Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

O, Boereplaas, geboortegrond …

.....

Rooi hamer en sekel maai voort onder privaatbesit

In sy artikel Land expropriation: What could possibly go wrong?[1], skryf Ernst Roets (Afriforum) dat die voormalige Sowjet-Unie steeds die blaasbalk is wat kommunisme in die ANC se grondhervormings-ideologie aanblaas. Pas nadat Cyril Ramaphosa gedurende Desember 2017 tot president van die ANC verkies is, het die party hul beleid van onteiening sonder vergoeding bekend gemaak. Roets skryf dat sommiges meen dat hierdie verklaring nie Ramaphosa se persoonlike siening oor die saak insluit nie. Vir Roets is dit twyfelagtig, aangesien Ramaphosa reeds uitgesproke was dat ’n sosialisties-ekonomiese beleid dringend bevorder moet word en dat daar ’n honger na grond aan swart Suid-Afrikaners knaag.

Dat die ANC nommerpas in Lenin, Stalin en moedertjie Rusland se voetspore met betrekking tot die nasionalisering van privaateiendom wil voortstoom, is nou nie altemit nie.

 

’n Marxistiese Utopia

As dissipel van Karl Marx (1818-1883) wou Joseph Stalin (1878-1953) ’n hemel op aarde skep, met die staat as bewaarder van die grond in belang van die bevolking. Vanaf Januarie 1930 begin hy met die gewelddadige nasionalisering van plase en privaateiendom dwarsoor die voormalige Sowjet-Unie. Waar ’n Marxistiese utopie moes verrys, was daar teen 1950 net ’n geruïneerde landboubedryf, grootskaalse hongersnood en ongekende lewensverlies. Soortgelyke nasionalisering van privaateiendom het in talle kommunisties-georiënteerde lande plaasgevind, met dieselfde hartverskeurende uiteinde. Roets wys daarop dat die geskiedenis die ANC nie skotvry daarvan sal laat afkom nie, sou hulle dieselfde rampspoedige paadjie van nasionalisering van privaateiendom stap. Karl Marx se ideologie van ’n sosialistiese hemel op aarde het reeds bewys dat dit nie lewensvatbaar is nie.

 

’n Tuin van Eden met dorings en distels

Frans Cronjé (Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings) skryf in sy artikel ANC’s land reform will bring no ‘Garden of Eden’ [2] dat Cyril Ramaphosa vroeg in Januarie 2018 die staat tot onteiening van plase vir grondhervormings-doeleindes verbind het, om daarmee die landskap van die huidige landboubedryf te omskep in ’n Tuin van Eden. Cronjé meen dié voorgestelde plan wil swart boere nié eienaarskap van grond gee nie, maar het ten doel om alle grond staatseiendom te maak en die boere dan te dwing om die grond by die staat te huur. Eiendomsreg is egter die ekonomiese grondslag van die landboubedryf waarop om bedryfskapitaal beding word. Daarsonder kan nóg swart, nóg wit boere hul boerderye ekonomies bly handhaaf. Cronjé wys daarop dat Ramaphosa se voorgestelde strategie van grondonteiening sonder vergoeding alles behalwe ’n Tuin van Eden tot gevolg gaan hê, maar eerder ’n landskap sal wees waar die grond “dorings en distels” voortbring (vgl. Gén. 3:17,18).

’n Mens kan nie anders as om lont te ruik nie. Teen hierdie agtergrond lyk dit asof die inkorting van privaatbesit ons voorland in Suid-Afrika is!

 

Weg met alle private besit!

Só kan Karl Marx se teorie van kommunisme in een sin opgesom word. Marx het geglo dat die pogings van mense om ekonomies welvarend te wees, die gang van die geskiedenis bepaal. Onderliggend aan hierdie pogings is ’n gedurige klassestryd – tussen die hoër en laer klasse, tussen besitters en haweloses, tussen werkgewers (kapitaliste) en werkers (proletariaat). Konflik is die onafwendbare uiteinde van hierdie stryd – daarom sal daar nooit vrede tussen kapitalis en werker kan wees nie. Hierdie konfliksituasie sal net beredder word wanneer die aard en struktuur van die samelewing deur rewolusie verander word.

Ná die omverwerping van die bestaande samelewingstruktuur swaai die proletariaat aanvanklik die septer, met die staat as hul verteenwoordiger. Onder die diktatuur van die proletariaat word die staat dan die eienaar van alle eiendom. Mettertyd, so het Marx geglo, sal die proletariaat hulself speen van die begeerte om nét te werk vir eie besit en sal hulself dan beywer vir die voordeel van die samelewing as geheel. Dan sal mense volgens dié beginsel leef (wat Marx by Calvyn oorneem, maar heeltemal anders gebruik):

Van elkeen volgens sy vermoë, aan elkeen volgens sy behoefte.

Wanneer daar tot by hierdie stap gevorder is, is die staat se verteenwoordiging nie meer nodig nie en sal dit eenvoudig net wegkwyn. Die land se bevolking sal dan as gelykes in vrede met mekaar leef, sonder wrok oor besittings. Hierdie volmaakte sosialistiese samelewingstruktuur is vir Marx die wêreldse weergawe van die nuwe hemel en die nuwe aarde van Openbaring 21:1.

Marx het geglo dat die verandering van die samelewingstruktuur net deur rewolusie tot stand gebring kan word en dat godsdiens (veral die Christelike geloof) geen rol daarin te speel het nie:

Die Christelike geloof is ’n susmiddel (opiaat) waarmee die rykes die armes paai om nie oor te gaan tot opstand teen die bestaande samelewingstruktuur nie.

Karl Marx se leer en lewe getuig van ’n menslike hart wat God nie geken het nie en gevolglik ondermyn sy ideologie van sosialisme die Bybelse leer oor die reg tot privaatbesit.

 

Die Bybel oor privaatbesit

Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon ... (Ps. 24:1)

Die Bybel sien privaatbesit nooit as ’n absolute reg nie, want alles wat die mens besit kom van die Here af (vgl. Ex. 19:5; Ps. 50:10). God skape die mens na sy beeld (Gén. 1:27) en gee die opdrag om die aarde te bewoon, te onderwerp en daaroor te heers (Gén. 1:28-30). Dié opdrag impliseer dat die mens die aarde se hulpbronne moet ken, verstaan, ontgin, gebruik en geniet. As verteenwoordiger van God moet die mens soos God wees om sy wysheid, kreatiwiteit, regverdigheid, deernis, barmhartigheid en ander eienskappe in sy rentmeesterskap van die aarde en sy hulpbronne na te volg. Soos God die soewereine Heerser oor sy ganse skepping is, so kry die mens as beelddraer van God nou geleentheid om tot eer van Hom soewerein te heers oor sy stukkie grond, sy huis, sy motor, sy klere, ensovoorts. Hy moet egter gereed wees om altyd aan God rekenskap te gee van wat hy doen met dít wat hy uit genade ontvang.

... vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring ... (Gén. 3:17-18)

God heilig arbeid as seën en plig deurdat Hyself werk wanneer Hy skep. Die ongehoorsaamheid van die eerste mensepaar stort die volmaakte skepping in sondeverderf. Die eerlike en vlytige verkryging van besittings, die doeltreffende gebruik van besittings en die regte ingesteldheid jeens besittings is deur sonde bevlek. So laat byvoorbeeld luiheid die mens steel eerder as om te werk; gierigheid die mens na sy eie welvaart omsien en ander in hul nood oorsien; trots die mens homself sien as welvaartskepper en nie God as die Eienaar en Gewer van alle goed nie. Die vloek wat ná die sondeval aan arbeid verbind word, het te make met die kwaliteit van die werk en die inspanning wat daarmee gepaard gaan. Die dorings en die distels is die straf op die sonde, nié die arbeid self nie.

Die prysenswaardigheid van arbeid is die basis van privaatbesit. In die Ou en Nuwe Testament is die opdrag om te werk duidelik en die vrugte wat dit voortbring, is die regverdige loon op arbeid (vgl. Deut. 16:15; 1 Thes. 4:11-12; 2 Thes. 3:10-12) – luiheid word as sonde veroordeel (vgl. Spr. 6:6-11; 12:24, 27; 15:19).

Marxistiese sosialisme het geen wortels in Skrifwaarhede nie en neem dus nie die verdorwenheid van die mens weens die erfsonde in ag nie. Dit wil sien dat alle mense ewe veel besit, of hulle dit verdien as vrug op hul arbeid, of nie. Die ideologie van ekonomiese gelykheid beteken dat die Skrifwaarheid van regverdige loon op arbeid – privaatbesit – oor die hoof gesien word. Dit hou onder meer in dat die mens wat getrou rentmeester is van dít waaroor God hom aangestel het, sy regverdige loon moet prysgee aan een wat die skeppingsopdrag tot goeie rentmeesterskap afwys. Sodanige beginsel is in stryd met die Bybelse voorskrif van regverdigheid.

Jy mag nie steel nie (Ex. 20:15)

Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; … of iets wat van jou naaste is nie. (Ex. 20: 17)

Die agste en tiende gebod veronderstel en versterk die beginsel dat eiendom aan die indiwidu behoort en nie aan die staat of aan ’n gemeenskap nie. Dit impliseer dat die staat privaatbesit duidelik en openlik moet dokumenteer en beskerm. In ongehoorsaamheid aan die gebooie van God, neig menslike regeringstelsels egter voortdurend om hul beheer oor privaatbesit al hoe meer uit te brei en te verstewig. Dit is in teenstelling met die Bybelse opdrag dat die staat as dienaar van God moet optree in die goeie belang van die landsbevolking (vgl. Rom. 13:4; 1 Petr. 2:14).

Aan die wortel van ekonomiese staatsvergryp – kommunisme – lê die saak van die inkorting van die mens se vryheid. Wanneer die staat alle ekonomiese aktiwiteite beheer, bepaal dit wat jy koop, waar jy woon, watter beroep jy beoefen (waar en watter opleiding jy hiertoe moet ondergaan), hoeveel jy verdien. Die Bybel heg groot waarde aan die vryheid van die mens om te kies (vgl. Gén. 2:16-17; Jos. 24:15); kommunisme verslaaf mense en vernietig die menslike vryheid van keuse.

In teenstelling met sosialisme en kommunisme leer die Bybel die volgende oor privaatbesit:

In die eerste plek reflekteer dit God se regverdigheid: hulle wat daarop geregtig is, ontvang eiendom (vgl. Deut. 8:18; Ps. 112:1-3; Mk. 10:29-30). Tweedens reflekteer dit God se genade: Hy gee aan sommige en nie aan ander nie (vgl. 1 Kor. 1:26). In die derde plek reflekteer dit die opdrag om arbeidsaam te wees: Hy wat werk, ontvang vrug op sy arbeid (vgl. Spr. 10:4).

Watter troos is daar dan vir gelowiges met die aanhoor van kommunisties-sosialistiese dreigemente vanaf staatskant? Die Bybel gee die enigste antwoord, ook wanneer die voorreg om iets ons eie te noem, in gedrang kom:

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. (Mt. 6:19-21)

 

 


Bronnelys:

Ashford, B. R. (2015). Every Square Inch: An Introduction to Cultural Engagement for Christians. Bellingham, WA: Lexham Press.

Bromiley, G. W. (Ed.). (1979–1988). In The International Standard Bible Encyclopedia, Revised. Wm. B. Eerdmans.

Cosden, D. (2007). A Theology of Work: Work and the New Creation. U.K.; Waynesboro, GA: Paternoster.

Frame, J. M. (2008). The Collected Shorter Theological Writings. Phillipsburg, NJ: P&R Publishing.

Frame, J. M. (2008). The Doctrine of the Christian Life. Phillipsburg, NJ: P&R Publishing.

Grudem, W. A. (2010). Politics according to the Bible: A Comprehensive Resource for Understanding Modern Political Issues in Light of Scripture. Grand Rapids, MI: Zondervan.

Sproul, R. C. (2009). How Should I Live in this World? (Vol. 5). Lake Mary, FL: Reformation Trust Publishing.

 

TOP