:19).

Dit is baie maklik om die betekenis van woorde en begrippe in die Bybel te verwar. ’n Woord soos “heilig” verbind ons gewoonlik met iets soos “heiligmaking”. Dit beteken om geestelik te groei, die sonde al meer af te sterf en hoe langer hoe meer die beeld van God in jou lewe te vertoon. Só gesien, maak die Here Jesus se woorde in sy hoëpriesterlike gebed egter nie sin nie, aangesien Hy sondeloos was. Hy het dus nie “sonde” gehad om af te sterf nie of om “al meer” God se beeld te vertoon nie. Hy is immers God.

Om “geheilig” te wees beteken egter ook om “afgesonder” te wees vir ’n spesifieke taak of doel. Wanneer Christus dus sê dat Hy Homself vir ons “heilig”, beteken dit dat Hy Homself afsonder en toespits op ons en ons behoeftes. Hy het nie sy aandag laat aftrek nie, maar enduit sy roeping vervul sodat Hy uiteindelik vir ons onheiligheid aan die kruis betaal het. Dit is die taak waartoe God Hom afgesonder het.

Op grond van Christus se oorwinning oor die dood is “heiligheid” vir sy kinders nou tegelyk ’n gawe en ’n eis. Deur sy bloed is ons gehei­lig. Ons is losgekoop en afgesonder om dood vir die sonde te wees, maar lewend vir Christus. Aangesien ons in ’n staat van heiligheid verkeer, eis God ook nou van ons heiligheid; ’n heilige lewenswandel waarin ons daagliks die sondes wat nog teen ons sin in ons oorgebly het, afsterf. Die feit dat Christus Homself vir ons afgesonder (geheilig) het, het die gevolg dat ons ook, as heiliges, daagliks in heiligheid toeneem. Dit gebeur langs die weg van gehoorsaamheid aan die waarheid (v. 19).

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 14

Here, lei my deur u Woord en u Gees sodat ek daagliks in heiligheid kan groei. Amen.

Joh. 17:1-26

Ges. 62:1, 4

Opregte liefde vra ’n opregte antwoord … As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? (Mal. 1:6).

Maleági tree op ná die terugkeer uit ballingskap. Dinge is redelik bestendig. Die tempel is herbou, die tempelrituele is hervat, daar is nie politieke spanning nie en godsdiensvryheid heers. Tog het dit nie so voorspoedig gegaan soos die volk gehoop het nie. Die voorspoed wat hulle voorheen geken het, is nog nie herstel nie en hulle was steeds redelik arm. Dit het die volk laat twyfel in God se liefde (v. 2). Hierdie twyfel kom na vore in die uitleef van hul geloof. Hulle het God nie geëer nie soos blyk uit die kwaliteit van die offers wat hulle aan God gebring het (v. 7-8).

God herinner egter die volk aan sy onwankelbare verbondsliefde. Ten spyte daarvan dat Hy ’n groot Koning is wie se Naam selfs onder die heidene gedug is (v. 15), het Hy Jakob i.p.v. Esau as sy eiendom verkies (v. 2-3). Jakob wat nie eens die eersgeborene was nie en daarby nog ’n hakskeengryper ook, is gekies! Dat God Israel as sy volk gekies het, wys onteenseglik hoe groot sy liefde en barmhartigheid teenoor hulle is, aangesien hulle geen inherente kwaliteite gehad op grond waarvan Hy hulle gekies het nie. Uiteindelik bevestig God hierdie liefde wanneer Paulus ons herinner: God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8).

Wie gedurig bewus is van die onverdiende genade van God se liefde, kan nie halfhartig daarop reageer nie. God se opregte liefde ontlok ’n opregte reaksie. Dit vra nie halfhartige gehoorsaamheid en gedwonge pligpleging nie, maar dat ek God met my hele hart, my hele siel en met al my krag en verstand sal liefhê.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 18

Here, maak my só bewus van u opregte liefde, dat ek opreg kan antwoord. Amen.

Mal. 1:1-14

Ges. 57:1, 4, 5