Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Demokrasie

Liberaal en inklusief - wat is fout daarmee?

Demokrasie in die sin dat elke stem-mondige lid van die volk (demos) kan deelneem aan die regering of mag (kratos) oor hul eie sake, kom lankal voor – die antieke Grieke het al ‘n vorm daarvan gehad. Dit is ‘n goeie beginsel indien:
Die volkslae wat so deelneem (stem) mondig genoeg is tot ‘n gesonde oordeel en die deelnemende verantwoordelikheid kan dra, anders ontaard dié regering in absurditeit.

  • Die volk homogene kultuurwaardes en belange het, anders word die waardes van die meerderheid afgedwing.
  • Die volksregering wat só verkies word, verantwoordelik t.o.v. die lewegewende waardes van die betrokke gemeenskap regeer. Die Christendom sê: die regering is verantwoordelik teenoor God en sy Gebod, anders word die lewe verwoes. Reg is dus in God gevestig.

Liberale demokrasie het in die Weste sy wortels in die Renaissance en die Franse Revolusie en spruit uit die humanisme wat sê:

  • Die mens is self die sentrum waarom alles draai en hy het die sê of beslissingsreg oor sy eie lewe. Regte word dus nie in die ware God gevestig nie, maar in die (sonde-gevalle) mens.
  • In sy liberale vorm sien die humanisme die enkeling as “die mens” (teenoor sy sosialistiese vorm wat die gemeenskap as “ware mens” beskou). Uit sy wortels word dié enkeling gesien as goed (nie sondig), vry (moet sy eie wil / vermoë kan uitleef) en gelyk met ander (wat o.a. beteken dat elkeen sonder onderskeid toegang tot elke geleentheid moet hê). Mense-regte is teen die agtergrond van so ‘n mensbeskouing dus veral regte in die individu gevestig. Die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet verskans veral hierdie individuele regte, hoewel daar tog ook verwysings na gemeenskapsregte is – waarvan tot dusver nie veel in die praktyk tereggekom het nie. Verwagtings oor wat lewe gee, is op hierdie individuele menseregte gegrond.
  • Die kwaad (sonde) kry op dié wyse gelyke voet met die goeie in die samelewing en van die regering word verwag om dit net so te beskerm en te bevorder as die “goeie” (soos ons as Christene dit definieer). Op dié wyse word mense se uiteenlopende sondige giere die sentrum waaromheen alles vir almal ingerig moet word. Verwildering en die toename van die kwaad (dit wat teen die Godswil is) is die gevolg. Suid-Afrika se huidige probleme met seksuele wetgewing is maar een voorbeeld.

Inklusiewe liberale demokrasie skort op bogenoemde individualistiese grondslag die eiesoortigheid van volks- en ander kultuureie verbande waarbinne gemeenskappe lewe op. Dit hang saam met:

  • Die liberaal-demokratiese geloof dat as die individu hom onbelemmerd kan uitleef, dit met die hele samelewing goed sal gaan (‘n naïewe idee wat ‘n mens blykbaar uit selfs die welmenendste liberalis se kop nie kan kry nie!). Elke lid van die “demos” word sonder onderskeid onder een sambreel saam met al die ander ingetrek (inklusief) en elkeen moet gelyke toegang hê tot alle (almal se) gemeenskapsverbande wat primêr gesien word as “geleentheidsisteme”.
  • Elke individu moet dan sy vrye wil in (ook ander se) gemeenskapsverbande kan laat geld; hy moet daar “regte” hê. Kom “die meerderheid” op die end daarin, word dit na die meerderheidswil verander. Tipies-Westerse (blanke) onderwysstelsels was in die verlede bv. op uitnemendheid en streng kontrole met die oog op die hooghou van standaarde ingestel. Ons ken die invloed van “Pass one, pass all” hierop.

Op Christelike standpunt word nie net die enkeling erken nie, maar word ook die verbande en strukture waarin mense vir die kultuurtaak saamgesnoer word, soos die huwelik, gesin, kerk, skool, staat, as basies Goddelike instellings of voorsienings beskou. Dit is in daardie verbande wat die eiesoortige kultuurwaardes van ‘n gemeenskap uitgebou en verskans word – soms met ‘n unieke gesagstruktuur wat oor die inhoud moet waak. Vir elke volk of omvattende kultuurverband word sy eie, unieke lewensinrigting gegun – ook binne sy eie verbande en strukture. Hiermee het die humanisme nie vrede nie. In Suid-Afrika is volke al só verwoes, so ook die staat, skole, kerke... Die huwelik en huisgesin staan tans op die rand...

Mag ons deur alles heen onthou: ons is ‘n Geloftevolk wat daartoe verbind is dat die reg in God en sy Gebod gevestig moet wees – en mag ons daarvoor bly stry.

(Meer inligting oor die demokrasie is vervat in die pamflet Demokrasie?, en meer inligting oor die Christelike mens- en samelewingsbeskouing in ‘n konsepvorm in Sosiologie vir die Ryksburger – wat albei by ons Boekwinkel verkrygbaar is. Kyk ook weer op ons webblad www.apk.za.net onder “toerusting”, dan “lewensbeskouing”.)

TOP