Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Waarop roem jy?

.....

In 2015 is ’n ministeriële werkkomitee aangestel om ondersoek in te stel na die geskiktheid van die huidige geskiedenis kurrikulum asook die moontlikheid daarvan om geskiedenis ’n verpligte vak tot matriek te maak. Die bevindinge van hierdie komitee is onlangs bekendgestel, maar voordat daarna gekyk word, moet enige persoon wat oor die aanbieding van geskiedenis wil besin, Christene inkluis, hulself afvra: “Wat is die motief?”

In die verslag word daar onder meer die volgende rede aangebied: “The concern seemed to be that our young people do not appreciate our country’s history and that of the African continent. There was a feeling that history is necessary to inspire the psyche of the nation and in this regard it is more than just ‘another subject’.”

Dit klink alles goed en wel, maar uit ondervinding het ons geleer dat geskiedenis, veral wanneer dit onder die beheer van ’n staat is, meer te doen het met die interpretasie daarvan as met die feitelike oordrag van gebeure wat plaasgevind het. Professor Arthur Marwick beaam hierdie siening as hy skryf: “Many who call themselves ‘historians’ do, indeed, use ‘history’ as a vehicle for expressing their own political commitment.”

As Christene behoort ons dus duidelikheid te hê oor ons eie motiewe wanneer ons begin kyk na geskiedenis en hoe ons te werk moet gaan met die aanbieding daarvan, voor ons te velde trek teen ander. Dalk is dit ’n goeie idee om die vraag vir onsself te vra: “Waarop roem ons?” Wil ons geskiedenis gebruik om dit wat ons vermag het, te vier of dalk dit waarop ons nie so trots is nie, te verdoesel?

As feilbare mense weet ons dat elkeen van ons oor sy eie persoonlike voorkeure, geloof, politieke standpunte, sosiale stand en nog ’n klomp ander veranderlikes beskik. Ons wil almal dink dat ons totaal objektief kan wees, maar dit is bloot nie die geval nie. Indien ons na ’n paar van die mees invloedryke wêreldbeskouings kyk, word dit vinnig duidelik hoe die interpretasie van geskiedenis beïnvloed kan word.

 

Panteïsme

Panteïste glo dat geskiedenis siklies is en siende dat ons gereïnkarneer word, kry ons vele kanse om dinge reg of beter te doen. Die “reg doen” behels dat jy met elke probeerslag meer en meer een word met die kosmiese bewussyn. Aangesien hierdie proses nooit werklik tot voltooiing kom nie, is daar dus ook geen groter doel nie en word geskiedenis bloot die konteks waarbinne die mens ontwikkel na ’n hoër (of laer) staat.

 

Naturalisme

Volgens hierdie opvatting is die geskiedenis ’n liniêre verskynsel wat slegs ’n aantal natuurlike gebeurtenisse is met geen onderliggende doel of spesifieke verwantskap nie. Sekere goed het maar net gebeur sonder dat daar ’n Hoër Hand by betrokke was en die kans is goed dat alles ook op ’n sekere stadium gaan ophou bestaan.

 

Postmodernisme

In samehang met die naturalisme glo die postmodernis ook dat die geskiedenis in werklikheid ’n studie van een kultuur se mag oor ’n ander is. In die verband is waarheid relatief en kan ‘geskiedenis’, of ten minste die vertolking daarvan, aangepas en gemanipuleer word om mense te laat glo wat jy ook al wil hê hulle moet glo.

Hiervolgens kan dié dele van die geskiedenis wat nie aan die huidige meesterverhaal voldoen nie, bloot uitgelaat word. In ons huidige konteks word die grootste gedeelte van Afrikanergeskiedenis byvoorbeeld uitgelaat uit die kurrikulum en die bietjie wat wel geleer word, word verdraai. Sodra daar dan ’n hele generasie op hierdie wyse geleer is, word dit maklik om die Afrikanerjeug met ’n skuldlas oor die verlede te belaai sodat hulle die regverdiging vir hulle bestaan in Afrika sonder enige teenstand betwyfel.

 

Wat sê die Bybel

Die Bybelse siening van geskiedenis kan in drie eenvoudige woorde opgesom word: Skepping, Sondeval en Verlossing. God het die heelal en alles wat daarin is geskape en is steeds in totale beheer daarvan (Ps. 115:3, Spr. 16:9, Gén. 50:20, Rom. 8:28, Jes. 40:22-25, Dan. 2:21-22). Hy het ’n plan met hierdie aarde en die mensdom wat Hy geskape het en Hy is besig om daardie plan uit te voer (Rom. 8:29, Efés. 1:11, 1 Petr. 1:2).

God het die mens gemaak om in gemeenskap met Hom saam te lewe, maar ongelukkig het die mens in sonde verval en het daar skeiding tussen die mens en God gekom en daardeur het die mens oordeel oor homself gebring. God se plan was egter groter as die mens se sonde en deur sy seun, Jesus Christus, se menswording, kruisdood en opstanding is daar hoop vir elke mens om weer met God versoen te word.

Dit is treffend dat God die evangelie vir ons vandag aanbied in die vorm van ’n Boek wat so ryk aan geskiedenis is. Ons ontmoet soveel karakters wat God se storie uitgeleef het en vandag vir ons, deur al die jare steeds sy boodskap oordra. Dit is daarom nie te vergesog om dan ook te erken dat die geskiedenis aan God behoort nie.

Deur die eeue sien ons egter dat daar in verskeie tydperke en onder die mantel van verskeie ideologieë, humanistiese vergrype was wat altyd in tragedie eindig. In die Middeleeue het die Rooms-Katolieke teokrasie gefaal, omdat dit verpligtend en op werke gebaseer was. Die modernisme met sy fokus op die individu en die gepaardgaande industriële revolusie veroorsaak dat alle individualiteit verlore gaan wanneer die meerderheid van mense slegs werkers in die produksielyne van fabrieke word.

Die humanisme wat ontken dat die mens na die beeld van God geskape is veroorsaak uiteindelik ook die ontmensliking (dehumanization) van die mens. Die sosialisme faal ook omdat die denkrigting nooit ’n plaasvervanging kan wees vir ware gemeenskap nie. In plaas daarvan dat dit gebaseer is op geloof, heiligmaking en liefdevolle opoffering word die mens gedwing om diens te lewer aan die samelewing om aan die materiële behoeftes van almal te voldoen.

Die slotsom hiervan word treffend saamgevat in hierdie aanhaling: “The naturalist’s view of history is a hopeless one. Every social construct has failed – and it has failed because it left God out of the equation.”

Wanneer ons kyk na geskiedenis en hoe dit aangebied word in ons skole, ons kerke en selfs in ons huise, is die vraag: “Is dit my storie, of is dit God se storie?” Is ek besig om die geskiedenis so te vertel en oor te dra dat ék daarop kan roem, of is ek besig om geskiedenis te beoordeel deur God sy regmatige plek as Heerser van alles daarin te gee? Roem ek in alles op Hom en sy kragdadige werke van verlossing, of probeer ek die geskiedenis manipuleer om my eie siening te bevorder? As Christene, behoort ons in die eerste instansie hierdie vrae eerlik te beantwoord, voordat ons oordele fel.

 

 

TOP