Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Wat doen ek as ek nie saamstem nie of seergemaak is?

Prof. R Marè

1. Ek stem nie saam nie

Dit gebeur dat 'n mens soms nie tevrede is met 'n besluit van die kerkraad, 'n ring, of  'n sinode nie. Die vraag is wat die korrekte manier van optrede sal wees.

 

1.1  Verkeerde optrede

Kom ons gee eers voorbeelde van wat verkeerde maniere sou wees:

·   om in die gemeente te loop en mor;

·   om ander gemeentelede op te sweep om in opstand te kom deur byvoorbeeld hulle kerkbydraes te weerhou, petisies te teken, drukgroepe te vorm;

·   om die predikant te verneder, te beswadder, en mense teen hom op te maak;

·   om die AP kerkverband by mense van ander verbande verdag te maak of swart te smeer;

·   om jou siening ten alle koste, teen tersaaklike beginsels in, op ander af te dwing;

·   om geskrifte oor die saak op te stel en te versprei;

·   om smeerbriewe aanDie Boodskapperte skryf, sonder dat die saak eers langs die kerkregtelike kanale hanteer is.

 

1.2 Korrekte optrede

Wat is dan die regte wyse om jou ontevredenheid op te los?

 

1.2.1 Gebed

Eerstens moet jy dit 'n saak van gebed maak. Bid veral dat jy jou broederlikheid nie sal verloor nie. Bid om wysheid, beheersdheid, insig, objektiwiteit. Bid om begrip vir ander se standpunte – selfs al verskil jy daarmee. Bid om die wysheid om te kan onderskei tussen middelmatige sake (waar jy nie so hoef te druk op jou eie voorkeure nie), en beginselsake (waar jy die Here sal verloën as jy swyg).

 

1.2.2 Te sensitief?

Maak voor die Here uit of jou ongelukkigheid nie gaan om jou eie eertjie nie. Dikwels moet 'n mens 'n saak aanvaar omdat dit een van baie standpunte of reëlings kan wees wat almal geldigheid het en waar jou eie standpunt maar 'n saak van eie voorkeur of eie aksentuering is. Sou dit die geval wees, sien af van enige verdere optrede en werk in die saak saam.

 

1.2.3 Beginsels

As 'n kerkraad byvoorbeeld oor 'n saak 'n besluit geneem het en jy sou dit anders wou hê, maar die genome besluit is nie in stryd met Bybelse beginsels nie, moet jy as 'n kerkraadslid nie net die besluit aanvaar nie, maar dit ook na buite (in die gemeente) verdedig. Jy maak die besluit jou eie.

·   Wanneer die besluit egter werklik in stryd met die Skrif is, mag jy nie swyg nie. Dan moet jy optree,  maar op 'n waardige wyse.

·   Ons Kerkorde (Art. 31) spel die korrekte optrede uit. Sou jy deur 'n besluit veronreg voel en oortuig wees dat dit in stryd is met die Bybel, en/of die belydenisskrifte, en/of die Kerkorde, en/of vorige besluite van die betrokke vergadering (kerkraad, ring, sinode), kan jy kies of jy daarteen wil appelleer of  'n beswaarskrif wil indien.

·   Jy kan na die volgende ring appelleer as dit oor 'n kerkraadsbesluit (of 'n ouderlinge-raadsbesluit) gaan. Die vereiste vir 'n appél word in Bepaling 31B van die Kerkorde uiteengesit.

·   Jy kan na 'n sinode appelleer as dit oor 'n ringsbesluit gaan.

·   Jy kan nie teen 'n sinodebesluit appelleer nie, aangesien daar nie nóg 'n meerdere vergadering is aan wie jy jou appél kan rig nie.

·   Jy kan kies om nie te appelleer nie, maar om 'n beswaarskrif in te dien. 'n Beswaarskrif word ingedien by die vergadering wat die besluit waarteen jy beswaar maak, geneem het.

·   As jou beswaar oor 'n kerkraadsbesluit gaan, dien jy beswaar by dieselfde kerkraad  in.

·   As jou beswaar teen 'n ringsbesluit is, dien jy beswaar in by die eerskomende ring. Maar 'n beswaar teen 'n besluit van byvoorbeeld die Ring van Johannesburg van 1999, kan nie by die Ring van Kaapstad van 2000 ingedien word nie. Die beswaar moet dan by die Ring van Johannesburg van 2000 ingedien word.

·   Die vereistes en prosedures ten opsigte van 'n beswaarskrif is in Bepaling 31A van ons Kerkorde uitgespel. As jy 'n beswaarskrif indien, móét dit aan daardie voorskrifte beantwoord. Ek lig net een van die bepalings 'n bietjie toe. Daar staan dat “duidelike gronde vir die beswaar”   aangevoer moet word. 'n Mens kan nie sommer net stellings of bewerings maak nie. Jy moet konkreet wees: watter Bybelteks(te) is verdraai, of nie in ag gneeem nie; watter gedeeltes in die Belydenisskrifte is in die gedrang; teen watter Kerkorde-artikels of -bepalings is gehandel of besluit; watter vorige besluite (van sinode(s), ring(e), die kerkraad) het die saak anders gereël; op watter datum het wie wat presies gesê of gedoen; hoe is 'n persoon/vergadering se optrede of woorde in stryd met die Skrif ('n Gebod), belydenis, Kerkorde, ens. Byvoorbeeld: Ek kan nie net sê: “Die besluit bots met die Skrif” nie. Of: “Die besluit is in stryd met die sewende gebod” nie. Ek moet presies aantoon hoe en waarin dit in stryd met die Skrif/Gebod is.

 

1.3  Gesindheid

Dit gebeur soms dat 'n persoon se beswaar geldig is, opgaan, maar dat hy dit op so 'n kille, bitsige, liefdelose manier hanteer dat sy beswaar (of appél) wel slaag, maar intussen baie onnodige seer veroorsaak het. Hier geld die Here se voorskrif: Vermaan 'n ouer man soos jy jou vader sou vermaan, 'n bejaarde vrou soos jou moeder; jongeres soos broers en susters.

Die Afrikaanse spreuk dat jy 'n argument kan wen, maar die persoon kan verloor, sluit hierby aan. Dit hang natuurlik af van sekere faktore. As 'n persoon blatant en volhardend ketter, en uitdagend optree, kan ‘n punt bereik word waar jy ter wille van die eer van die Here hard sal optree, hard sal praat. Maar dikwels is dit nie nodig nie, en bereik jy veel meer deur die beginsels wel duidelik te stel, maar dit steeds op 'n beskeie wyse te doen.

Laat die argument “wen” en nie jou bombasme nie.

 

2. Ek is seergemaak

Wanneer jy ongelukkig voel oor woorde of optredes van 'n gemeentelid of kerkraadslid, kan jy natuurlik nie 'n beswaarskrif of appél indien nie. Daar was mos nie 'n amptelikebesluit geneem nie. Tog kan 'n uitspraak, bewering en iemand se optrede 'n mens baie seermaak.

 

2.1  Optrede

Dan gaan jy só te werk (so leer Mt 18 ons):

2.1.1  Jy gaan die persoon alleen spreek en sê hoe hy jou te na gekom het. Jy twis nie daaroor nie. Maar jy lê jou pyn bloot en vra dat hy die saak moet regstel. Dit sal baie goed wees as julle twee julle gesprek sáám met 'n gebed kan begin en die Here se genade en leiding vra. Julle kan albei na mekaar hardop bid.

Die persoon kan die saak regstel deur

1a) jou terstond verskoning te vra;

1b) sy beweringe voor die mense by wie hy dit geuiter het, te gaan regstel;

1c) beide a) en b) te doen.

 

2.1.2 As die persoon gehandel het soos in 2.1.1 verduidelik, is die saak afgehandel.

 

2.1.3 As die persoon weier om op te tree soos in 2.1.1, neem jy 'n getuie met jou saam en julle twee gaan hom sáám spreek. Jy herhaal punt 2.1.1. As die persoon optree soos in 2.1.1 punte a) tot c), is die saak uit die wêreld.

 

2.1.4 As die persoon weier om die saak reg te stel [vgl. 2.1.1 a( tot c)], rapporteer jy die saak by die Ouderlingeraad.

 

2.2  Ouderlingeraad

Wanneer die Ouderlingeraad op grond van 2.1.4 aan die saak aandag gee, verleen jy jou volle samewerking. Die Ouderlingeraad behoort die saak tot 'n bevredigende oplossing te voer.

Indien jy ontevrede sou wees met die uiteindelike besluit van die Ouderlingeraad, tree jy op soos in 1.2.3. gestel.

 

3. Vergifnis

Wanneer die persoon jou vergifnis vra, is jy geroepe om hom volkome te vergewe. Jy mag nie later weer die saak ophaal en verwyt nie. Bid dat jou vergifnis alle wrokkigheid uit jou hart laat verdwyn.

 

4. Ten slotte

In hierdie hele saak moet dit gaan om die eer van die Here. As ons ons ongelukkighede oplos, mekaar vind, soos ware broers en susters met mekaar handel, dan vereer ons die Here met ons lewens en word ons lewens vol en ryk.

TOP