Die wêreld … (haat) My, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is! (Joh. 7:7).

Soos tipiese politieke raadgewers, moedig die Here Jesus se broers Hom aan om na die Huttefees op te gaan. As Hy naam wil maak, as Hy raakgesien wil word, is strategiese openbare verskynings soos hierdie baie belangrik. Die Here Jesus weier egter om na hulle te luister, want Hy het nie gekom om politieke speletjies te speel nie, maar om die wêreld van hulle sondes te verlos.

Die Here Jesus maak dit duidelik dat die wêreld boos is en dat Hy gekom het om daarvan te getuig, m.a.w. om hierdie boosheid te ontbloot. Dit is belangrik, want om gered te word, is dit in die eerste plek nodig om te besef hoe verlore en sondig jy is. Wie sy eie boosheid ignoreer, gaan nooit dink dat hy ’n Verlosser nodig het nie (vgl. Mt. 9:12). Die Here Jesus ontbloot selfs die boosheid van sy eie broers. Wanneer Hy sê dat die wêreld hulle nie kan haat nie, impliseer Hy eint­lik daarmee dat hulle deel van hierdie bose wêreld is. Hulle boosheid lê daarin dat hulle die Here Jesus slegs vir hul eie gewin wou misbruik. Toe Hy later wel na die fees opgaan en in die sinagoge leer, was selfs die geestelike leiers se vyandigheid tasbaar.

Die evangelieboodskap ontbloot altyd die boosheid van hierdie wêreld. Daarom haat die wêreld dit en staan vyandig daarteenoor. Kinders van die Here moet ook nie verbaas wees as die wêreld hulle haat nie, want dit bevestig juis dat hulle nie meer deel van die sondige wêreld is nie (vgl. Joh. 15:18-19). Wanneer die wêreld egter gemaklik is met jou leefwyse en jou getuienis, is dit dalk tyd om jou eie geloofwaardigheid as kind van God te herevalueer.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 4

Vader, gebruik ook my lewe en getuienis om die boosheid van die wêreld te ontbloot. Amen.

Joh. 7:1-53

Ps. 56:1, 3

Leraar van geregtigheid … daarmee sal die diewe … en meinediges hiervandaan weggeruim word (Sag. 5:3).

Die naggesigte in hoofstuk 5 moet nie los van die gesigte in die vorige hoofstuk gelees word nie. Daarin sien Sagaría onder meer twee olyfbome wat dui op twee gesalfdes van die Here. In die historiese konteks dui dit op die Dawidiese prins, Serubbábel en die hoëpriester, Josua. Eersgenoemde was verantwoordelik vir die herbou van die tempel en laasgenoemde moes die offerdiens waarneem ooreenkomstig die opdrag van die Here. Dit kyk egter ook verder vooruit en laat die volk iets verstaan van die karakter van die komende Messias.

In die sesde en sewende naggesig wys die engel vir Sagaría hoedat God met die goddeloosheid onder sy volk en uiteindelik in die wêreld sal afreken. Hy is bewus van alle boosheid. Dit is opgeskryf in ’n boekrol en in die sewende gesig word die goddeloosheid voorgestel as ’n vrou. Soos boosheid ook dikwels versteek is, is sy in ’n efa versteek [dit is ’n houer (ongeveer 36 liter) waarmee graan afgemeet word]. Die boosheid word egter ontbloot en weggevoer na die land Sínear (Babel) waar sy hoort.

Wanneer die Ou-Testamentiese profete oor die koms van die Messias profeteer, sien hulle veral uit na ’n vredesryk sonder boosheid of ongeregtigheid. Die taak van die Dawidiese koning was juis om te sorg dat daar geregtigheid (d.m.v. wetgewing) in die land is, terwyl die priesters die geregtigheid moes toepas. Hierdie twee ampte waarna die olyfbome verwys, het uiteindelik in die Here Jesus tot vervulling gegaan. Hy is immers die Leraar van geregtigheid en deur sy oorwinning aan die kruis sorg Hy dat alle boosheid en onreg uit sy kinders verwyder word. As ons dus ’n volhoubare oplossing soek vir die onreg en goddeloosheid wat ons omring, is daar maar net een antwoord: Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 8

Onse Vader wat in die hemel is, laat u koninkryk kom. Amen.

Sag. 5:1-11

Ps. 37:1, 5, 6, 7, 12