… Kyk, daar kom ’n Man wie se Naam is Spruit … (Sag. 6:12).

Die laaste naggesig toon sterk ooreenkomste met die eerste. Buiten vir die perde, is daar egter nou ook strydwaens teenwoordig. Hierdie vier perde verteenwoordig God se boodskappers wat die aarde deurkruis en sy heerskappy tot aan die uithoeke daarvan proklameer. Hy is immers die Here van die ganse aarde (v. 5). Die strydwaens bevestig sy militêre mag en heerskappy. Hy regeer selfs in die noordland vanwaar die magtigste heidennasies kom – dáár het sy Gees tot rus gekom (v. 8).

Die visioen word afgesluit met ’n Godspraak. Die engel roep na Sagaría. Só ’n harde uitroep gaan gewoonlik ’n baie plegtige verklaring vooraf. Hy gee opdrag dat Sagaría ’n pragtige kroon moet maak uit die silwer en die goud wat die ballinge met hul terugkeer uit ballingskap saamgebring het. Hierdie kroon moet hy neem en op die kop van Josua, die hoëpriester plaas. Josua word egter nie as koning gekroon nie. Uit die woord van die engel is dit duidelik dat hierdie daad simbolies is en vooruit wys na ’n man wat sal kom, wie se naam is Spruit (v. 12). Die volk word aangemoedig om hul oë na die toekoms op te slaan. “Spruit” was ’n Messiaanse titel (vgl. Jes. 4:2; Jer. 23:5 en 33:15) en verwys na die komende Messias. In Hom sou hierdie twee ampte, koning en hoëpiester, verenig word.

Tydens Advent roep ons weer die redes vir Christus se koms voor oë. Hy het na die aarde gekom om as Koning oor die sonde en die dood te regeer, maar ook om die ewige losprys vir ons sondes te betaal deur Homself as die volmaakte Offer op Gólgota te offer. Voorwaar, Hy is ons ewige Hoëpriester volgens die orde van Melgisédek (vgl. Hebr. 6:20)!

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 9

Here Jesus, ek aanbid U as die Priesterkoning! Amen.

Sag. 6:1-15

Ges. 86:1-3

Ware aanbidding

… Spreek ’n eerlike vonnis uit … bewys liefde en barmhartigheid … (Sag. 7:9).

Om los te breek van ’n godsdienstige sisteem waarin al die aandag op inhoudlose rituele eerder as op ’n lewende verhouding met God geval het, was een van die dinge wat 500 jaar gelede aanleiding tot die Reformasie gegee het. Ons moet egter voortdurend versigtig wees dat ons nie maar net vir hierdie vorm van godsdienstigheid ’n Protestantse baadjie aantrek nie.

Die ballinge wat agtergebly het, stuur boodskappers na dié wat te­rug­gekeer het (v. 2-3). Hulle moes kom seker maak oor die vastye sodat hulle aanbidding in Babel en die aanbidding van die teruggekeerdes darem ooreenstem. Die Here wil egter weet waaroor dit regtig vir hulle in hul aanbidding gaan: Het julle werklik ter wille van My gevas? Hy herinner hulle daaraan dat ware aanbidding nie net uit heilige rituele bestaan nie, maar ook uit ’n heilige lewenswandel. Om hierdie rede moedig God hulle aan om eerlik te wees in die regspraak, liefde en barmhartigheid aan mekaar te bewys, die weduwee, wees en vreemdeling nie te verdruk of om kwaad teenoor mekaar te bedink nie.

Waar dit meer gaan oor die korrekte “vorm” van aanbidding as oor die uitleef van ’n mens se geloof, daar is ons besig met inhoudlose rituele – al is dit Protestantse rituele. As kerke van Jesus Christus moet ons onsself gedurig afvra of ons heilige rituele bevestig word deur ’n heilige lewenswandel wat in ’n toegewyde lewe geopenbaar word. Waar ons nie mekaar liefhet nie, waar ons oneerlik is of nie omgee vir die weduwee, wees en vreemdeling nie, daar is ons besig met ’n nuttelose vormgodsdiens. Christus het immers gekom om ons lewens te verander sodat ons God met ons hele wese kan liefhê en ons naaste soos onsself.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 10

Vader, help my geloof om vrug te dra! Amen.

Sag. 7:1-14

Ges. 64:1-2