Hulle silwer of hulle goud sal nie … red nie … (Sef. 1:18).
Mense in eerstewêreldlande redeneer dikwels dat hulle nie geloof nodig het nie. Hulle persoonlike rykdom en die voorspoed van die land gee hulle toegang tot goeie sekuriteit, die beste mediese sorg, die beste opvoeding vir hulle kinders en ’n gemaklike leefstyl. Daarom beskou hulle dikwels geloof as iets primitief of derdewêrelds. Hulle reken dat hulle nie hul hoop hoef te stel op die beskikking of voorsiening deur ’n bonatuurlik wese nie, aangesien hulle in staat is om self te voorsien in daardie behoeftes waarvoor derdewêreldse mense ’n god nodig het.
Hulle is soos die mense teenoor wie God sy profesie uitspreek in hierdie eerste hoofstuk van Sefánja. Hulle uitkyk is: Die Here doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie (v. 12). Met ander woorde daar is nie regtig ’n God wat in beheer van alles en almal is nie. Daar is nie regtig ’n bonatuurlike Wese wie se heerskappy die gang van die geskiedenis en natuurlik ook van my lewe, beïnvloed nie. Hulle maak staat op hulle eie vermoëns en rykdom om vir hulle sekuriteit te bied.
God waarsku egter dat daar ’n dag van afrekening sal wees – die dag van die Here (v. 14). Met deeglikheid en presisie sal God die wêreld deursoek na hulle wat hul vertroue in ander dinge as in Hom geplaas het. Dit sal ’n verskriklike dag wees wat niemand sal kan vryspring nie; ’n dag waarop niemand se silwer en goud in staat sal wees om hulle van die grimmigheid van die Here te red nie. Slegs Hy wat sy vertroue stel in Jesus Christus wat reeds in ons plek die grimmigheid van God verduur het, sal hierdie oordeel vryspring. Elke knie sál buig, eerstewêrelds of derdewêrelds – sommige in vrees en ander in aanbidding!
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 23
Vader, U alleen is my rotsvesting! Amen.
Sef. 1:1-18
Ps. 146:2
Vrede vir julle! … Vrede vir julle! (Lk. 24:36).
“Genade, barmhartigheid en vrede word ryklik aan u geskenk van God onse Vader en Jesus Christus ons Here.” Só groet die Here ons elke Sondag. Weens die bekendheid van hierdie groetwoord gaan die betekenis daarvan dikwels by ons verby. Die drie woorde van ons teksvers bevat egter die kern van die evangelie. Sonder vrede sal geen verlossing moontlik wees nie.
Die sondeval het vyandskap gebring tussen God en mens. Die mens het in die greep van die sonde en die dood verval sodat hy nou van nature geneig is om God en sy naaste te haat. God stuur egter die Here Jesus na die aarde om hierdie vyandskap tussen Hom en die mens te verwyder. Christus betaal aan die kruis vir ons ongeregtighede en wis ons rekords uit sodat ’n nuwe verhouding met God moontlik is vir die wat in Hom glo – ’n vredesverhouding. Sy groetwoord aan sy dissipels is dus ryk aan betekenis, want dit bevestig dat Hy sy sending suksesvol afgehandel het. Indien Hy egter nie liggaamlik opgestaan het uit die dood nie, sou dit beteken dat die dood Hom steeds in sy greep het en dat die houvas daarvan op die mens se lewe gevolglik nie verbreek is nie. Daarom dring Christus daarop aan om saam met die dissipels te eet sodat hulle seker kan wees dat Hy liggaamlik opgestaan het. Die dood en die sonde, dit wat onvrede veroorsaak, is inderdaad oorwin. Daarna lê Hy ook vir hulle die Ou Testament uit sodat hulle kan begryp dat Hy inderdaad die Vredevors is waarvan die Skrifte getuig.
Die dissipels kry opdrag om van hierdie vrede, hierdie herstelde verhouding, teenoor die wêreld te gaan getuig (v. 46-47). Getuig jou lewe van ’n nuwe verhouding met God? Leef jy in vrede met Hom deur sy wil te gehoorsaam en jou naaste lief te hê soos jouself?
Bykomende Skrifgedeelte: Sef. 2
Dankie, Here, dat U vrede gee. Amen.
Lk. 24:1-53
Ges. 172