Die bekende Amerikaanse YouTube-sensasie verbonde aan die Daily Wire, Matt Welsh, het onlangs ’n baie interessante dokumentêr vervaardig met die titel: What is ’n woman? In ’n wêreld waarin daar weens al die genderpolitiek groot verwarring heers oor wat nou regtig “vrou” is, is dit ’n baie relevante vraag. Die oomblik as jy egter hierdie vraag vra, dan dwing dit jou ook om te vra: Wat is ’n man? Hoe sal ons in ons dag ’n ware man definieer?
Wanneer ons om ons kyk en sien hoe die wêreld besig is om mans as’t ware te “ontman”, raak dit ’n baie dringende vraag waarop ons blykbaar nie altyd die antwoord ken nie. Aan “man wees” kleef daar deesdae net soveel melaatsheid as aan wit wees. Terminologie soos “toksiese manlikheid” word gebruik om tradisionele sienings van man wees te beskryf. Natuurlik is daar sekere uitdrukkings van manlikheid wat met reg as toksies of dalk eerder “sondig” beskryf kan word, maar die probleem is dat ook sekere goeie aspekte van die tradisionele verstaan van man wees, deesdae as “toksies” beskryf word. Dit sluit homofobiese of anti-feministiese gedrag, wat oënskynlik uit ’n sekere optrede af te lei is, in. Selfs iets soos ’n sterk persoonlikheid en die natuurlike geneigdheid om leiding te neem, word onder hierdie gemene deler geplaas.
Een van die redes waarom ons hierdie skeefgetrekte idees oor manlikheid kry, is omdat ons in ’n wêreld leef waarin feministe toegelaat word om, vanuit ’n posisie van absolute weersin en vyandigheid, te bepaal wie en wat ’n man behoort te wees. Patriargale sisteme en manlike hoofskap word só gekritiseer, dat ware manlikheid deesdae ’n baie vroulike, onderdanige en swak gestalte aangeneem het.
Dit skep natuurlik spanning, want daar is ’n natuurlike aanvoeling dat dinge nie reg is nie. In Novembermaand groei mans hul snorre en baarde as deel van ’n bewusmakingsveldtog vir manlike gesondheidsprobleme. Tog sien ’n mens deesdae baie meer mans met baarde rondloop. Dit mag dalk deur baie as ’n modegier beskryf word, maar dalk is dit ’n manier om weerstand te bied teen ’n samelewing waarin mans nie meer toegelaat word om mans te wees nie. Dit is ’n uitdrukking van onderdrukte frustrasie. Dit roep uit: Ek is anders, so laat my toe om anders te wees!
Die probleem is egter dat, buiten vir baarde en snorre, baie van ons nie meer weet wat dit is om waarlik ’n man te wees nie en sodoende in die hand speel van hulle wat krities oor man wees is. Ons dink om met kakieklere en wys-jou-vleis-broekies rond te loop, van ons manne maak. Ons dink om, daar waar niemand ons kan sien of kan hoor nie, ons vrouens te verneder of te verskree asof hulle blote voorwerpe is, van ons mans maak. Ons leer ons seuns dat ware man wees beteken dat jy voor jy uit matriek is, darem al saam met ’n meisie moes slaap. Hoe meer jy kan drink, hoe harder jy partytjie kan hou en hoe hoër onder die rok in jy kan praat, hoe “manliker” is jy. Partykeer gaan ons darem so ver as om te sê: As jy ’n goeie werk het of getroud is, dan is jy ’n man.
Ongelukkig werk die vroulike geslag se optrede hierdie verwarring dikwels in die hand. Die opkoms van feminisme en die gelykheidsbeweging wat eis dat mans en vroue gelykgestel word, lei daartoe dat al hoe meer meisies deesdae nie eintlik mans soek wat sterk leiding neem of standpunt inneem nie. Hulle wil nie “oordonder” word nie, maar in der waarheid wil hulle nie “gelei” word nie. Die wêreld het Adams nodig wat bereid is om vir Eva te sê om nie van die boom in die middel van die tuin se vrugte te eet nie. Helaas! Die wêreld soek Adams wat gedwee die verbode vrugte uit Eva se hand neem omdat hy nie haar gevoelens wil seermaak nie.
As gelowiges moet ons versigtig wees dat ons nie God se reg om ons te definieer aan die wêreld afstaan nie. Wat ons samelewing nodig het, is ’n manlikheid wat die heerlikheid van God, ons Vader weerspieël. In 1 Konings 2:2-3 gee Dawid sy laaste bevele aan Salomo kort voordat hy sterf:
Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word ’n man; en onderhou die ordening van die Here jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe …
“Word ’n man,” is Dawid se opdrag. Die eerste afleiding wat ons maak, is dat volwassenheid nie noodwendig dieselfde is as om ’n man te wees nie. In dié opsig is daar baie seuns wat meer man is as baie volwasse mans. Dawid sit hierdie manlikheid uiteen:
Die eerste karaktereienskap van Bybelse manlikheid, is om sterk te wees. Dit gaan nie oor fisieke krag nie, maar ’n innerlike krag. Dit het te doen met standvastigheid, om te staan vir die dinge waarin jy glo en integriteit. Dit gaan daaroor om ferm te wees oor beginselsake en om die moed te hê om onder druk op te staan en te doen wat reg is. Dit sluit ook in om sterk te staan en jou nie deur jou vleeslike begeertes te laat oorheers nie.
Ironies genoeg gaan hierdie krag met ’n sekere soort swakheid gepaard – om swak te wees voor God en deur sy krag in Christus oorweldig te word. Sy krag word immers in ons swakheid volbring. ’n Ware man is dus swak voor God, maar sterk teenoor die wêreld. ’n Ware man weet sy krag lê nie in homself of sy eie vermoëns nie. ’n Ware man weet dat sy manlikheid nie bepaal word deur sy prestasies, sy geld, sy haarstyl of sy kleredrag nie, maar deur sy verbintenis aan Jesus Christus.
Die tweede karaktereienskap wat Dawid hier noem, is gehoorsaamheid aan God se wil soos wat Hy dit in sy Woord aan ons bekendmaak. Dit gaan gepaard daarmee om te staan vir wat reg is volgens God se Woord. Daarom hanteer ware mans vroue met respek en het hul eie vrouens lief, soos Christus die gemeente liefhet. ’n Ware man neem gehoorsaam sy verantwoordelikheid op om sy kinders in die vrese van die Here groot te maak. ’n Ware man sorg nie net materieel vir sy gesin nie, maar ook geestelik. ’n Ware man is self iemand van inbors en ’n voorbeeld van Godvresendheid, omdat hy hom neerbuig voor die Koning van alle konings.
’n Man is nie ’n man net omdat hy ’n snor of ’n baard het nie, maar omdat God hom so gemaak het. ’n Man is egter eers waarlik man in die volle sin van die woord, wanneer hy in nederigheid die HERE vrees.