Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die Franse Hugenote

Dr. Peter Hammond1

Ten spyte van hul klein getalle was die invloed van die Franse Hugenote op die Suid-Afrikaanse samelewing enorm. Die dapperheid waarmee hulle getrou gebly het aan hulle geloof, hul lydsaamheid onder beproewing en die offers wat hulle moes bring, is verbysterend.

 

Afrikaanse voorsate

Afrikaanse vanne soos Blignaut, De Klerk, De Villiers, Du Preez, Du Toit, Fourie, Hugo, Joubert, Le Roux, Ma­lan, Nel, Pienaar, Retief, Rossouw, Theron, Viljoen, Visagie en vele ander, is afkomstig van Hugenoot-voorsate. Die heel eerste Hugenoot in Suid-Afrika was Maria de la Quellerie, die vrou van Jan van Riebeeck, wat op 6 April 1652 in die Kaap voet aan wal gesit het. Haar oupa was ’n Hu­genote-predikant.

Dinamiese Christenbeweging

Die Hugenote was Protestante – lede van die Gere­for­meer­de Kerk van Frankryk. Hulle voorgangers was die Waldense, ’n dinamiese Bybelstudie-beweging wat gedurende die 12de eeu onder leiding van Peter Waldes (ook bekend as Pierre Vaudès of de Vaux) tot stand gekom het. Dit was die Waldense se begeerte om die Skrif te bestudeer en om op alle terreine van hulle lewens aan die beginsels van die Woord getrou te wees. Hierdie arm manne van Lyon het twee-twee uitgegaan en die evan­gelie sonder skroom in die suide van Frankryk, Swit­serland en so ver as die noorde van Italië verkondig.

 

Volhardend te midde van vervolging

Nadat die Bybel deur die konsilie van Valencia (1229) op die lys van verbode boeke geplaas is, het die Rooms-Ka­to­lieke pousdom begin om die Waldense wreed te vervolg. Duisende is vermoor. Die oorlewendes het ge­vlug na die suidelike Alpe van Wes Piedmont, waar hul­le gedy het.

 

Reformasie in Frankryk

Nadat die geskrifte van Martin Luther Frankryk bereik het, het professor Jacques Lefevre, verbonde aan die Uni-
versiteit van Sorbonne in Parys, die briewe van Pau­lus uitgelê, terwyl hy geleer het dat die mens slegs deur God se genade geregverdig kan word. Hierdie regverdig­ma­king kan slegs deur die geloof toegeëien word. Een van sy studente wat tot bekering gekom het, was William Farel.

 

Vurige evangelis

Farel het later een van die mees prominente leiers van die Reformasie in Frankryk geword. Onder sy leiding is hele stede vir Christus gewen. Sy kragtige straatprediking is beskryf as vurig en op die man af. Volgens hom was die pous anti-Christelik en die mis afgodery. Sy preke het soos kanonskote weergalm en sy redenaarsvermoë het hele stede aangegryp.

 

Stede vir Christus

Met groot evangeliese ywer en sy besondere re­de­naars­vermoë het Farel daarin geslaag om die grootste deel van die Franssprekende Switserland tot die Prote­stant­se geloof om te haal. Onder hierdie stede was Neuchâtel en Genève. Toe Farel in 1535 in Genève aankom, verklaar hy: “Ek is gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees ... Ek verkondig Christus: Hoe Hy gesterf het vir ons sondes en opgestaan het uit die dood ter wille van ons regverdigmaking. Wie in Hom glo, sal gered word. Ongelowiges sal verlore gaan. Ek is genoodsaak om aan almal wat wil hoor, die Woord te verkondig. Ek is gereed om met julle te debatteer ...!” Teen 21 Mei 1536 het die inwoners van Genève ten gunste van die Reformasie gestem en Protestantisme tot amptelike godsdiens van die stad verklaar.

 

Uitdaging en verpligting

Dit was op hierdie beslissende tydstip in die geskiedenis dat die 27-jarige Franse Hervormer, Johannes Calvyn, as gevolg van die oorlog gedwing is om deur Genève te reis. Sy beplanning was om slegs een nag in die stad te vertoef, maar toe Farel hoor van die bekende geleerde en skrywer van Die Institusie, het hy probeer om hom vir Genève te werf. Calvyn wou egter niks weet nie aangesien hy hom op studie wou toespits. Farel het egter nie bes gegee nie, maar daarop aangedring dat hy bly om Genève met die evangelie te bedien. Farel het uit sy stoel opgestaan en bulderend uitgeroep: “Mag God jou studies vervloek omdat jy nou, in haar uur van nood, weier om tot diens van Christus se Kerk te wees.”

 

Geroep en gestuur

Dit het Calvyn geruk. Hy het later in sy lewe onthou hoe hierdie woorde van Farel hom met vrees vervul het. In Farel se donderende stem het Calvyn God se roepstem gehoor en stem hy in om in Genève te dien. Genève het die middelpunt van die Franse Reformasie geword. Die stad se drukkers was die besigste in die hele Europa.

 

Publisering vir die Reformasie

’n Stroom Protestantse geskrifte het vanuit Genève ge­vloei terwyl duisende dominees, evangeliste en sendelinge aan die Akademie van Genève opgelei en oral oor Europa uit­gestuur is. In Calvyn se leeftyd alleen is meer as 2 000 gereformeerde gemeentes net in Frankryk gevestig.

 

Katharina de Medici

Met die dood van koning Francis in 1547 het Frankryk onder beheer van sy vrou, Katharina de Medici gekom. Sy was ’n manipulerende Isébel, koningin van intriges en het die Franse politiek vir die volgende dekades onder haar duim gehou. Al was Antonie de Bourbon, leier van die Hugenote, die wettige troonopvolger, het sy die mag vir haarself toegeëien. As vurige Rooms-Katoliek was Katharina vasberade om Frankryk te suiwer van die “aansteeklike siekte van Protestantisme”.

 

Verraad

Op 1 Maart 1562 is honderde Protestante in ’n kerk in Vassy onder toesig van die Hertog van Guise uitgemoor. Ten einde burgeroorlog te verhoed, is ’n huwelik gereël tussen Henri, koning van Navarre en seun van Antonie de Bourbon en Marguerite, die dogter van Katharina de Medici. Die bedoeling van hierdie huwelik tussen Hugenoot en Protestant was om vrede in Frankryk te bewerk. Uiteindelik het dit geblyk ’n lokval te wees. Terwyl Protestantse leiers van oraloor vir die troue opgedaag het, het Katharina haar tienerseun, Charles IX, tot ’n verraderlike massamoord oortuig.

 

Die St. Bartholomeusnag-slagting

Vroeg die oggend van 24 Augustus 1572 het Henri van Guise die Rooms-Katolieke magte gemobiliseer ten einde koning Charles IX se opdrag uit te voer: “Vermoor hulle almal.” In Parys alleen is meer as 5 000 Protestante vermoor en uiteindelik was die dodetal in die Franse platteland meer as 30 000.

Die Spaanse ambassadeur rapporteer soos volg aan Rome: “Soos ek geskryf het, hulle vermoor almal ... en spaar nie eens die kinders nie. Geloofd sy God.” Pous Gregorius XIII en sy kardinale in Rome was verheug oor die nuus en het selfs ’n gewyde dankseggingsmis bygewoon.

 

Revolusie en weerstand

Die St. Bartholomeusnag-slagting het ’n permanente im­pak op die Protestantse denkwyse gehad. Calvi­nis­te het hul rug gekeer op die voorheen aanvaarde God­de­like gesag van die konings. Tesame met ander soort­ge­lyke vervolgings in Engeland en Nederland, is die Rooms-Katolieke Kerk onlosmaaklik verbind aan die wreed­aardigste vervolgings, tirannie en verraad. Die St. Bar­tholomeusnag-slagting was die begin van agt gods­dienstige oorloë in Frankryk.

 

Die gety draai

Henri van Guise is in opdrag van Henri III vermoor, waarna hyself ook om die lewe gebring is. Die Protestant, Henri van Navarre was nou die enigste een wat waarlik op die troon van Frankryk aanspraak kon maak. Aangesien die Rooms-Katolieke meerderheid nie ’n Protestantse koning sou verduur nie, het Henri sy Protestantse oortuigings verruil vir die Rooms-Katolieke godsdiens. In 1598 het hy die Edik van Nantes onderteken waarvolgens die Hugenote godsdiensvryheid ontvang het. Vir die volgende twaalf jaar het die Hugenote, en daarmee saam die hele Frankryk, gefloreer.

 

Rotsvas onder vervolging

In 1610 is Henri IV vermoor en onder leiding van die Rooms-Katoliek, Louis XIII en sy belangrikste minister, kardinaal Richelieu, is die Protestantse Hugenote onder toenemende druk geplaas. Gedurende hierdie tyd het die Hugenote bekend gestaan as die Kerk van die Wildernis aangesien eredienste in die geheim gehou moes word – dikwels in woude. Die Hugenote het binne die Protestantse wêreld bekendheid verwerf vir hul rotsvaste geloof en hul onwrikbare dapperheid terwyl hulle onder vervolging gely het.

 

Herroeping

In 1685 het Louis XIV die Edik van Nantes herroep en vervang met die Edik van Fontainebleau. Hierdie herroeping het alle Protestantse eredienste verbied, vereis dat alle kinders ’n Rooms-Katolieke opvoeding moet kry en het emigrasie verbied. Honderde duisende Franse Hu­genote, die meeste geleerdes, dokters en professione­le mense in Frankryk, het nogtans na Noord-Amerika ge­vlug en hul hoofsaaklik in New York en Virginia gevestig. Ander het uitgewyk na Engeland en Duitsland. Nog ander het na Holland geëmigreer vanwaar hulle na die Kaap de Goede Hoop gevaar het om hul daar te vestig.

Tussen 200 en 300 Hugenote het hul in die Kaap kom vestig. Hier is hulle hartlik en met Christelike broe­der­liefde ontvang. Met hul aankoms het goewerneur Simon van der Stel gesê: “Die Franse vlugtelinge sal met Christelike liefde en deernis ontvang word. ’n Helpende hand sal in alles aan hulle verleen word in soverre ons beskeie middele dit toelaat.” Sommige Hugenote het plase langs die Bergrivier gekry en ander is gevestig in Olifantshoek (nou Franschhoek), Groot-Drakenstein, Klein-Drakenstein, die Paarl, Wagenmakersvallei en selfs so ver as Tulbagh en Piketberg.

 

Amptelike verskoning aan die Hugenote

Die Protestantse vervolging in Frankryk is amptelik deur die Edik van Verdraagsaamheid beëindig. Dit is in 1787 deur koning Louis XVI onderteken. In Oktober 1985, ter herdenking van die herroeping van die Edik van Nantes, het president Francois Mitterrand van Frankryk amptelik om verskoning gevra aan die Hugenote en hul afstammelinge oor die wêreld heen.

 

Invloed in Suid-Afrika

Louise de Coligny, dogter van die vermoorde Hugeno­teleier, admiraal Gaspard de Coligny, het met prins Wil­lem van Oranje getrou. Hy was die leier van die Nederlandse Protestantse weerstandsbeweging teen die Spaanse Rooms-Katolieke. Uit hierdie huwelik is Willem III van Oranje gebore. Hy sou later koning van Engeland word en die held van die Protestantse magte in Noord-Ierland. Tot vandag toe is oranje die kleur van die Protestante in Noord-Ierland. Dit is ook gekies as naam vir Suid-Afrika se grootste rivier. Die Republiek van die Oranje-Vrystaat is ook vernoem na die prins van Oranje. Die oranje in die ou Suid-Afrikaanse vlag reflekteer waardering vir die groot rol wat die Huge­no­te gespeel het tydens die geloofstryd en die stryd om vryheid in Nederland, Brittanje en Suid-Afrika.

Tot vandag toe word gebiede soos Stellenbosch, Fransch­hoek, Paarl, Wellington en verder gekenmerk deur die invloed van die Hugenote kultuur – plekname, name van instellings, museums en monumente. Die gees van die Hugenote leef voort, selfs meer as 300 jaar ná hul koms. In sy werk Het leven van Johannes Calvijn (1908), kom die geskiedskrywer, D’Arbez, tot die gevolgtrek­king: “Nê­rens op aarde het die werk van Calvyn meer lewend gebly as in Suid-Afrika, waar die gees van Calvyn nie deur twintigste-eeuse denke beïnvloed is nie ...”

Tydens die onthulling van die Hugenote-monument in 1948 beskryf prof. Coertzen die monument soos volg: Dit beeld die figuur van ’n vrou uit met ’n Bybel in haar regterhand en ’n gebreekte ketting in haar linkerhand. Dit simboliseer die gees van godsdiensvryheid. Die Franse lelie op haar rok is ’n simbool van haar adellike karakter en gees. Sy gooi die kleed van onderdrukking af om in vryheid van gees op die aarde te staan. Haar oë is gerig op die visie van groot dinge wat kom. By die afbeelding van die suidpunt van Afrika vind jy die simbole van hul Godsdiens (Bybel), hul kuns en kultuur (harp), landbou en wynbou (koringaar en wynstok) en industrie (weefstoel). Die drie boë in die monument simboliseer die Drie-eenheid. Bokant dit skyn die son van geregtigheid en bokant dit is die kruis as ’n simbool van die Christelike geloof. In die fontein met sy weerkaatsings en die arkade op die agtergrond word die geestelike rus en vrede wat beleef is ná vele stryd en ontbering weerspieël.

Wanneer ons oor die geskiedenis van die Hugenote nadink, kan ons verstaan wat die Here Jesus bedoel het toe Hy gesê het: Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele (Mt. 5:10). In Suid-Afrika gaan Christene ook moeilike tye tegemoet waarin vervolging nie uitgesluit is nie. Laat ons dus onthou wat Hy gesê het: Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil (Mt. 5:11). Mag ons te midde hiervan getrou gevind word soos die Hugenote getrou was. Mag ons deur hulle geïnspireer word deur nie links of regs te kyk nie, maar die wedloop met volharding te hardloop – die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het (Hebr. 12:2).


1 Dr. Peter Hammond is die skrywer van The Greatest Century of Reformation. Hy is ook betrokke by die sendingorganisasie Frontline Fellowship. 

Tel: 021 689 4480; mission@frontline.org.za; www.ReformationSA.org

TOP