Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Wie of wat hang óns aan die kruis op?

.....

Die afgelope twee weke was daar groot ontsteltenis oor ’n foto van die sg. “McJesus-kunswerk”. Die Finse kunsternaar, Jani Leinonen, se kunswerk waarin die McDonalds-figuur, Ronald McDonald, as Jesus aan die kruis uitgebeeld word, was deel van ’n uitstalling wat in die Haifa kunsmuseum in Israel gehuisves is. Die uitstalling getiteld “Sacred Goods”, het ten doel gehad om geloof en godsdiens binne ’n verbruikerskultuur uit te beeld.

Die verspreiding van die foto op sosiale media het duisende Christene warm onder die kraag gehad en tot betogings voor die museum gelei. Daar is aangedring op die verwydering van die kunswerk weens die aanstootlike en beledigende aard daarvan. Die museum se oplossing vir die probleem was egter nie om die kunswerk te verwyder nie, maar eerder om ’n bordjie by die ingang tot die uitstalling aan te bring waarop besoekers gewaarsku word dat van die uitstallings moontlik aanstoot kan gee.

Dié kunswerk het in Suid-Afrika ook opslae gemaak toe ’n foto daarvan wyd op sosiale platforms versprei is met die versoek om die kitskosreus, McDonald’s, te boikot. Intussen het Mcdonald’s Suid-Afrika hulle egter van die kunswerk gedistansieer.

Uit die staanspoor moet dit duidelik gestel word dat, ongeag die beweerde bedoeling van die kunswerk, dit van swak smaak getuig en uiters onsensitief teenoor Christene is. Christene is met reg ontsteld. Selfs erger as die feit dat die beeld ’n bespotting van Christelike simbole en historiese gebeure soos die kruisiging van Christus maak, stroop dit Jesus Christus van sy unieke karakter as enigste Verlosser van die wêreld deur Hom te verlaag tot die vlak van en gelyk te stel aan ’n afgod soos “verbruikersmentaliteit”. Hy sal nooit maar net nog ’n verlossingsfiguur tussen ander verlossingsfigure wees nie, aangesien die saligheid in niemand anders is nie en daar geen ander naam is waardeur ons gered kan word nie (vgl. Hand. 4:12).

Ten spyte van ’n mens se weersin in die kunswerk, kan jy nie help om te wonder of ons nie maar dieselfde doen nie? Het Leinonen nie in ’n sekere sin baie goed daarin geslaag om baie van ons se geestelike ingesteldheid uit te beeld nie? As flukse kuberkrygers kon ons nie wag om hierdie foto en ons ontsteltenis daaroor met ander te deel en hulle tot aksie op te roep nie. Die vraag is egter of ons bereid is om konsekwent te wees? Word ons net so warm onder die kraag en kook ons bloed teen dieselfde temperatuur wanneer óns of óns samelewing iets of iemand anders in die plek van Jesus aan die kruis vasspyker? Is die oorverdowende stilte hieroor nie dalk ’n bewys van ons eie skynheiligheid nie?

Die motief agter Leinonen se kunswerk druk beslis op ’n gevoelige senuwee. In die moderne samelewing waarin ’n verbruikerskultuur hoogty vier, speel baie Christene se Christenskap tweede viool. Ons waardes en beginsels word bepaal deur ons begeerte om altyd meer en beter te hê. Daarom oortuig ons onsself dat dit “nodig” is om ons besighede ook op Sondae oop te maak, anders gaan ons te veel verloor. Luister jy na die treurmares van die inwoners van Suid-Afrika dan het selfs die rykes áltyd te min! Soms is ons selfs bereid om valse getuienis af te lê en onskuldige mense se lewens te vernietig net omdat die belofte van “meer” soos ’n geelwortel voor ons neuse geswaai word.

Party van ons se afgode is darem bietjie meer “eerbaar”, of so reken ons. Dit is egter ’n hartseer dag wanneer ons ons hoogste waarde in ons lewensmaats of ons kinders se liefde en aanvaarding vind. Wanneer my man of my vrou of my gesin die belangrikste rede vir my bestaan is, of die grootste impak op my optrede het of as ek selfs bereid is om sekere Christelike waardes, soos byvoorbeeld huisgodsdiens, prys te gee ter wille daarvan om niemand in my huis te verontrief nie, is dit ’n kwade dag. Die Here Jesus het ons juis hierteen gewaarsku toe Hy gesê het: Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo my liefhet, is My nie waardig nie (Mt. 10:37).

Dan is daar natuurlik nog die kwessie van eiesinnigheid – ’n afgod wat die mens en sy eie begeertes in die middelpunt plaas. Ook genoem liberalisme. Dit is wanneer hierdie afgod aan die kruis vasgespyker word, dat ’n stad soos New York die vreugdevure aansteek en verskeie landmerke in pienk laat verlig ter viering van die goedkeuring van ’n nuwe wet wat aborsie tot met geboorte goedkeur. Die voordeel van hierdie afgod is dat dit jou toelaat om trots te wees op jou Afrikanerskap sonder om skuldig te voel oor iets soos jou seksuele losbandigheid. Dit laat jou besef dat Samuel se waarskuwing aan koning Saul dat eiesinnigheid afgodery is (1 Sam. 15:23), nog nooit aktualiteit verloor het nie.

In Suid-Afrika roep ons mekaar gereeld op om na God terug te keer, maar is ons regtig bereid om meer te doen as om maar net vir Hom ’n ereplekkie tussen ons ander gode te gee? Die Here onse God is ’n jaloerse God wat onverdeelde trou eis. Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE (Deut. 6:4). Nie net is Hy die enigste ware God nie, maar Hy is ook uniek. Sy uniekheid is ten diepste te vinde in die feit dat Hy sy geliefde Seun gestuur het om ons uit die slawerny van ons afgode te bevry. Ons mag dalk vir Ronald McDonald of enige van ons geliefde afgode aan die kruis vasspyker, maar uiteindelik is daar net Een wat namens ons kan sterf en uit die dood opstaan: Jesus Christus. Hý is ons hoogste vreugde en die diepste sin vir ons bestaan sodat ons geen ander gode voor God se aangesig wíl dien nie. Op grond van hierdie uniekheid roep Moses ons in Deuteronómium 6:5 op: Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.

 

TOP