Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die vrou in die amp

Marguerite Brink 

Wanneer daar oor die rol van die vrou in die gemeen­te besin word, noop dit ons om vanuit die Woord van God te verduidelik hoekom die AP Kerk nie vrouepredikante en –ampsdraers toelaat nie.

 

Skepping en sondeval

Met die skepping het ons die unieke voorreg om te sien hoe God bedoel het dat die verhouding tussen man en vrou moet wees.

  • Die vrou is die man se gelyke, want sy pas by hom; been van sy gebeente, vlees van sy vlees en die enigste een wat die verlange en eensaamheid in sy hart kan vul (Gén. 2:18-25).
  • Terselfdertyd is die man hoof van die vrou omdat hy eerste geskape is (vgl. ook 1 Tim. 2:13). Verder is die vrou uit die man se vlees vir die man geskape as sy hulp (Gén. 2:18-22). Net soos die man aan die diere hul name gegee het, gee hy aan die vrou háár naam (Gén. 2:23) en neem hy inisiatief, met sy vrou aan sy sy, om ’n nuwe huishouding te inisieer (Gén. 2:24).

Beide man en vrou is geskape na die beeld van God, wat daarop dui dat man en vrou gelyke waarde dra (Gén. 1:26-28). Die man as leier en hoof en die vrou as sy ondersteuner en helper bepaal dus nie hulle waarde nie, maar definieer wel die rol waarvoor God elkeen geskape het. Albei het gawes, maar vir verskillende rolle.

Met die sondeval (Gén. 3) word die rolverdeling omvergegooi: Die vrou ontneem die man sy hoofskap, lei hom in die sonde in en die man laat haar dit toe.

Alhoewel die vrou ook gesondig het, eis God rekenskap van die man (Gén. 3:9), want as hoof dra hy primêre verantwoordelikheid (vgl. ook Paulus se hantering hier­van in Rom. 5:21-22). Met die straf neem God steeds die verskillende rolle van die man en vrou in ag:

  • As moeder en helper, is die vrou uitgelewer aan pyn gedurende geboorte en aan die strewe om oor die man te heers (vgl. Gén. 3:16).
  • Die man se arbeid sal ná die sondeval met groot moeite plaasvind.

 

Efésiërs 5:22-33

In hierdie gedeelte raak Paulus die verhouding tussen man en vrou aan deur te verwys na die skeppingsgebeure en dit te vergelyk met die verhouding tussen Christus en die Kerk.

Die vrou moet in alle aspekte van die lewe aan haar eie man onderdanig wees en eerbied betoon, soos die Kerk aan Christus onderdanig is (vgl. ook Kol. 3:18). Die man is hoof van sy vrou, soos Christus die hoof van sy Kerk is. Net soos Christus Homself vir die Kerk oorgegee het, moet die man se liefde aan sy vrou gekenmerk wees deur onophoudelike diens en opoffering tot die voordeel van sy vrou. Net soos die man sy eie liggaam koester en versorg, moet hy ook sy vrou koester en versorg. So koester Christus ook sy Kerk.

Daar waar die man sy eie vrou liefhet en sy vrou binne die huwelik gewillig onder sy leiding en hoofskap staan, is dit ’n getuienis en weerspieëling van Christus se liefde vir sy Kerk en die Kerk se gewilligheid om Christus se hoofskap oor haar te bely en te aanvaar (Efés. 5:23-24, 32).

 

Pastorale briewe

In die pastorale briewe gebruik Paulus dieselfde begin­sels as in Efésiërs 5:22-33 en pas dit op die gemeente toe. Hy skryf: ... dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God ... (1 Tim. 3:15). Die plaaslike gemeente is dus net ’n gro­ter huisgesin – ook met ’n Hoof, regeerders en hulp. Chris­tus as Hoof regeer sy Kerk deur opsieners/ouderlinge.

Die ouderling moet ’n man van een vrou wees wat sy eie huis goed regeer (1 Tim. 3:1-7). So verbind die gesinstruktuur van Efésiërs 5:22-33 direk met die gemeentestruktuur. Waar ’n man nie hoofskap in sy huis toepas nie, kan hy nie as ouderling in die gemeente staan nie. Daarteenoor word die vroue beveel om nie oor die man te heers of aan die man onderrig te gee in die plaaslike gemeente nie (1 Tim. 2:12) en haar eerder in stilte en onderdanigheid te laat leer (1 Tim. 2:11, vgl. ook 1 Kor. 14:33b-35). Die sinskonstruksie van 1 Timótheüs 2:11-12 skep die indruk dat “onderrig gee” en “heers” op twee verskillende sake dui, naamlik die leeramp (d.i. predikantsamp) en die regeeramp (d.i. ouderlingsamp) onderskeidelik. Net soos in Efésiërs 5:31, pas Paulus die skeppingsorde en die gebeure van die sondeval op die gemeentelike lewe toe (1 Tim. 2:13-14, vgl. ook 1 Kor. 14:34).

In Titus 2:3-5 gee Paulus aan Titus die opdrag om volwasse, godsvresende, ouer vroue te beveel om jonger vroue te leer (d.i. bemoedig, adviseer en vermaan). 1 Timóthéüs 2:11-12 het dus nié ten doel om die vrou van alle voorregte om onderrig gee, te ontneem nie, maar beperk slegs waar en aan wie sy mag onderrig gee (d.i. nie binne die erediens aan mans nie).

 

Vertoon Christus!

In die Godgegewe rolverdeling tussen mans en vroue bestaan die wonderlike rykdom om iets van Jesus Christus te vertoon. Alhoewel die Vader, Seun en Heilige Gees in die Drie-Eenheid gelyk is (Filip. 2:6), het die Seun die gestalte van ’n onderdanige dienskneg aangeneem (Filip. 2:7-8) om die wil van sy Vader te doen (Joh. 5:30). Vroue wat met onderdanigheid aan hul eie mans en die ouderlingraad die wil van die Vader doen, vertoon die wyse waarop Jesus Christus sy Vader gehoorsaam was. Mans, daarteenoor, vertoon Christus, wat deur sy sterwe aan die kruis, kom leer het dat liefde en hoofskap beteken om jou lewe op te offer vir dié wat jy liefhet (Efés. 5:22-33). Beide hierdie kenmerke van Jesus Christus is belangrik, omdat Hy beide die lydende Dienskneg, sowel as die oorwinnende Koning is. Die getroue uitlewing van béide mans en vroue in hul onderskeie rolle as hoof en hulp is nodig om die prentjie van Jesus Christus ten toon te stel. Ná sy oorwinning is Christus verheerlik as Hoof van sy Kerk – soos die man die hoof is van die vrou.

 

Enkele verdere opmerkings

Gereeld word daar na vroue soos Hulda (2 Kon. 22:14-20), Debóra (Rigt. 4:4-5), Anna (Lk. 2:36-38), Filippus se vier dogters (Hand. 21:9), Priscílla (Hand. 18:26, Rom. 16:3), Fébé (Rom. 16:1)1 en Júnias (Rom. 16:7) as voorbeelde verwys waar vroue wel betrokke sou wees by besondere bediening binne die gemeentelike lewe.

  • Beide Hulda (2 Kon. 22:14-20) en Debóra (Rigt. 4:4-5) is voorbeelde van profete in die Ou Testament wat aan mans geprofeteer het. Hulle het dit egter nie in die openbaar gedoen nie, maar word in privaatheid deur Barak en afgevaardiges van Josia onderskeidelik, geraadpleeg. In die geval van Debóra sou dit blyk asof Barak reeds die opdrag van God ontvang het (Rigt. 4:6), maar geweier het om daarna te luister. Die feit dat God dan juis ’n vrou na hom stuur, wys ook op die vervallendheid van die volk op daardie stadium. Verder eien Debóra haarself nie die oorwinning of leierskap toe nie, maar profeteer juis dat Barak hierdie posisie moet beklee (Rigt. 4:6-7) en sing saam met hom ’n lied (Rigt. 5).
  • Sekere terme wat Paulus gebruik, soos “medewer­kers” (o.m. Rom. 16:3) en “dienares” (o.m. Rom. 16:1) is te vaag om die wese van hierdie bedieningsvelde voldoende te beskryf. Daarom moet duidelike teksgedeeltes soos 1 Timótheüs 3:1-7; 2:11-15, 1 Korinthiërs 14:33b-36 en Titus 2:3-5 eerder toonaangewend wees in die nadenke oor die wese van vroue in die bediening.
  • Alhoewel Christus, as man, die finansiële onder­steu­ning en versorging van vroue tydens sy aardse bediening aanvaar en toegelaat het (Lk. 8:1-3), kies Hy twaalf manlike apostels (vgl. ook Hand. 1:15-26, met die vervanging van Judas Iskáriot).

 

Slot

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die rolverdeling tussen man en vrou duidelik in die skeppingsverhaal ingeweef is en nie net die gevolge van die sondeval is nie. Verder volg die patroon van vrouebediening in die Ou en Nuwe Testament, sowel as die Nuwe-Testamentiese skrywers hierdie rolverdeling na. In hierdie Godgegewe rolverdeling het beide man en vrou die voorreg om ’n deel van Jesus Christus aan die wêreld te vertoon.


Verdere leesstof: Recovering biblical manhood and womanhood: A Response to Evangelical Feminism. (1991. Wheaton: Crossway Books), onder die redaksie van J. Piper & W.A. Grudem, wat gratis afgelaai kan word by http://document.desiringgod.org/recovering-biblical-manhood-and-womanhood-en.pdf?1446647999.

 

TOP