Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

"Gelukkig is ek gereformeerd"

  

Soveel hoofde soveel sinne, is ʼn bekende spreuk wat met vrug ook op godsdiens en geloof toegepas kan word. Ons kan enkele hoofstrome in die geloof aanwys, maar daar is duisende variante. Selfs binne die gereformeerde stroom is daar ’n hele paar sytakke. Die gereformeerde leer, so glo ons, is die beste keuse. Dit verteenwoordig n baie suiwer en konsekwente inhoud van die Woord. Dit plaas die klem waar dit hoort en aanvaar die verlossende genade van God.

In ʼn tyd van teologiese verwarring en kerklike ontsporing bied die gereformeerde teologie vastheid. Dit buig nie voor die Roomse tradisie nie en swig nie voor charismatiese emosie nie. Dit bring nugterheid teenoor die aanslae van die liberale neigings en dit gee antwoorde aan die postmoderne benadering. In teologiese debatte kan die gereformeerde selfs beïndruk. Sy standpunte is beginselvas en beheersd. Gedurende die teologiese opleiding maak ons veral seker dat die studente kennis maak met die gereformeerde solae. Dit word deel van sy toerusting en met dié kennis word menige dwaling weerlê. Dit is genoeglik om gereformeerd te wees. In ons eie kerkverband weeg gereformeerde voelhorings ook swaar. Dit word geëer, geleer en dien as norm om ander standpunte te kan beoordeel. Ons kan afwykinge wat oor ons pad kom met redelik gemak uitwys en beoordeel vanuit ons gereformeerde sensitiwiteite. Kortom: Ons is gloeiend oor ons gereformeerde grammatika wat getuig van ʼn bepaalde geloofsoortuiging.

Is dit egter genoeg? Dit is natuurlik ’n goeie begin om Bybelgetrou te kan antwoord en formuleer. Maar leer gaan saam met lewe. Dit is ʼn ope vraag of kennis enige waarde het as dit nie geleef word nie. Wanneer na die werkslas van die Kommissie vir Kerkregtelike Sake (KKS) gekyk word, is daar gevaarligte wat flikker. Waarom word die meeste van die tyd by ʼn sinode deur die KKS opgeneem? Waarom is gemeentes verwoes terwyl die korrekte leer verkondig was of gestry is oor die korrekte leer? Die leer is inderdaad, soos iemand dit gestel het, ’n stok om mee te slaan en ’n staf om mee te gaan. Soms moet ons veg vir die geloof wat eenmaal aan ons oorgelewer is. Maar die herder gebruik ook die leer om die skape te laat wei.

Dit is hier waar ons dalk kan kennis neem van ’n hedendaagse stelling wat in die regte konteks bepaalde waarde het. Die leer gaan oor wat jy glo; spiritualiteit gaan oor hoe jy glo. Nou kan ons onmiddellik sê dat die “hoe” van geen waarde is as die “wat” nie in plek is nie. Jy kan hoe vroom probeer wees, maar die kerk behoort telkens te dawer dat dit in die eerste plek gladnie daaroor gaan dát jy glo nie, maar eerder wát jy glo. Die inhoud van ons geloof, Jesus Christus, is die enigste rede dat ons wankelende geloof enige waarde het. Maar vir hulle wat die gereformeerde leer glo is die “hoe” ook belangrik. Die Meester wat ons uitnooi om rus by Hom te vind en om sy juk op te neem, leer ons onbeskaamd dat sy juk ook ’n hoe-kant het: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele...”

Dit help niks om die woorde te ken om ʼn  leerstuk te verduidelik terwyl sonde verdra word nie. ʼn Leer sonder ʼn lewe wat dit ondersteun is ʼn aanklag en nie ʼn aanwins nie. Dit is ’n tragiese dag as ons hieroor begin sê: “Maar nou ja, wie doen nie so hier en daar iets verkeerds nie? In alle huwelike is mos haakplekke. Alles is nie altyd waar wat ons sê nie. Skinder ons nie maar almal nie? Die belastinggaarder hoef nie alles te weet nie. Gelukkig is ons darem gereformeerd.” Wat dan gebeur, is dat ons onnself op ’n baie subtiele wyse laat vang het. Ons het begin staat maak op die eksterne kant van ons leer en nie op Christus nie. Die hoe van ons geloof is belangrik. Die hoe help ons om dieper as die eksterne kant van ons leer te kyk, om ook na die siel daarvan te kyk. Christus is baie duidelik oor die hoe. As ons by Hom geleer het en die vrug daarvan is nie nederigheid, sagmoedigheid en rus nie, is daar iets fout met ons wat-kant. ’n Gereformeerde leer wat nie hierdie vrugte dra nie, is nie werklik gereformeerd nie.

 

TOP