… ’n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande (Nah. 1:2).
Anders as Jona wat God se oordeel oor Ninevé direk aan die Nineviete moes oordra, kry Nahum opdrag om hierdie oordeelsaankondiging aan Juda bekend te maak. Toe Samaría, die hoofstad van die Noordryk, in 722 v. C. slagoffer van die onderdrukker geword het, het die Assiriese bedreiging tot op die voorstoep van die Suidryk gekom. Hulle was vreesbevange en het bemoediging nodig gehad.
Nahum word na Juda gestuur om God se volk, ook dié in ballingskap, te bemoedig. ’n Wreker is die Here (v. 2), Hy laat geen onreg ongestraf bly nie (v. 3), niemand kan standhou voor sy grimmigheid nie (v. 6), Assirië sal afgemaai word en vergaan (v. 12). God se volk word bemoedig met die boodskap dat God die onreg sien en dit sal vergeld. Uiteindelik is die magtige Assirië in 612 v.C. op sy knieë gebring met die verwoesting van Ninevé.
Daar is egter meer aan hierdie profesie. Ten diepste kondig God sy oordeel aan oor almal wat sy volk onderdruk. Op Gólgota wreek God Hom op die wêreldheerser van hierdie eeu wanneer Hy sy kop vermorsel sodat sy kinders bevry kan word uit die ballingskap van sonde. Die voltrekking van God se oordeel op Gólgota wys dat God se wraak ten diepste oor die vernietiging van die bose gaan en nie net beperk is tot sy agente nie.
In ’n tyd waar God se kinders toenemend blootgestel word aan onreg, verdrukking en vervolging, dien die boodskap van God se oordeel ook vir ons tot troos. Dit rig ons oë hoopvol op die toekoms wanneer Christus sal terugkeer om finaal met Satan en al sy bose magte af te reken en die onreg teen sy kinders te wreek.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 17
Mag die sekerheid van u komende oordeel ons oë hoopvol op die toekoms gerig hou, Here. Amen.
Nah. 1:1-15
Ps. 48:1, 5
Siendes blind en blindes sien … Jesus, seun van Dawid, wees my barmhartig (Lk. 18:38).
Perikope (gedagte-eenhede) versluier soms die bedoeling van Bybelskrywers. Dit is eers wanneer jy die twee laaste perikope (v. 31-43) saam lees dat die krag van Lukas se boodskap jou na jou asem laat snak. Lukas kies om die verhaal van die blinde van Jérigo juis hiér te plaas omdat dit so kontrasterend is met die reaksie van die dissipels op die Here Jesus se voorspelling van sy lyde.
Christus is besig om sy dissipels voor te berei op sy lydensweg as Messias. Hulle begryp dit egter nie omdat die woord vir hulle bedek was (v. 34). Hoewel daar niks fout was met hulle oë nie, was hulle nie in staat om die onsienlike te sien nie. Hulle skeefgetrekte messiasbegrip waarvolgens hulle ’n triomferende, charismatiese, militêre leier verwag het wat hulle polities sou bevry, het hulle verhoed om Hom te herken vir wie Hy regtig is.
Die optrede van die blinde man van Jérigo is egter die keersy van die dissipels se optrede. Hy was dalk blind, maar tog “sien” hy wat die siendes nie kan sien nie. Hy herken Jesus as die Christus – die Gesalfde van God. Daarom roep hy Hom aan as die “seun van Dawid”. Die Here Jesus genees hom. Hy vernietig die effek wat die sondeval op sy sig gehad het.
Ons verwagtinge en vooropgestelde idees verblind ons dikwels sodat ons nie die Here Jesus sien vir wie Hy werklik is nie. Vir baie van ons is Hy ook maar net ’n towerstaffie en wonderwerker wat ons probleme moet oplos en ons van bekommernis moet vrywaar. Dit is egter nodig dat ons eerlik sal wees oor die effek van die sondeval op ons lewens. Eers wanneer jy die blindheid in jou eie lewe herken, sal jy om die regte redes na die Here Jesus uitroep!
Bykomende Skrifgedeelte: Nah. 2
Here, wees my sondaarmens genadig. In Jesus se Naam. Amen.
Lk. 18:1-43
Ges. 11:1-2