Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Eiendomsreg in die Ou Testament

.....

Die kwessie van eiedomsreg is ’n onderwerp wat vandag in Suid-Afrika tot vuurwarm debatte lei. Populistiese uitsprake deur politici dat wit mense die grond in Suid-Afrika gesteel het en dit moet teruggee, het gelei tot die ANC se voorneme om die grondwet te verander sodat onteiening van eiendom sonder vergoeding wettig kan plaasvind. Daarmee is die lont vir ’n moontlike ontploffing aan die brand gesteek.

Dit was interessant en bemoedigend om in Amerika te verneem dat reg op privaatbesit hoog geag word as een van die grondslae van ’n vrye samelewing. Meer as een van die onderwerpe wat aangebied is by die konferensie wat ons bygewoon het, het oor dié saak gehandel. Ek het die lesing oor eiendomsreg in die Ou Testament bygewoon, aangebied deur prof. John Bergsma van die Franciskaanse Universiteit van Steubenville.

Bergsma het daarop gewys dat besigheid en selfs eiendomsreg dikwels in die hedendaagse kultuur as inherent boos voorgestel word. In die lig daarvan het hy die vraag probeer beantwoord wat ons uit die eerste vyf hoofstukke van die Bybel kan leer oor die plek en verantwoordelikhede van eienaarskap. Wat volg, is enkele pennestrepe uit sy aanbieding.

 

Eiendom en aanbidding

Die saak van eiendom kom reeds in die openingshoofstukke van die Bybel voor. Binne die verbond wat die Here met Adam aangegaan het, het Hy die mens heerskappy oor die skepping gegee. Die mens het die reg om die tuin van Eden te bewoon en van sy vrugte te geniet, maar hierdie voorreg gaan met ’n verantwoordelikheid gepaard, naamlik om die tuin as sy besondere woonplek te bewerk en te bewaak (Gén. 2:15).

Wanneer ’n mens daaraan dink dat die tuin ook die plek is waar God en mens op ’n gereelde basis met mekaar gemeenskap gehad het (vgl. Gén. 3:8), besef jy dat die ekonomiese en liturgiese lewe van die mens ten nouste verweef is. Ekonomiese aktiwiteit is deel van die wyse waarop God aanbid moet word en moet op so ’n wyse bedryf word dat God daardeur verheerlik word.

Die sondeval het ook die eiendomsreg van die mens aangetas. Die Here het die mens uit die tuin gestuur, maar steeds met die opdrag om die grond te bewerk (Gén. 3:23). Die besit van eiendom het egter nou onder die gevolge van die sondeval gely. Die moontlikheid is geopen dat die mens nou onregmatig van sy eiendom ontneem kan word. Hierdie moontlikheid word byvoorbeeld ’n werklikheid wanneer diewe inbreek en steel (Mt. 6:19) of mense deur gewelddadige aksies van hulle grond verdryf word (Rigt. 18:1-2, 27-29).

 

Eiendom as verbondseën

In die geskiedenis wat vanaf Génesis 12 opgeteken is, word gewys op die roeping van Abraham en die verbond wat die HERE hom gesluit het. Die besit van ’n eie land, naamlik die land Kanaän, is ’n belangrike deel van die verbondsbeloftes wat die HERE aan Abraham gegee het. Die besit van eiendom is nou deel van die verbondseën (Gén 13:14-17; 15:18; 26:3; 28:4) en het dit op grond van die verbond familiebesit gemaak. Daarmee is ’n indiwidualistiese en selfsugtige benadering tot eiendom by die wortel afgesny. Die verdere verloop van die heilsgeskiedenis in Génesis toon hoedat hierdie verbondsbeloftes in die verkryging van besittings, d.w.s. persoonlike eiendom, werklikheid geword het: Die nageslag van Abraham sal met baie goed uit Egipte trek (Gén. 15:14); Abraham self was baie ryk aan vee, aan silwer en goud (Gén. 13:2); sy kleinseun Jakob het buitengewoon uitgebrei (Gén. 30:43). Hulle besittings het egter in diens van God se groot verlossingsplan gestaan.

 

Eiendomsreg wetlik beskerm

In die eerste hoofstukke van Exodus lees ons van eiendomsontneming as deel van volksverdrukking. A.g.v. die slawerny is Israel van ekonomiese keuses beroof en was die demografiese beleid van die farao gemik op die uitwissing van Jakob se nageslag. Die verlossing wat die HERE bewerk het, het herstel van ekonomiese en liturgiese vryheid vir Israel gebring. Hulle sou uiteindelik ’n eie land as besitting hê (Ex. 6:1-7) waar hulle die HERE hulle God kon aanbid. Uit die gegewens in Exodus 10:21-26 lei ons verder af dat private besit ’n voorwaarde vir aanbidding is.

Die wetgewing te Sinai leer ons baie aangaande eiendomsreg:

  • Dit word in die agtste gebod beskerm (Ex 20:15).
  • Die verbod op sondige begeertes veronderstel ’n bepaalde vlak van ongelykheid in die samelewing (Ex. 20:17).
  • Die voorskrifte i.v.m. restitusie hou die wettigheid van eiendomsregte in ere (Ex. 22:1-15).
  • Die voorsiening in die behoeftes van die armes is ’n verbondsplig en word aan die aanbidding van die Here verbind (Ex. 23:10-13, vergelyk ook Jak. 1:27).

 

Enkele gevolgtrekkings

Daar is veel meer in die Pentateug te ontdek aangaande eiendomsreg, maar wat sover gesê is, is genoeg om duidelik te maak dat die Ou Testamentiese wetgewing daarop gemik was om persoonlike eiendom, as ’n seën van God, ’n werklikheid vir elke Israeliet te maak. Dit is verder rigtinggewend dat besit van eiendom onlosmaaklik aan aanbidding en familie verbind is. Eiendom word in diens van God en die medemens aangewend en dien op só ’n wyse die gemeenskap met God en die medemens. Selfsugtige en indiwidualistiese gebruik van eiendom was vreemd aan die Ou Testamentiese siening van eiendomsreg.

Hierdie pennestrepe dien as ’n wegspringplek om eiendomsreg in die Suid-Afrikaanse samelewing Bybels te deurdink.

 

 

TOP