Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

'n Vrees vir die eie kan vernietigend wees

        

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Twee Europese skrywers, Roger Scruton en Thierry Baudet, het onlangs 'n interessante woord deel van die groot gesprek gemaak met verskeie artikels en selfs 'n boek oor “oikofobie”.

Baudet beskryf in sy publikasie, wat ook die naam “Oikofobie” dra, dat dit 'n verwysing is na “De angst voor het eigene”. Oikofobie word afgelei uit die Grieks waar “oikos” na huis en “fobos” na vrees verwys. Oikofobie verwys na 'n fenomeen wat byna soos die Groot Griep van 1918 deur die hele Europa versprei. Europeërs vrees woorde soos identiteit, nasionaliteit en selfs net 'n effense verwysing na die behoud van kultuur, tradisies, taal en geloof.

Weens deelname aan die Europese Unie en ook weens 'n liberale immigrasiebeleid en die toestaan van assiel aan duisende mense uit die derde wêreld, word die identiteit van Nederlanders, Vlaminge, Duitsers, Franse en ander nasionaliteite toenemend bedreig. Uit 'n vrees om vreemdelinge sleg of ontuis te laat voel, skram Europeërs weg daarvan om met trots hul kultuur te beoefen en selfs om enige kritiek teen ander kulture te lewer. Die probleem raak so erg dat mense eintlik probeer om hul eie geskiedenis en kultuur op te sê en 'n soort globalistiese kultuur uit te leef. In byna alle Europese lande neem onderwys in Engels as wêreldtaal, tans toe. Godsdiensbeoefening neem af en die beoefening van tradisies en kultuuraktiwiteite verdwyn onder 'n jonger kultuurlose generasie van mense wat nie meer weet hoe om met hul volkswees te assosieer sonder om as neo-Nazi’s gebrandmerk te word nie.

Kritiek teen Moslems en die toenemende Islamitisering van Europese stede soos Amsterdam, Rotterdam, Antwerpen, Brussel en Parys word deur die politieke elite veroordeel en as een van die grootste sondes uitgemaak. Politici soos Geert Wilders in Nederland, Jesper Langballe in Denemarke, Jean-Marie Le Pen in Frankryk en Elizabeth Sabaditsch-Wolff in Oostenryk is al hieroor hof toe gesleep en in die openbaar deur die media en politieke leiers veroordeel. Heelwat gewone landsburgers vrees vir die verval van hul kultuur en is bekommerd oor die Islamitisering van hul lande, maar kan hulself nie in die openbaar daarteenoor uitspreek nie. By die stembus kry partye soos die “Partij voor die Vrijheid” in Nederland, “Front Nationale” in Frankryk en die Deense “Volkspartij” toenemend goeie steun soos wat burgers protesstemme teen die liberale politieke elite uitbring. Die meerderheid van mense in Europa is egter reeds so gebreinspoel deur die media, die onderwys, universiteite en liberale politici, dat hulle steeds hierdie oikofobie uitleef.

Die gevolg van oikofobie is egter ook 'n voortdurende soeke na iets om mee te assosieer. Wanneer jou geloof, kultuur en taal nie meer vir 'n jou fondament is nie, leef jy soos 'n uitgekapte boom wat nie meer in die aarde gewortel is nie. Die gevestigde bestaan van ‘n woud met eenderse bome wat saam 'n bestaan voer is vandag taboe.

Baudet vra in sy boek die belangrike vraag of die wêreld werklik meer vry en veilig sal wees indien die nasiestaat wat op 'n basis van gedeelde waardes en 'n gesamentlike kulturele identiteit gebou is, stelselmatig afgebreek word. Is die wêreld 'n beter plek sonder ons tale en kulture? Hy verwys ook na die totale afstand wat deesdae van die Christelike geloof gedoen word. Nederland was vir lank bekend as steunpilaar van die Protestantse geloof. Kan 'n land soos Nederland werklik homself as 'n beter tuiste vir sy mense beskryf wanneer byna niemand meer die Christelike geloof aanhang nie? Is die groot waarde wat ons geloof tot 'n land soos Nederland toegevoeg het nie genoeg rede om te besef dat geloof wel 'n rol in vandag se moderne samelewing het nie?

Die aanhang van die Christelike geloof en die aktiewe beoefening daarvan word as outyds, eng, verkramp en soms selfs fascisties in party Europese lande beskryf. Die ekstremistiese elemente van die Islam-geloof mag egter nie veroordeel word nie.

Baudet maak die gevolgtrekking dat oikofobie Europa as die bakermat van 'n Eerste Wêreldbeskawing sal vernietig. Die enigste alternatief is om weer 'n trots vir die eie te ontwikkel.

Die Afrikaner beleef vandag ook toenemend 'n soort oikofobie. Veral in die media moet ons gedurig Afrikaners aanhoor wat probeer om tog nie te Afrikanerrig oor te kom nie. Ook ons geloof word afgekraak en 'n kultuur van bandeloosheid, handeldryf op Sondae, en feitlik alles wat indruis met konserwatiewe Christelike tradisies, word veroordeel. Die drang om in 'n globale wêreld aanvaar te word maak dat mense selfs verengelsing op hulself laat afdwing. Ook die moderne Afrikaanse musiek, boeke en teater lewer ‘n groot bydrae hiertoe. Ons het 'n hernude besef nodig dat jy met 'n liefde vir identiteit steeds suksesvol kan wees. So sal ons hier en in Europa die probleem effektief kan teenwerk. Afrikanerorganisasies en veral ons kerke sal 'n groter rol moet speel om ons mense weer opgewonde te maak oor dit wat ons Afrikaners maak naamlik ons geloof, taal, kultuur en tradisies. Egte liefde vir die eie is mos juis die manier om ook reg te laat geskied aan die opdrag om jou naaste soos jouself lief te te hê. 

 

TOP