Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Afvalligheid onder Afrikaners het ʼn werklikheid geword

Soos iemand wat verveeld vir die soveelste keer die veer van die staanhorlosie in die gang opwen, berig Rapport om die draai van elke jaar oor die aantal lidmate wat die NG Kerk dáárdie jaar verloor het.

Ook hierdie jaar is ons die treurmare nie gespaar nie. Op 12 Januarie verskyn ʼn meningstuk wat aanvoer dat die NG Kerk hierdie jaar 36,606 lidmate verloor het, dat 86,000 oor die afgelope 3 jaar verloor is en 461,000 sedert 1985.[1]

Die AP Kerk spring ook nie die beskuldigings vry wat die meningskrywer rig nie. Hy skryf: “Sommige voer aan dat politiek ʼn rede is vir die NG Kerk se dalende lidmaatgetalle. Hulle sê dinge soos die kerk se verwerping van apartheid en die debat rondom die Belhar-belydenis het baie lidmate so die josie in dat hulle die kerk verlaat.

As dit waar was, sou ʼn mens verwag dat die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), wat slegs wit lidmate toelaat, moes groei. Maar dit het nie gebeur nie. Die APK krimp ook.

Die versoeking tree gou na vore om die boodskap met die boodskapper te verwar en op grond van die bedenklike teologie waarvoor laasgenoemde bekend is,  af te skiet.[2]

Tog is die statistiek wat die skrywer voorhou dodelik akkuraat. Niks illustreer dit duideliker as die lidmaatsyfers van die bekende Tweetoringkerk in Bloemfontein nie:[3]

Hoe gebeur dit dat die gemeente van ds. Andrew Murray en ds. JD Kestell by die laaste telling slegs 24 belydende lidmate oor het?

Die skrywer van bogenoemde meningstuk het gelyk dat die politieke standpunt binne ʼn kerk nie ʼn bepalende faktor is wat mense aantrek tot die kerk nie. En dit hoort ook so. Die Kerk se rol is nie om  partypolitiek te pleeg nie, maar om die bruid van Christus te wees, die gemeenskap van die Heiliges te beliggaam en om vissers van mense te wees.

Die Kerk loop ʼn besonderse gevaar wanneer sy afdwaal en haar geestelike roeping verwar met ʼn partypolitieke een, ongeag of dit linkse politiek of regse politiek is. Dit is dus nie bloot ʼn geval van die verkeerde politiek verkondig nie, maar om hoegenaamd party-agtige politiek te verkondig, wat gevaarlik is.

Beteken dit dat die Kerk hom glad nie op die politieke terrein mag waag nie? Inteendeel. Die belydenis dat Jesus die Here is, ook van die openbare lewe, het verreikende politieke implikasies, maar dit beteken nie dat kerke in diens staan van linkse en regse agendas nie. Alle politieke agendas word deur kerke onder die soeklig van die Woord geplaas. En die kerk moet ook sy lidmate begelei in hul optredes wanneer politieke besluite hul lewens beïnvloed.

Die lidmaatgetalle van die Tweetoringkerk dui aan dat politiek wel  ʼn impak op die geestelike lewe het. Die tydperke van groei en afsterwe wat die Tweetoringkerk beleef het is ten nouste vervleg met die opkoms en val van Afrikanerselfbeskikking in die kern van hierdie voormalige Afrikanerstad.

Toe Afrikaners polities ontmagtig is en verban is uit die werksgeleenthede wat die middestad bied, was dit onvermydelik dat Afrikanerkerke saam met Afrikaners uit die middestad sou verdwyn.

Kerkgemeenskappe het ʼn verantwoordelikheid om hul lidmate se geestelike en stoflike swaarkry te verlig. Die Wet en Verlossing word bedien saam met brood en wyn,  en die diakonie moet na die swakkes en weerloses omsien. Daarom moet die Kerk die politici daarop wys wanneer hulle wetgewing aanvaar wat die geestelike of stoflike welstand van haar lidmate kan verswak.

Dit beteken ook dat Kerke hul lidmate moet bystaan om die gevolge van onafwendbare politieke besluite te verduur, troos te bied en uiteindelik volhoubare antwoorde daarop te help vind.

Die goue draad is dat die gemeente as liefdesgemeenskap ten nouste betrokke by mekaar moet wees, mekaar in die geloof moet sterk, in mekaar se fisiese behoeftes moet voorsien en Christus se lamp by die voet help wees, ook waar politiek besluite hulle in die steek mag laat.[4]

Het ons die impak van ons verlies aan selfbeskikking na waarde geskat? Of het dit stil soos ʼn groot droogte gekom, wat aanvanklik sy tol net van enkele swakkes eis, maar later dreig om almal in stilte te verswelg?

Die NG Kerk het reeds in 1986 besluit om afstand te doen van sy tradisionele rol as volkskerk vir Afrikaners, soos uitdruklik aan die media gestel deur dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk. Dr. Gerber het dit uitgespel nadat prof. Hermann Giliomee tydens verlede jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees die kerk gevra het om  te besin oor die verhouding wat hy het met die volk waarin hy geplaas is.[5]

In 1987 is die AP Kerk gevorm om ʼn Kerk vir Afrikaners te wees. Die kritiek is egter geldig dat ons nie die 461,000 Afrikaners wat die NG Kerk verlaat het kon opvang nie en dat ons self lidmate verloor. Kan ons uit die foute van Europa, die NG Kerk en ons eie leer? Hierin lê ons grootste uitdaging.


[1] http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Krisis-kom-vir-lee-kerke-20140111

[4] Volgens die antwoord op vraag 55 (Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?) in die Heidelbergse Kategismus: “ Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”

 

TOP