Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die kerkgemeenskap as antwoord op vervreemding

  

Een van die verliese wat die moderne samelewing die skerpste voel is die verlies van 'n gevoel van gemeenskaplikheid. Ons is geneig om te dink dat daar eens 'n mate van buurmanskap was wat vervang is deur genadelose anonimiteit, deur die strewe na kontak met mekaar hoofsaaklik vir individualistiese doeleindes: vir finansiële gewin, sosiale vooruitgang, of romantiese liefde. - Alain de Botton

Oral ontmoet ek mense op soek na hul plekkie in vandag se geglobaliseerde wêreld – so asof hulle nêrens meer tuis voel nie. Die konsep van vervreemding word toenemend regoor die wêreld as ‘n produk van die individualisme geïdentifiseer. Vervreemding bring mee dat ‘n mens, ten spyte van sukses as individu, steeds bly soek na iets groter wat geluk en vervulling kan meebring.

Die moderne mens is 'n verstedelikte wese wat toenemend individualisties ingestel is. Hierdie moderne wese het weens sy omstandighede vervreemd geraak van ʼn duidelike gemeenskap. Sy woonbuurt, kerk, kultuurgemeenskap en selfs uitgebreide familie speel 'n afnemende rol in sy gejaagde lewe.

Reeds in 1961 skryf die Amerikaanse akademikus Robert Nisbet oor vervreemding. Nisbet koppel die verbrokkeling van die konkrete gemeenskap direk aan die vervreemdingswerklikheid: “Ek glo dus dat die gemeenskap die noodsaaklike konteks is waarbinne moderne vervreemding in ag geneem moet word. Hier verwys ek nie soseer na 'n toestand van die gees nie - hoewel dit onvermydelik daarby betrokke is - as wat ek verwys na meer konkrete sake soos die individu se verhouding tot sosiale funksie en sosiale gesag. Daar is talle mense vandag vir wie die massiewe veranderings van die afgelope eeu 'n ontwrigting beteken het van: die uitgebreide familie, die omgewing, vakleerlingskap, sosiale klas en gemeente.”

Nisbet maak ‘n sterk saak uit vir die rol van die familie, kerkgemeente en ander tusseninstellings in die funksionering van die individu binne sy gemeenskap. Hy voer aan dat die meeste mense binne gesag (authority) en strukture wil funksioneer en dat die meer ideale scenario een is waar hierdie gesag en struktuur deur vrywillige assosiasie met gemeenskapsinstellings soos kerke, skole, kultuurorganisasies en ‘n gebonde woonbuurt of dorp verkry word. In sy boek, A Quest for Community, wat reeds in 1953 verskyn het maar vandag meer as ooit vantevore op die Afrikaner van toepassing gemaak kan word, beskou hy die gevolg van hierdie individualisering as die opkoms van ‘n sterk staat wat toenemend mag binne homself sentreer en bykans in vyandigheid teenoor die georganiseerde gemeenskap en sy instellings staan. Die individu wat hom los maak van sy gemeenskap, verantwoord hom toenemend direk aan die staat en is afhanklik van die staat vir dienste, struktuur, gesag en selfs ‘n waarderaamwerk.

Waar toegelaat word dat ʼn sterk Afrikanerkultuurgemeenskap verdwyn, sal mense uiteindelik hulself by ander vorme van gemeenskap aansluit. Ons moet die konsepte van buurmanskap, deelname aan aktiwiteite van ‘n woonbuurt, deelname aan skool-, kerk-, kultuurorganisasie en ander burgerlike organisasie-aktiwiteite en die bou van ‘n aktiewe gemeenskap wat sy eie waardes, gesag, regulasies en stelsels bepaal, vooropstel.

Prof. Koos Malan skryf in wat sekerlik een van die belangrikste boeke is wat in jare in Afrikaans verskyn het, Politokrasie, die volgende: “Sedert die staat daarin geslaag het om godsdiens as die enigste politieke kategorie opsy te skuif, waak dit jaloers oor sy monopolie oor die openbare domein. Individue moet dus voorkeur aan hulle verbintenis met die staat gee en moet bowenal in die eerste plek staatsburgers wees. Dienooreenkomstig koester die staat ‘n diep afkeur van enige groepvorming in die staat wat in die openbare domein ‘n beslag mag kry en dus aan die staat ‘n bepaalde identiteit eie aan ‘n groep (godsdienstig, taal, kultureel, etnies of dergelik) mag besorg, of wat ‘n verdelende effek mag hê.

Keer op keer voel mense bevry wanneer hulle die “juk” van kerk, kultuurorganisasie of watter gemeenskapsbetrokkenheid ook al afskud, net om onder die harde gesag van ‘n regering in te val. Tog kan min mense sonder gesag en struktuur funksioneer. Gesag en struktuur wat van onder (uit die gemeenskap self) eerder as van bo (‘n regering) kom, is juis nie daar om te onderdruk nie, maar eerder om te bevry. Vryheid beteken egter nie om jouself te bevry van wie jy is nie, maar eerder om vry te wees om te wees wie jy is.

Die kerk het vandag 'n groot rol om te speel. Dit is juis deur die kerkgemeenskap wat egte vervulling en die verwesenliking van ʼn gelukkige lewe moontlik word. 

 

TOP