Aan die begin van die jaar maak Shaun Christie, senior student aan die Noordwes-Universiteit, opslae toe hy geskors is omdat hy kapsie gemaak het teen die LGBTQIA+-inhoud van ’n oriënteringsessie vir eerstejaarstudente. Hy betoog dat Christenstudente nie ’n veilige ruimte het om oor Christenskap te praat nie, terwyl gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word. Dit is maar net een voorbeeld van Christenstudente se toenemende isolasie en marginalisering op universiteitskampusse.
Die gemene deler van die tradisioneel Afrikaanse universiteite in Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom is dat hulle almal rondom teologiese skole ontstaan het. ’n Christelike onderbou met ’n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing was die “moederfondasie” van hierdie instellings. Vandag word teologiese fakulteite by hierdie instellings herbenoem om ruimte te maak vir ander godsdienstige oortuigings as eweknieë vir die Christelike godsdiens. Die tersiêre wêreld het verander. Jerusalem lyk nou soos Rome. Die tempel is vernietig en in die plek daarvan verrys, soos prof. Gerrit Smit dit later in hierdie uitgawe noem, ’n “multiversiteit” van afgodstempels waaruit verskillende (en dikwels teenstrydige) waarhede met sogenaamde akademiese integriteit verdedig en verkondig word. Die sekularisering van die samelewing word juis vanuit hierdie instellings gevoed.
Dit is hoe die hedendaagse tersiêre omgewing daar uitsien. Op ontnugterende wyse verstaan toegewyde Christenjongmense nou Christus se bedoeling met: … daarom haat die wêreld julle (vgl. Joh. 15:18-19). In eenvoudige Afrikaans sal ons sommer sê: Dit is leeuwêreld daarbuite. Die vraag is: Hoe bly ons staande in so ’n wêreld? Hoe bly jy in Rome sonder om ’n Romein te word?
Soek ’n Christelike alternatief
Op die vooraand van die ingebruikneming van die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys se hoofgebou, maak prof. JD du Toit (Totius) die volgende belangrike uitspraak: “Werklik, as dié inrigting [die PUK] sou moes opgehef word, wat moet ons dan begin? Net maar wéér een oprig – dit is al wat ons sou kon doen!”[1] Dit blyk profetiese woorde te wees, want ons betree inderdaad ’n tyd waarin dit vir ons nodig is om, soos Israel van ouds, die mure van Jerusalem te herbou en weer van vooraf die tempel op te rig.
Wanneer Jerusalem Rome begin word, moet alternatiewe geskep word wat stewig op die moederfondasies gevestig is. Dit verg visie en daadkrag, dit verg manne wat verder as die horison kan sien. Dit verg die vêrsiendheid van gelowige voorgangers. Om die rede is daar reeds in 1988 met eie teologiese opleiding by die destydse Teologiese Skool van die AP Kerk begin. Al moes hierdie instelling dikwels soos Noag die spot van mense verduur, was hulle inderdaad besig om ’n ark te bou. Vandag staan hierdie instelling bekend as die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Toe ander instellings die spoor begin byster raak, het die APA op die ou spore gebly met die doel om vanuit daardie spore, nuwe weë in ’n veranderde en vyandige wêreld te baan. Die fondasie van hierdie instelling is stewig gegrond in die klassieke Christelike tradisie.
In 2004 maak die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) sy deure oop met die doel om onderwysers aan die hand van ’n Christelik-gefundeerde kurrikulum en volgens ’n Christelik-Reformatoriese grondslag op te lei. In 2011 begin die Solidariteitbeweging met Akademia, ’n klassieke Christelike, Afrikaanse en onafhanklike hoëronderwysinstelling. Hoewel nie so volledig in die klassiek-Reformatoriese tradisie nie, identifiseer hierdie instelling homself wel as breedweg Christelik en Westers.
Al bevind ons ons tans in Rome, hoef ons nie aan die keiser uitgelewer te wees nie. Ons skep alternatiewe. Dit is nodig om hierdie alternatiewe uit te bou en te versterk as ons wil verseker dat ons kinders en kleinkinders nie oor ’n geslag of twee volbloed-Romeine is nie. ’n Romeinse afgodstempel hoef nie hul enigste keuse te wees nie.
Hoe lyk die fondasies?
Die fondasies van hierdie Christelike instellings moet valkoog bekyk word alvorens ons ons daarin begewe. Om “Christelik” deel van ’n instelling se benaming of identiteit te maak, is soms ’n handige bemarkingsfoefie. Vra maar vir ouers wat hul kinders in “Christelike” openbare skole sit en uiteindelik met ’n skok ontdek dat ’n sporadiese gebed of twee tydens ’n saalopening waarskynlik die somtotaal van die skool se Christenskap is!
Dit is soms makliker as jy weet die instelling is sekulêr, want dan is die vyand oop en bloot. Dit is egter baie moeiliker as jy met wolf in skaapsklere te doen het. Daarom moet die fondasies van Christelike instellings deeglik ondersoek en aan die Skrif getoets word. ’n Christelike instelling is nie veronderstel om kompromieë met Rome te sluit nie. Christenstudente moet daardie instellings uitsoek wat soos die gelowiges van ouds, bereid was om ten bloede en selfs tot die dood toe teen ‘n bloeddorstige Romeinse owerheid weerstand te bied. Soek daardie instelling wie se Christenskap diepgewortel is en wie se didaktiek deur ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing gekenmerk word. Soek vir meer as net ’n sousie – soek vir ’n volledige, fynproewersmaaltyd!
Sekulêre universiteit my enigste opsie
Soms is ‘n sekulêre, nie-Christelike instelling ongelukkig die enigste opsie. Dit hoef egter nie ’n doodsvonnis te wees nie, want dan weet jy sommer uit die staanspoor waarmee jy te doen het: ’n Vreemde en vyandige omgewing waarin jou standpunte nie noodwendig lugtyd gegun word nie. Jy gaan uitgedaag en bevraagteken word, maar ook hiervoor behoort ons gereed te wees. Ons word immers opgeroep om tydig en ontydig die Woord te verkondig (vgl. 2 Tim. 4:2) en van die hoop wat binne ons is, rekenskap te gee (vgl. 1 Petr. 3:15). Dit beteken egter wel dat jy op jou hoede moet wees vir die brullende leeu wat rondloop en soek wie hy kan verslind (vgl. 1 Petr. 5:8). Wat kan jy doen om nie leeukos te word nie? Michael Kruger gee die volgende raad:[2]
Oppas vir naïewe en oordrewe selfvertroue
Hierdie ingesteldheid kom gewoonlik voor onder studente wat in Christelike huise en ’n stabiele kerklike omgewing grootgeword het. Hulle is so vol selfvertroue dat wolf in skaapsklere hulle ontglip. Hulle dink hulle kan enige uitdaging en versoeking hanteer. Moenie naïef wees nie. Die wêreld daar buite is geestelik uitdagend.
Ouers, dink mooi hoe julle jul kinders vir studentetyd op ’n sekulêre universiteitskampus voorberei. Bemagtig hulle om ten minste die basiese vrae te kan beantwoord en oor die kernkonsepte van hulle geloof rekenskap te kan gee.
Wees versigtig vir onbeteuelde agterdog
Dit is die keersy van bogenoemde waarskuwing. Baie Christenstudente betree ’n sekulêre kampus met ’n tipe paranoia en selfs ’n slagofferkompleks – dat almal daarop uit is om hulle by te kom en te ondermyn. Dit is egter nie noodwendig die geval nie. So ’n benadering kan baie teenproduktief wees, want dit maak dat Christene altyd op die verdediging is, dat hulle oorsensitief is en nie graag na ander standpunte wil luister nie. So ’n ingesteldheid gaan die universiteitslewe baie moeilik maak en jou boonop van waardevolle geleenthede ontneem om jouself toe te rus en op te skerp ten opsigte van sekulêre standpunte.
Moenie alleen in die donker rondloop nie
Wanneer jou geloof nog in sy kinderskoene is, moet jy versigtig wees om alleen in die donker rond te loop. Bly in ’n groep en bly in die lig. Hoe doen jy dit? Kry ’n goeie kerk waar jou geloofsgrondslag versterk en uitgebou kan word, waar jy jou vrae kan vra en toegerus kan word. Omring jouself met Christenvriende sodat moeilike omstandighede nie jou getuienis laat wankel omdat jy onseker is nie, maar jy deur die skare getuies rondom jou versterk kan word.
’n Pleidooi
Ons jongmense is inderdaad uitgelewer, maar genadiglik laat God sy kinders nie uit sy hand ruk nie: Deur die vestiging van privaat Christelike instellings bou ons en bied ons weerstand. Die gevaar is egter groot dat elkeen van hierdie instellings maar net weer septer oor eie ryk wil swaai. Die tyd waarin ons leef, laat ons nie hierdie luuksheid toe nie. Ons het ’n unieke geleentheid om die oorwinning in Christus te leef sodat ’n beter alternatief gevestig kan word as wat die sekulêre staat bied – een waar Christus Koning is. Ons het die geleentheid om hande te vat en mekaar te versterk, sonder om afgunstig te kompeteer vir die guns van die keiser. Die vyand is daar buite en ons lê in dieselfde loopgraaf. Laat ons vestings binne-in Rome bou, bastions wat ons en ons kinders in staat stel om nie Romeine te word nie al bly ons in Rome.
_____________________
[1] JD du Toit, Totius Versamelde Werke Deel 4 (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1977), 109.
[2] https://ps.edu/3-dangers-to-avoid-as-a-christian-at-a-secular-university/