Ek dink dat mens met hierdie opskrif by die kern kom van die debatte wat gedurende Maart 2019 in kerklike kringe en ook die media gevoer is.

Eers was daar die hofuitspraak van 8 Maart rakende die NG Kerk se 2016-sinodebesluite betreffende homoseksualisme wat tersyde gestel is en die NG Kerk wat later besluit het om nie daarteen te appelleer nie, toe is dit die terroriste-aanval op 15 Maart deur Brenton Tarrant op twee moskees in Nieu-Seeland. Dit is opgevolg deur ’n artikel in Kerkbode oor ʼn “kerswaak” wat op 17 Maart in Kaapstad gehou is waar Christene in solidariteit met hulle “Moslembroers en –susters” byeengekom het om in stilte vir die slagoffers te bid. ʼn Plaaslike leraar van die Groote Kerk in Kaapstad (NG Kerk) het hulle besluit soos volg gemotiveer: “In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”

Hierdie uitlatings van Moslems as Christene se broers en susters en ook as kinders van God, het tot ʼn debat gelei wat selfs die voorbladnuus vir die Sondagkoerant Rapport van 24 Maart was. Danksy moedswillige joernaliste wat sensasie soek deur “bid vir” en “bid saam” doelbewus om te ruil, en ook mense wat net die opskrif lees en dan kommentaar lewer sonder om die artikel self te lees, is die bekende kenwysies van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid saam met beskuldigings van haat, selfregverdiging en hoogmoed baie vinnig gefluit.

Dit wil vir my lyk asof die oorgrote meerderheid van mense wat die sleutelbord opgeneem het, ongeag die kant van die stryd waaraan hul hulself bevind, dit vanuit ʼn passievolle oortuiging van liefde vir hulle medemens gedoen het. Hoe hierdie liefde lyk en wat dit behels, is egter die punt waar die paaie uitmekaar loop. Die gevaar van verskillende definisies van liefde is juis dat liefde dan herdefinieer word en so kry ons dan die gevolglike herdefiniëring van wat ʼn Christen of die Kerk nou werklik is. Die oomblik wat ek my persoonlike voorkeur, die tydsgees, my kultuur of die oorgelewerde tradisie die maatstaf maak waaraan ek iemand se begrip van liefde gaan toets, is ek in die modderige slik van subjektivisme. Al manier hoe mense mekaar hieroor gaan vind, is wanneer hulle saam onder die gesag van die Woord van God as absolute norm buig. Die vraag is tog: Hoe lyk die kinders van God se liefde vir Moslems, terroriste en homoseksuele? Genadiglik laat God nie sy kinders hieroor in die duister nie.

Daar is geen regverdiging vir die gruweldaad in Christchurch nie. Dit herinner ons aan die inherente boosheid van die mens. Hier is iemand wat homself beskryf as ʼn “Eco-fascist” wat ter wille van omgewingsbewaring stry teen oorbevolking, terwyl hy reken die nasie met die politieke en sosiale waardes naaste aan sy eie, is die kommunistiese Volksrepubliek van China. Al die reaksie op hierdie massamoordenaar is ook verstaanbare uitdrukkings van mense se skok, afgryse, verdwaasdheid, ontnugtering of vrees. As Christene voel ons aan dat ons reaksie anders moet wees. As mense wat danksy Christus se versoeningswerk aan die kruis toegang tot die troon van God gekry het, is ons toevlug dus eerstens tot Hom. Almal wat op enige manier deur hierdie bose tragedie geraak is, is mense wat deur God na sy beeld geskape is. Die oorsaak van hierdie tragedie is ten diepste omdat die mens as skepsel in opstand gekom het teen sy Skepper. Om enige van sy skepsels te vermoor, is om jou aan die Skepper te vergryp.

Om jou tot die troon van die almagtige Skeppergod te wend, is egter baie meer as ʼn mistiese byeenkoms wat mense wil laat goed voel, omdat hulle ook nou ʼn standpunt ingeneem het teen iets wat hulle met weersin vervul. Dit is méér as solidariteit met die slagoffers. Dit is juis ons solidariteit met die moordenaar wat ons na ons knieë behoort te dryf.

As God Hom oor ʼn sondaar soos ek en moordenaars soos Dawid en Saulus kon ontferm, wie is ek om te dink dat sy genade nie ook hierdie terroris tot inkeer kan bring nie? Dit het immers met die Amerikaanse reeksmoordenaar Ted Bundy gebeur! Dit is wat met elke gelowige gebeur het toe Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8).

Ons moet daarteen waak om nie soos Jona van ouds te wees wat vir die Here kwaad was toe Hy nie die stad Nineve ná hulle berou verwoes het nie. Daarom bid ons vir Brenton Tarrant en sy verlossing, want as hy nie tot inkeer kom nie, gaan hy voor die regterstoel van God staan. Wanneer God sy heilige woede en oordeel oor hierdie sonde uitspreek, dan gaan dit al die openbare reaksie by verre oortref. Een ding is verseker en dit is dat God hierdie boosheid nie oorsien en ongestraf sal laat bly nie. Óf Brenton Tarrant gaan tot in ewigheid in die hel self daarvoor betaal, óf dit was deel van Jesus Christus se helse smarte aan die kruis. Christene mag ook oor hierdie bose daad kwaad word, maar as wedergeborenes lyk ons kwaad anders. Ons lees mos in Efesiërs 4 Word toornig en moenie sondig nie (26); Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ʼn woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor (29); Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid (31) God is ʼn regverdige Regter en ons hoef nie ʼn massa-optog of –betoging te hou om reaksie van Hom te kry nie. Nederig bewus van ons eie sondigheid, bid ons dat hierdie terroris tot bekering kan kom en dat God regverdig sal oordeel.

Ons bid verder vir diegene wie se geliefdes vermoor is, sonder dat hulle Jesus Christus as Verlosser ken, want ons weet die enigste ware troos is by Hom wat die dood oorwin het. Daarom bid ons dat die Here hierdie gruweldaad sal gebruik om geleentheid te bied vir gesprekke waarin daar van die ware evangelie van Jesus Christus getuig kan word, sodat mense Hom waarlik sal leer ken soos wat Hy Homself aan ons bekendgemaak het. Ons staan nie koud teenoor al die boosheid en onreg in hierdie wêreld nie, maar kan met hoop op Christus lewe omdat Hy met al die onreg sal afreken.

Ons bid vir die krag om die vermaning van 1 Petrus 2:12 in hierdie tye ter harte te neem: hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou het, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

Hierdie selfde liefde wat ons openbaar teenoor ʼn terroris soos Brenton Tarrant en teenoor die ongelowige familielede van sy slagoffers, is ook die liefde wat gelowiges teenoor homoseksuele mense en hulle geliefdes behoort te betoon. God en sy genade is groot genoeg om hulle van die gruwels van hulle sondes te bevry, net soos wat ons daarvan bevry is. Daarom moet ons elkeen met respek hanteer, terwyl ons vanuit ʼn daadwerklike besorgdheid oor hul ewige saligheid teenoor hulle getuig van die verlossingswerk van Jesus Christus. Ek het niks om op te roem nie, maar omdat ek die Here se genade vir sondaars leer ken het, wil ek ander ook daarin laat deel. As ek dit nie doen nie sal dit die grootste liefdeloosheid wees. Ware liefde en omgee lê nie in hoeveel kerse jy brand of hoeveel reënboog-strikkies jy dra of hoeveel trane jy saam gestort het nie. Dit lê alleenlik in die evangelie van Jesus Christus.

 28 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial