Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die Here dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie? (Mig. 2:7).
In die vorige hoofstuk was die boodskap van Miga teen Juda en Samaría; nou word dit ’n waarskuwing aan diegene met mag wat planne van onreg bedink; wat die Here se boodskap wil stilmaak, valse profete, rowers, diewe – vir hulle is daar geen plek onder die kinders van die Here nie. As gevolg van hulle sonde gaan Hy ’n onherstelbare verwoesting onder sy volk aanrig.
Die Here is die God van oordeel oor die ongehoorsames: hulle plek is in die poel wat brand met vuur en swael (Openb. 21:8). Maar Hy is ook die God van genade: Daar sal ’n klein oorblyfsel van gehoorsames wees. Vir hulle stuur Hy die Herder van Betlehem om hulle bymekaar te maak soos skape in ’n kraal; soos ’n kudde in die weiveld onder die altydwakende oog van die groot Herder. Hy sal die skaar van gelowiges dra en veilig lei; en dit sal wees: een kudde, een Herder; altyd in die spore van geregtigheid na die ewige Jerusalem. Daar sal hulle aansit by die feesmaal van die Lam, vir ewig in sy teenwoordigheid.
Christus roep vir Hom ’n geloofsvolk bymekaar. Op iemand wat bely dat hy ’n Christusgelowige is, rus daar ’n dure verpligting. Ons kan nie sê dat ons deel van die Godsvolk is, maar dan wil ons lewe soos die wêreld vra nie. Ons is briewe van Christus wat aan die wêreld van sy genade vertel. Sy gesindheid moet in elke gelowige heers.
Hy roep ons tot berou. Lewe dan soos kinders van die lig.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 11
Leer my om in gehoorsaamheid te lewe soos dit ’n kind van U betaam, Here. Amen.
Miga 2:1-13
Ges. 74:1, 4
Nag oor die huis van God
Verder het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes oor die huis van Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie? (Mig. 3:1).
Weet julle dan nie wat reg is nie, vra Miga vir die leiers van die volk. In die antieke tyd was die regerende en regsprekende gesag in die tempel gevestig. Nou kom die oordeel van God oor die leiers van die volk wat tog moet weet wat reg en wat verkeerd is: Dan sal hulle die Here aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg … (v. 4).
Hulle weet, maar doen dit nie. Daarom sal die Here die regeerders nie antwoord nie en sal die son oor die profete onder gaan: Want die tyd is daar dat die oordeel van God moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is … (1 Petr. 4:17). God straf sy volk omdat hulle weet om reg te lewe, maar hulle hart is ver van Hom af.
Kan ons vinger wys? Is ons onbesproke? Of word daar met reg vingers na die kerk gewys wanneer leiers in die kerk vandag verwys na Christus as nie die Seun van God nie, of dat alle godsdienste na dieselfde hemel lei, of dat alle gode maar net afbeeldinge is van die een ware God? Ons weet mos dit is nie waar nie.
Nog nader: Is my lewe ’n preek oor die Here Jesus se genade? Hebreërs 10:26 leer: Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.
Hierdie gedeelte roep elke Christusgelowige tot ernstige selfondersoek.
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 12
Here, laat my lewe tot u eer, oral en altyd ’n gestuurde. Amen.
Miga 3:1-12
Ges. 101:1