Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Bewakers onder skoot

  

`n Dame wie se man in die polisiediens was en in `n skietery met rowers gewond is, vertel my onlangs van die spanning waaronder hulle lewe. Elke keer as die foon lui en hy op diens was het sy gevrees dat dit slegte nuus oor hom sou wees - nuus wat toe wel op `n dag gekom het.

Haar spanning was regverdig. Vandag moet die manne nie net koes vir lood, klippe en brandbomme nie maar ook vir die skerp messe van die media. Dit is natuurlik nie iets nuuts nie. Ook in die vorige bedeling was die Polisie erg gekritiseer as hulle opgetree het teen die publiek, veral tydens onluste. Toe was dit wit wat teen swart opgetree het en die kritiek het  meestal gekom vanuit politieke oorde.

Ons moet eerstens erken: Waar daar mense is, sal daar altyd `n element van misdadigheid, wat die misbruik van mag insluit, gevind word. Die Polisie was nog nooit hiervan uitgesluit nie. In ons dag is dit een van die beskuldigings wat oral gehoor word. Die korrupsie is so erg dat baie mense liefs nie die Polisie skakel om hulp nie. Tog moet daar ook simpatie wees met die situasie soos dit op die oomblik ontwikkel. Van die Polisie word verwag om opstande te beheer onder groot dele van ons land se inwoners. Nou kan daar nie meer gesê word dat die mense vryheidsvegters is nie. Die mense wat tans beheer moet word, is simptome van die regering se onvermoë om die land te regeer. Dit is mense wat met onrealistiese beloftes gevoer word.

Daar word bereken dat daar die afgelope drie maande sowat 570 opstande net in Transvaal was teen plaaslike owerhede se gebrek aan vaardigheid. Dit is teen hierdie agtergrond wat die optrede van die Polisie beoordeel moet word. Hulle moet `n korrupte stelsel verdedig wat die gevolg is van `n onwerkbare beleid. Terwyl baie van hulle seker simpatie het met die opstandelinge word van hulle verwag om op te tree. Wat die spanning verder verhoog is die aard van die opstande. Dit is gewelddadig en ontsien niks of niemand nie. Woede en frustrasie is daarom gerig teen eiendom en dan die persone wat namens die regering daar is om orde te handhaaf – die Polisie. Dat daar talle ongevalle is word betreur, maar dat die Polisie nou as die muishonde geteken word, gee net te gemaklik aan ’n swak regering die vrypas om verder kwaad te stig met sosialistiese beloftes.

Hierdie toestand laat mens opnuut besef hoe noodsaaklik dit is dat ons voorbidding moet doen vir ons Polisie beamptes. Daarmee saam sal die Afrikaner moet besef dat hy maklik ingesluk kan word deur hierdie bedwelmende gees van rebellie wat al erger word. Die behoefte aan die hantering van ons eie sake binne ons eie gebied raak al dringender.  

 

TOP