Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Sabbat of Sondag?

Vraagtekens oor stellings van prof. Walter Veith

Daar is ’n stel DVD’s van prof. Walter Veith in omloop wat lidmate dikwels vrae laat vra. Prof. Veith is een van die bekendste en mees welsprekende segsmanne in Suid-Afrika wat pleit vir die viering van die Ou Testamentiese sabbat, d.w.s. vanaf Vrydagmiddag 18:00 tot Saterdagmiddag 18:00. Ons sal in hierdie artikel in die besonder fokus op sy 90 minute-lange lesing op ’n bepaalde DVD getiteld: Die moeder van alle misdade. Hierin gebruik hy verskeie teksverse en argumente om te probeer bewys dat die Christene wat die sabbat op Sondag vier, ernstig mislei word en nie aan God se gebod gehoorsaam is nie.

Aangesien hy baie dinge in sy lesings sê wat ook heeltemal waar is en omdat hy alles wat hy sê (probeer) bewys met teksverse en aanhalings uit verskillende bronne, bestaan die gevaar dat oningeligte persone alles wat hy oor die sabbat sê, wil glo. By nadere ondersoek en kontrole blyk dit egter dat daar ’n hele paar vraagtekens is oor sekere van sy argumente. 

 

1. Hermeneutiese vraagtekens

Veith maak deurgaans in sy lesing gebruik van die tipiese Sewende-Dagse Adventistiese manier van argumenteer, nl. deur die Ou Testament streng volgens Judaïstiese reëls te interpreteer en dan die Nuwe Testament daarvolgens uit te lê. Hy trek bv. sonder meer ’n parallel tussen Jes. 58:13 (die heilige dag van die Here) en Openb. 1:10 (die dag van die Here). Dit is gevaarlik om die Nuwe Testament net aan die hand van die Ou Testament te verklaar. Die korrekte wyse van Skrifuitleg is om elke teks binne sy konteks te verklaar en dan ook binne die groter raamwerk van die hele Bybel. ‘n Mens behoort ook die Ou Testament te verklaar in die lig van die vervulling daarvan in die Nuwe Testament. In hierdie twee teksverse het ons derhalwe te doen met die Ou Testamentiese sabbat aan die een kant en die Nuwe Testamentiese sabbat aan die ander kant. Om hulle op een vlak gelyk aan mekaar te stel, getuig nie van waardering vir die progressiewe openbaring wat ons in die Bybel vind nie.

Dit is ‘n duidelike voorbeeld van die manier waarop die Sewende Dag Adventiste (SDA) se leerstelling rondom die sabbat volgens hulle eie tradisie - soos geskep deur die stigters Ellen G White en William Miller - verdedig word.

 

2. Eksegetiese vraagtekens

Die Romeinse Ryk (Dan. 7:25): Veith haal hierdie vers aan en beweer dan dat die vierde dier in Daniël se droomgesig sal probeer om tye en wet te verander. Dit verwys volgens Veith na die verandering van die sabbat van Saterdag na Sondag deur die dier. Hy is korrek in sy aanname dat die vierde dier verwys na die Romeinse Ryk, maar die veranderings wat hier ter sprake is, beteken dat die Romeinse keiser sal probeer om alle Joodse feeste en feesdae te vervang met heidense feeste en feesdae wat die keiser sou skep. Dit beteken nie dat hy susksesvol vir eeue sou wees nie. Sy pogings kon net sowel hoogstens tydelik slaag. Veith maak daarby die stelling dat hierdie verandering van tye en wet dan ook dieselfde “merk van die dier” is waarvan Openbaring melding maak. Hierdie verbandlegging is baie willekeurig. In Daniël self is daar in hierdie sewende hoofstuk hoegenaamd geen sprake van enige “merke” nie. Die verbandlegging vereis inlegkunde wat nie klinkklaar ondersteun word deur die res van die Skrif nie.

Die breek van brood op die eerste dag (Hand. 20:7 – 11): Prof. Veith probeer om die feit dat die vroeë Christene inderdaad op die eerste dag van die week (later Sondag genoem) hulle byeenkomste gehou het en by sulke geleenthede brood gebreek het, d.w.s. nagmaal gehou het, te weerlê deur te verwys na Hand. 2:46 waar ons lees dat daar daagliks brood gebreek is. Die uitdrukking verwys derhalwe volgens hom nie na die nagmaal nie, maar na ’n gewone ete. Daar is egter soveel ander teksverse waaruit ons leer dat die uitdrukking inderdaad na die nagmaal ook verwys, dat hy geen gronde het om te beweer dat dit nie in hierdie verse die geval is nie. Die moontlikheid dat hulle heel aan die begin daagliks nagmaal gevier het, is ook nie uitgesluit nie.

Die sabbat in Kol 2:16: Hierdie teksvers is een van die duidelikste teksverse in die Bybel wat leer dat die handhawing van die Ou Testamentiese sabbat nie op die Nuwe Testamentiese gelowiges afgedwing moet word nie. Veith probeer die teks se inhoud verander deur te beweer dat hier verwys word na seremoniële sabatte en nie die Joodse sabbatdag nie. Die feit dat die woord “sabbat” hier in die Grieks in die meervoud is (“sabatte”) is nie genoeg rede om hierdie afleiding te maak nie, want daar word meermale in die Griekse teks die meervoudsvorm gebruik (bv. Mt. 28:1 en Lk. 4:16) wanneer daar na die sabbatdag verwys word. Hier staan derhalwe dat die Christene in Korinthe hulle nie moet laat afskrik as hulle veroordeel word omdat hulle nie die Joodse seremonies handhaaf nie, aangesien dié slegs ‘n skaduwee was van wat sou kom en derhalwe in Christus vervul is.

 

3. Vraagtekens oor argumentasie

3.1 Die “Rooms”-retoriek

Veith skryf die verandering van die Christelike sabbat na die Sondag aan die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) toe en is baie aggressief jeens die RKK. Dat die RKK inderdaad te kritiseer is, kan nie betwyfel word nie, veral nie deur Protestante nie, maar om alles wat die RKK doen as vals af te maak en dan almal wat hulle daarmee vereenselwig ook vals te noem, is gewoon oneerlik. Dit is nogal handig om met een veeg enigiets wat jou nie pas nie as “Rooms” af te maak. Ons moet egter eerlik wees en ons eie “Rooms”-retoriek onder die vergrootglas plaas. As alle Christene sondig omdat hulle soos die RKK hulle sabbat op Sondag vier, sondig ons ook almal omdat ons soos die RKK glo in die maagdelike geboorte van die Here Jesus of omdat ons klein doop of omdat ons glo dat aborsie verkeerd is.

’n Verdere voorbeeld van hierdie strategie is wanneer prof. Veith verwys na Pous Gregorius wat in 1582 die almanak aangepas het sodat die seisoene in pas met die natuur sou wees. Veith se bewering dat hy dit gedoen het omdat hy ’n heidense fees wou laat saamval met die Paasfees, is nie gegrond nie. Die verandering aan die almanak was nodig omdat daar nie voorsiening gemaak was vir die feit dat ’n astronomiese jaar (die aarde se siklus om die son) nie presies 365.25 dae is nie. Gevolglik het daar deur die eeue ’n verskuiwing gekom wat meegebring het dat seisoene nie meer streng in ooreenstemming met die kalender was nie. Dit het ook ekonomiese implikasies gehad, want bv. die boere se plantdatum wat volgens die almanak was, was nie in die regte seisoen nie met gevolglike swak oeste of misoeste.

 

3.2 Skuld deur assosiasie

Hoewel die “Rooms”-retoriek ook onder hierdie punt sou kon val, vestig ons hier net kortliks die aandag op dieselfde argumentasie met betrekking tot die naam van Sondag. Om die viering van die sabbat op Sondag te veroordeel net omdat Sondag na die songod vernoem is, is ’n argument wat werk met die argumentasie van skuld deur assosiasie. Dan is die sabbatariërs ewe skuldig daaraan dat hulle Saturnus, die Romeinse god van landbou, aanbid omdat hulle sabbat Saterdag genoem word.

 

3.3 Ongeregverdigde afleiding (non sequitur)

Veith gebruik Dan. 7:25 ook om te probeer oortuig dat die dier (antichris) God se teken (die sabbat, volgens hom) verander. Hierdie is ’n geval van growwe  inlegkunde. Deur een woord uit Ex. 31:17 (“teken”) uit sy verband aan te haal en dan te sê dit is wat die dier verander deur die sabbat van Saterdag na Sondag te verskuif en sodoende God se teken te verwyder, is ’n onverantwoordelike omgang met die Woord van God.

 

3.4 Samesweringsteorie

Veith maak deurgaans gebruik van die samesweringsteorie wat o.m. inhou dat daar allerhande geheime sameswerings is wat die Christendom wil besoedel met die heidendom wat met sonaanbidding werk. Dit is ’n onderwerp vir ’n heeltemal nuwe gesprek. Genoeg om te sê dat ’n mens baie versigtig moet wees met sulke uitlatings, want dit is so maklik om agter duistere magte te skuil waarvan jy ’n onskuldige slagoffer sou wees. Ons moet onthou dat die duiwel en sy magte deur Jesus Christus se kruisoorwinning verslaan is en dat God self sy kerk in stand hou en sal hou tot in ewigheid. ’n Mens kry soms die indruk as jy na sommige samesweringsteorieë luister dat God wel magtig is, maar dat die sameswerings almagtig is. Gaan lees weer Ps. 2:1-4 en Hand. 4:24-28.

 

3.5 Inkonsekwentheid

RKK: 

’n Verdere leemte in Veith se manier van argumentering is dat hy inherent inkonsekwent is. Enersyds glo hy die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) as hulle daarop aanspraak maak dat hulle die sabbat van Saterdag na Sondag verskuif het, maar andersyds verwerp hy die egtheid van alles wat die RKK doen en sê. Waarom dan die een aanspraak van die RKK rakende die sabbat glo en alles anders as vals en as deel van ’n verskuilde plan verwerp? As ’n mens nie die RKK kan vertrou nie, waarom dan hulle woorde oor die sabbat wat Sondag geword het glo?

 

Vierde Gebod teenoor Tweede Gebod:

Veith beweer dat die Vierde Gebod die belangrikste is en betekenis gee aan al die ander Gebooie. As hy dan soveel waarde heg aan die gehoorsaamheid aan God se Gebooie (wat uiteraard nie verkeerd is nie), is dit tog ’n vraag waarom hy in sy geprojekteerde lesing op ’n skerm langs hom op die verhoog nie huiwer om meer as een afbeelding van die Here Jesus te vertoon nie. Waarom dan die oortreding van die Tweede Gebod? Hy kan tog nie daarop aandring dat die Vierde Gebod ten alle koste gehoorsaam moet word, terwyl enige van die ander goedsmoeds oortree word nie.

 

4. Vraagtekens oor dokumentasie

In sy lesing word verskeie aanhalings uit geskrifte op die skerm vertoon. Terwyl daar na die lesing geluister word, is dit nie moontlik om alle aanhalings te kontroleer nie. Dog, wanneer ’n mens sommige van die aanhalings vergelyk met die oorspronklike geskrifte, kom daar onverskoonbare foute voor. So is sy aanhaling uit die Ausbergse Konfessie nie in ooreenstemming met die bewoording in die Belydenisskrif self nie. Veith beweer dat die geskrif nie die viering van die sabbat op die eerste dag van die week toeskryf aan ‘n menslike verordening nie, maar dit is wat die belydenis in werklikheid bely:

Ausbergse Konfessie: For those who judge that by the authority of the Church the observance of the Lord's Day instead of the Sabbath-day was ordained as a thing necessary, do greatly err. Scripture has abrogated the Sabbath-day; for it teaches that, since the Gospel has been revealed, all the ceremonies of Moses can be omitted. And yet, because it was necessary to appoint a certain day, that the people might know when they ought to come together, it appears that the Church designated the Lord's Day for this purpose; and this day seems to have been chosen all the more for this additional reason, that men might have an example of Christian liberty, and might know that the keeping neither of the Sabbath nor of any other day is necessary.
(Die Ausbergse Konfessie, Art. XXVIII: Of Ecclesiastical Power, par. 18)

Veith maak van ’n individu uit die Presbiteriaanse tradisie gebruik om ook sy stelling te regverdig dat die keuse vir die Sondag onder presbiteriane bloot op kerklike gesag berus. Die gereformeerde belydenis van Westminster stel egter die amptelike standpunt van baie gelowiges in die Presbiteriaanse tradisie so:

As it is of the law of nature, that, in general, a due proportion of time be set apart for the worship of God; so, in his Word, by a positive, moral, and perpetual commandment, binding all men in all ages, he hath particularly appointed one day in seven for a Sabbath, to be kept holy unto him: which, from the beginning of the world to the resurrection of Christ, was the last day of the week; and, from the resurrection of Christ, was changed into the first day of the week, which in Scripture is called the Lord's Day, and is to be continued to the end of the world as the Christian Sabbath.
(WCF, Hoofstuk XXI: On Religious worship and the Sabbath-day, par. 7.)

In sy poging om te bewys dat verskillende Protestantse kerke erken dat hulle nie die viering van die sabbat op Sondag uit Bybelse gronde aflei nie, haal Veith verteenwoordigers uit verskillende kerke aan, maar hy kies onbekende individuele persone se uitsprake wat nie die verskillende kerke se amptelike standpunt verteenwoordig nie.

Dit gebeur tog wel dat lede van kerke uitsprake maak wat in stryd is met die betrokke kerk se standpunt. So het ‘n predikant van die NG Kerk onlangs in die pers verklaar dat hy nie glo in gebedsverhoring nie en nou kan die standpunt tog nie as die NG Kerk se standput beskou word nie.

 

5. Gevolgtrekking

Alhoewel prof. Veith se DVD oor die sabbat met die eerste oogopslag oortuigend mag voorkom, blyk dit by nadere ondersoek dat hy in sy vasbeslotendheid om almal van sy siening te oortuig, van metodes gebruik maak wat nie bo verdenking staan nie. Dit is jammer, want hy is ’n begaafde spreker en redenaar. Ons sou selfs kon byvoeg dat hy voorkom as ’n opregte gelowige – iemand wat sy saligheid in Jesus Christus as Here alleen soek. Wat sy sabbatsbeskouing betref, tesame met sy oordrewe pogings om almal te oorreed, kan ons nie anders as om geregverdigde vraagtekens agter sy betoog te plaas nie. Ongelukkig veroorsaak dit dan dat baie ander dinge wat hy sê, ook met agterdog bejeën word.

Prof. Veith se hermeneutiek, sy eksegese, sy argumentasie- en dokumentasie foute bring mee dat sy lesing uiteindelik nie oortuig nie. Dit is ’n vraag of dit die beste weergawe van die SDA is om hulself te verantwoord. Getoets aan die bepaalde kriteria wat in hierdie artikel aangelê is, behoort dit iemand wat eerlik op soek is na die waarheid, nie te oortuig nie.

TOP