Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Kinders by die nagmaal?

Ds. WJA van Schalkwyk

 

Die afgelope twee dekades het ons baie veranderinge beleef, waarvan sommige ingrypend was.  Ons word met soveel nuwighede, selfs op die kerklike terrein, gekonfronteer dat baie mense dit nie meer aan die Skrif gaan toets nie.  Baie mense praat hierdie veranderinge maar net klakkeloos na.  Daarom is dit belangrik om oor die vraag of kinders mag nagmaal gebruik, goed na te dink.

 

Nagmaal en Pasga

Die rede waarom kinders mag nagmaal gebruik, word gesoek in die feit dat die nagmaal in die plek van die pasga gekom het.  Volgens die voorstanders van kinders by die nagmaal was die pasga ’n gesinsmaal waarin die kinders ook gedeel het (Ex 12:3-4).  Dit laat mens met die vraag of die opdragte t.o.v. die gebruik van die pasga en die nagmaal dieselfde is.

Dit is eenders in die sin dat geen vreemdeling dit mag gebruik nie.  Net iemand wat tot die volk (ook die vreemdeling deur besnydenis) of die kerk behoort, mag pasga of nagmaal gebruik.  Tog is dit ook wesenlik anders:  waar die pasga herinner aan die veilige uittog uit Egipte, herinner die nagmaal aan die ewige verlossing uit sonde.  Dit getuig dat Christus sy lewe geoffer het vir die verlossing van al sy kinders.  Dit getuig dat die Seun mens geword het en dat sy liggaam verbreek is en sy bloed gestort is, dat daar deur sy wonde vir ons genesing (van sonde) gekom het.

Juis om hierdie redes is die nagmaal soveel meer as die pasga.  Daarom is daar duidelike voorskrifte in die Bybel hoe die nagmaal gebruik moet word.  1 Kor 11: 26-29 sê dat iemand wat nagmaal wil gebruik, homself moet ondersoek, dat hy moet besef wat dit beteken as hy die liggaam van die Here eet, en dat hy nie op ’n onwaardige wyse mag eet en drink nie.  Die Kategismus (antw. 81) sê dat hy homself moet mishaag oor sy sonde, moet vertrou dat sy sonde vergewe is t.w.v. Christus se verdienste, hy moet begeer om in die geloof versterk te word en om sy lewe te verbeter.

Doen hy dit nie, eet en drink hy ’n oordeel oor homself (1 Kor 11:24) en die toorn van die Here word verwek oor die hele gemeente (antw. 82).

 

Waak oor die nagmaal

Om dié rede is dit uiters belangrik dat daar oor die heiliging van die nagmaal gewaak sal word.  In die Gereformeerde kerke is dit die ouderling se opdrag om te sorg dat die tafel van die Here nie ontheilig word nie.

Hoe moet hy waak?  Deur seker te maak dat die leer en lewe van elke lidmaat wat nagmaal wil gebruik, suiwer is.

Hoe stel hy vas of hulle lewenswandel suiwer is?  Deur getroue en gereelde huisbesoek.

Hoe stel hy vas of hulle leer suiwer is?  Deur huisbesoek en seker te maak dat elke dooplidmaat in die suiwer leer onderrig word en dit dan voor die Here en gemeente bely.

Eers wanneer ’n Ouderlingeraad hiervan seker is kan iemand nagmaal gebruik en kom die toorn van God nie oor die hele gemeente nie.

 

Is belydenisaflegging noodsaaklik?

Verbondsonderrig is ’n belangrike deel van die kind se opvoeding en ontwikkeling.  Hy moet die Bybelse waarhede leer ken (2 Tm 3:14) om daardeur op te groei en sodoende “die goeie belydenis voor baie getuies” af te lê (1 Tm 6:12).

Die belangrike vraag is nou of dit noodsaaklik is dat ’n kind eers belydenis van geloof moet aflê voordat hy nagmaal kan gebruik.  Op watter stadium is ’n kind in staat om die nagmaal volgens die Bybelse voorskrif te gebruik?  Kan hy met verantwoording die nagmaal gebruik?

Opvoedkundiges het deur navorsing vasgestel dat ’n kind eers rondom sy tiende lewensjaar ’n sondebesef begin ontwikkel.  Hoe kan hy homself dan mishaag oor sy sonde?  Godsdienstige handelinge het vir hom nog geen diepere betekenis nie.  Wat verstaan hy dan van die tekens van brood en wyn?  En sy saligheid hang kragtens die denke van hierdie ouderdomsgroep nog hoofsaaklik van sy eie verdienste af.  Hoe kan hy dan verstaan dat Christus se lyde en sterwe sy sonde bedek?

Selfs in die daaropvolgende lewensjare is daar nog die egosentriese neiging om te soek na eie voordeel en is daar nog nie werklik sprake van ’n standvastige geloofslewe wat gebou is op die sekerhede in die Skrif nie.

Om te beweer dat die kind, net soos volwassenes, bewustelike geloofsversterking deur die nagmaal ontvang, is dus ook nie waar nie.

Hoe kan daar diep selfondersoek, wat die nagmaal voorafgaan, van die kind verwag word?  Calvyn vra:  as slegs diegene, wat besef waaroor die nagmaal handel en wat op ’n waardige wyse kan eet en drink, die nagmaal kan gebruik, waarom sou ons dan vir ons teer kindertjies gif aanbied as lewensmakende voedsel?

Eers op skoolverlatingsouderdom kies die kind met verantwoordelikheid sy eie godsdienstige staanplek. Dan eers het hy die volwassenheid om finaal te sê wat sy godsdienstige oortuiginge is. ’n Vae begrip van dit waaroor die nagmaal handel of ’n blote verklaring dat ek in die Here glo of Hom liefhet, is nie genoeg om die eis van 1 Kor 11 na te kom nie.

Dit is dus dringend belangrik dat die kind eers in die leer van die kerk onderrig sal word en tot geloofsrypheid gelei sal word, voordat hy tot die nagmaal toegelaat sal word.  Met belydenisaflegging vereenselwig die belyder hom met die eenheid met hulle wat dieselfde glo as hy.  Hierdie eenheid is ’n noodsaaklike voorwaarde vir die gebruik van die nagmaal.

Dit is interessant om op te merk dat in die Gereformeerde kerke oor die eeue die formulier vir die belydenis van geloof tussen die doop- en die nagmaalsformulier staan.  Dit versinnebeeld die Gereformeerde standpunt dat nadat jy gedoop is, jy eers moet belydenis van geloof alfê voordat jy kan nagmaal gebruik.

 

Twee Sakramente

Die doop en die nagmaal is beide sakramente, albei dra die tekens van die kruisdood van Christus.  Beginsels wat vir toelating tot een sakramentsgebruik geld, geld noodwendig vir beide.  Albei sakramente is tekens en seëls.  Om die tekens en seëls te ontvang en te gebruik, beteken dat ’n gelowige volle verantwoordelikheid daarvoor moet dra.

Ouers wat hul kind ten doop bring, moet ongesensureerde lidmate wees wat hulle geloof uitleef en hulle vanuit die verbond tot sekere verantwoordelikhede verbind.  Hierdie beginsels geld ook vir iemand wat wil nagmaal gebruik.

Soos die ouers by die doop voor God en die gemeente (wat getuies is) hulle verbind aan die eise van die verbond en in die gemeentelike samekoms “ja” antwoord op die doopvrae, so moet ook hy wat nagmaal wil gebruik voor God en die gemeente “ja” antwoord en sy geloof bely.  Met die openbare belydenis van geloof verbind die voornemende nagmaalganger homself om te buig voor die eise van die nagmaal en in gehoorsaamheid daarvolgens te lewe. As belydenis van geloof nie meer ’n voorwaarde vir die toelating tot die nagmaal is nie, is die logiese tog net dat dit ook nie ’n voorwaarde mag wees vir die doop nie.  Dit is reeds bekende feite dat die voorstanders van kindernagmaal tot belydenisaflegging vereis vir die bediening van die doop.  Dit is nie konsekwent nie.

 

Ouers se verantwoordelikheid?

Om die keuse van nagmaaltoelating aan ouers oor te laat, bring ewe-eens ’n groot probleem na vore.  Elke ouer lê verskillende maatstawwe aan om te oordeel of sy kind gereed is om nagmaal te gebruik.  Dit beteken dus dat een ouer sy kind tot die nagmaal toelaat, maar ander ouers se maatstawwe is dalk strenger en hy laat sy kind nie toe nie.  Dit kan ’n geweldige verskeurdheid in die kinderhart teweegbring.  Wanneer ’n kind sien dat ander in sy ouderdomsgroep toegelaat word om nagmaal te gebruik, kan die persepsie by hom ontstaan dat daar klasse in die kerk is.  Hy kan selfs vra of ander dan op ’n hoër geestelike vlak as hy is.

Juis hierdie poging om die kinders meer betrokke te maak, kan veroorsaak dat hulle van die kerk weggedryf word.

Tereg kan gevra word wat dan moet gebeur met die kinders van onverskillige en onbetrokke ouers.

Nog ’n belangrike argument is dat dit primêr die Ouderlingeraad se verantwoordelikheid is om na deeglike onderrig en ondervraging iemand tot die nagmaal toe te laat.

 

Geen ouderdomsbeperking

Wanneer ’n kerk geen ouderdomsperk stel vir die gebruik van die nagmaal nie, kan die gevaar bestaan dat suigelingkommunie (nagmaal vir babas) later ingevoer kan word.  Die dwaalleer kan selfs later posvat dat deur gebruik van die nagmaal die geloof by die kind gewerk word.  Dan werk die nagmaal meganies (ex opere operato).

 

Slot

Met die uitsluiting van kinders by die nagmaal word hulle nie beroof van die weldade van die verbond nie, maar slegs gelei om langs die weg van Verbondsonderrig die nagmaal met verantwoordelikheid te gebruik. Anders bestaan die gevaar dat die nagmaalsviering so kan verwater dat dit ’n soort sedelike opvoedingmiddel word en geen diepere geestelike gemeenskap met die opgestane Christus meer is nie.

Miskien dien hierdie saak vir ons as kerkverband as ’n vingerwysing om te weet:  as jy wil reformeer – reformeer terug na die Skrif.

 

Met erkenning aan: Die Boodskapper: Januarie/Februarie 1999

 

Uitgegee deur:

Lig in Duisternis Uitgewers

Posbus 11488

Hatfield

0028      

Tel. (012) 362- 1390/1/2/3/4

Faks: (012) 362-2023         

       

TOP