Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Hangkas bediening

Koolstoof

'n Spreker maak onlangs die opmerking dat daar nie 'n voedseltekort in Suid-Afrika is nie, maar wel ’n verspreidingstekort. Daarvoor, sê hy, bestaan daar ʼn oorgewig getuienis.

My gedagtes neem onwillekeurig ʼn vinnige vlug na ʼn praktiese bewys van die stelling. Party het te veel en mors en ander het weer te min het en ly gebrek, maar dit lyk soms of die tendens in een persoon waargeneem kan word. Moenie vraagtekens met jou wenkbroue maak nie. My waarneming word deur menige Jan Alleman bevestig. Die verspreiding wat volg op voedsel inname konsentreer dikwels op net een plek in die liggaam.

Heelwat manne sal moet erken dat die balans tussen die omtrek van die borskas en die tamboer nie meer in balans is nie. Die borskas wat hangkas geword het, is te gou van te veel van ons die waarheid. Dat die oneweredige verspreiding gevolge het, spreek vanself. Dink net aan die spanning wat hieruit voortvloei. Jy het spanning om dit vol te hou, toe te hou en onopsigtelik te hou.

Op ’n ernstiger noot: Dit raak ʼn bron van spot vir baie, ʼn verleentheid vir die vrou, en skudgevoel vir die “slagoffer.” Ja, dit raak ons gesondheid en, toegepas op dominees, dit raak ons bediening.

In ʼn mediese verslag oor ons mediese fonds lede word aangetoon dat 40% aan bloeddruk kwale en nog 11% aan ander hartverwante siektes en spanningsverwante toestande ly. As gevolg van die risiko’s word bereken dat 60% van ons bedienaars eintlik baie ouer is as wat die geboortesertifikaat getuig. Minder as 10% van ons bedienaarsgesinne is by gereelde oefening betrokke. Onthou dat die statistiek mans, vroue, en kinders insluit en die prentjie lyk, wel – baie ongesond.

Binne hierdie omstandighede “staan” of is dit “ly” ons in die bediening. Is dit dalk te veel appeltert en melktert met huisbesoek? Is koffie en tert die oorsaak van ʼn hangkas bediening? Verkeerde voedselverspreiding kan jou bediening moeitevol maak, ja erger nog, vol skete en selfs onvolhoubaar. Of is dit dalk volhoubaar vir die res van jou lewe ... wat binnekort gaan eindig?

’n Wyser kosverspreiding kan maak dat ons agter die hangkas uitkom en met lus en nuwe krag ons roeping vervul. Dit is deel van ons oefening in die godsaligheid. Is dit nie ons verantwoordelikheid as Geesvervulde gesante van God nie?

Van agter ’n kleinerwordende hangkas. 

 

TOP