… omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge … losgekoop is uit julle ydele lewenswandel … nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos … 
(1 Petr. 1:18, 19); [HK So. 1 V/A 1].

Dit is die mens se hartsbegeerte om vry en onafhanklik te wees, maar hy kan dit nooit wees nie. Eva het ook gereken sy kan vry wees deur die verbode vrug wat so onskuldig en aantreklik gelyk het, te eet. Sy was egter net ’n speelbal en slagoffer van ’n mag wat baie groter as syself was en haar ’n valse vryheid voorgehou het en haar van haar vryheid beroof het.

Volgens die Kategismus is daar twee magte waaraan ek kan behoort, nl. die heerskappy van die duiwel of my getroue Saligmaker, Jesus Christus. Ek kan nie aan myself behoort nie, want ek is geen mag nie, maar ’n onmag. Ek kan my wel verbeel dat ek by magte is om iets te vermag, net om aan die einde wel tot die besef te kom dat ek nie die hoofspeler in my lewe was nie, maar wel die speelbal.

Die troos vir die kind van God in ’n magtelose posisie is geleë daarin dat hy vrygekoop is van die mag van die duiwel. Die apostel herinner sy medegelowiges: Julle is duur gekoop (1 Kor. 7:23). Hier verneem ons ’n klank van voldaanheid, nl. ek is Goddank vir ewig bevry van my jarelange skuldlas. Ek is verlos deur die offer van Jesus Christus.

Dit moet my, as begenadigde en verloste sondaar, lei tot ’n onkeerbare dankbaarheid wat nie anders kan as om van(uit) hierdie verlossing te getuig nie! Dit is tog onmoontlik vir iemand om hieroor te swyg en sou dit wel die geval wees, getuig die Here Jesus self … sal die klippe [dit] uitroep (Lk. 19:40).

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 16:24-28

Gebed: Neem my nog meer in besit, Here. Amen.

1 Petr. 1:13-25

Ges. 14:1, 2

Tweede getuienis: Hy bewaar

Wat van die begin af was, wat ons gehoor het … aangaande die Woord van die lewe … ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees (1 Joh. 1:1, 4); [HK So. 1 V/A 1].

Die eerste getuienis van die opstellers van ons Kategismus leer ons dat ons verlos is deurdat ons vrygekoop is deur die kosbare bloed van ons Saligmaker, Jesus Christus.

Maar ons Saligmaker gaan nog verder. Ná die betaling en verlossing volg die bewaring sodat díé wat vrygekoop is, sy eiendom bly – net soos ’n boot wat op ’n sandbank geloop het tydens ’n verskriklike storm. Die skuld lê by die stuurman wat nie by die aanwysings van sy instrumente gebly het nie en seker was dat hy van beter weet. Met die storm en die onvermoë van die stuurman, raak die boot al stewiger vasgevang op die sandbank. Skielik, op een of ander onverklaarbare wyse, kom die boot los. Beteken dit nou dat die boot buite gevaar is terwyl die storm nog woed? Nooit! Die stuurman se selfvertroue is net so gehawend as die boot en eers as die ervare kaptein van die boot oorneem en met vaste sekerheid die boot na veilige, diep waters neem, sal die boot veilig wees.

Ons is die stuurman van ons lewensboot en ons dobber op die oseaan van sonde wat ons omring. Uiteindelik beland ons op die sandbank van die dood deur ons eie toedoen en dan kom Christus met sy on­ver­klaar­bare liefde vir ons en verlos ons, maar los ons dan nie net so nie, maar bewaar ons van die bose.

Wat ’n troos om te kan weet dat Hy verlos nie net nie, maar bewaar ook die werke van sy hande!

Bykomende Skrifgedeelte: Jud. 17-25

Gebed: Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord (Jes. 66:2). Amen.

1 Joh. 1:1-4

Ps. 16:1, 5