Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Slawerny terug op die wetboek

.....

Wie sou kon dink dat die jaar 2017 sou eindig met voorstelle van gewettigde slawerny wat in die Staatskoerant gepubliseer word?

Die publikasie van die voorgestelde wysigings aan die Suid–Afrikaanse Skolewet van 1996 (SASA) en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders van 1998 (EEA) in die Staatskoerant op 13 Oktober 2017 het besorgde ouers met reg in rep en roer. Hierdie voorgestelde wetgewing is die direkte uitvloeisel van sosialisme en kommunisme, gemeenskaplike besitreg en staatsbeheer oor alles, met die gevolg dat daar gereken word mense behoort aan mekaar en aan die staat. Of dan in hierdie geval dat die staat blykbaar meen dat ons kinders aan hom behoort. Die ander naam vir wanneer een mens aan ʼn ander behoort, is slawerny.

Die voorgestelde wysigings van die wet kom daarop neer dat magte, veral ten opsigte van die indiensneming van opvoeders, toelatingsbeleid van skole en die taalbeleid van skole, verskuif word, weg van beheerliggame en na staatsamptenare, soos die provinsiale hoofde van die onderwysdepartement en die minister van onderwys. Die wet bevat egter ook klousules wat aanspreeklikheid van die staat verminder. Die staat wil hiermee dus meer beheer uitoefen, maar minder aanspreeklikheid aanvaar vir publieke skole. Dit is duidelik dat die wetgewing nie in belang van die leerders is nie, maar van die staat. Die staat wil hiermee wetgewing misbruik om ʼn bepaalde politieke ideologie te bevorder, soos in die motivering van die voorgestelde wetgewing telkens uitdruklik gesien kan word.

Gelowiges van veral Christelike gereformeerde kerkverbande wie se lidmate hul kinders tot doop bring waar die belofte voor God gemaak word om hul kinders in hierdie leer te onderrig en te laat onderrig, moet hierdie wetgewing ten sterkste teenstaan! Alle ouers word aangemoedig om kommentaar op hierdie wysigings in te dien.

Alhoewel baie ouers daarna streef om gebruik te maak van alternatiewe onderwys soos Christelike Volkseie Onderwys, privaatskole of tuisonderrig is dit nie vir almal moontlik nie en is hul tans afhanklik van die publieke skole waartoe hul hardverdiende belastinggeld wel bydra. Die magte van beheerliggame stel hierdie ouers tans in staat om inspraak te hê en tot ’n mate toe te sien dat hul kinders se skole aan die vereistes van God as die hoogste gesag voldoen. Die voorgestelde wysigings wil beheerliggame van hierdie magte ontneem.

Verder wil die staat deur hierdie wetgewing selfs alternatiewe soos tuisonderrig dwing om op eie koste van die staatskurrikulum en eksamens gebruik te maak. Deur hierdie wetgewing word leerders dus ingedwing in ʼn stelsel wat al hoe meer deur die staat beheer word.

Die Bybel skryf in Romeine 13 wel aan die staat die swaardmag toe. Dit beteken egter dat dit die staat se rol en taak is om wet en orde te handhaaf, daarom behoort opvoeding en onderrig sover moontlik in die hande van die mense wat die beste belang van die kinders op die hart het, gelaat te word. Die staat behoort die ruimte en middele vir onderrig te verskaf sonder om beheer daaroor uit te oefen.

Ons kinders behoort nie aan die staat nie! Ons kinders behoort aan God, net soos wat ons aan Hom behoort.

Ons kry ʼn mooi voorbeeld hiervan in die Bybel in Markus 12. Die vraag wat aan Jesus gestel word handel oor die betaling van belasting aan die keiser al dan nie. Ons ken almal die baie bekende antwoord van die Here Jesus: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”

Maar alvorens Jesus hierdie uitspraak gemaak het, het Hy iets anders gedoen. Hy het vir hulle ʼn muntstuk gevra en nadat hulle vir Hom een gegee het, het Hy gevra: “Wie se beeld en opskrif is dit?” Natuurlik was die keiser se beeld daarop, daarom behoort dit aan die keiser!

Wat ons nou moet vra is: Wie se beeld vertoon ons kinders? Die antwoord: God se beeld (Genesis 1:27). Daarom behoort ons kinders nie aan die staat of die gemeenskap nie.

Ons word nie toegelaat om dit wat aan God behoort aan enige iemand anders as God te gee nie – veral nie aan die keiser nie. Kinders behoort nie eers aan hulle ouers nie. God het bloot aan die ouers gesag oor sy kinders gegee om hulle op te voed en groot te maak tot eer van sy Naam en om in sy diens te staan.

Ons sekulêre staat staan net in diens van homself en diegene wat die staat gekaap het. Daar kan nie van die staat verwag om beheer oor ons kinders te neem en dan aan ons kinders te lewer wat selfstandige, denkende individue sal wees nie, want wat die staat meer as enige iets anders nodig het, is slawe – afhanklik en onnadenkend. Hierdie voorgestelde wetgewing wil slawerny by die agterdeur inbring. Kinders moet nou die slawe van die staat se ideologie word.

Beheerliggame, privaat- en CVO-skole, asook die tuisskoolbeweging waarin ouers van leerders, sowel as gemeenskapsverteenwoordigers en –leiers aan stuur van sake staan, het nog altyd ten doel gehad om in die beste belang van die kind op te tree. Die staat daarenteen, tree duidelik in eie belang op en is in alle opsigte bewysbaar onbevoeg. Daarom is dit elke ouer, beheerliggaam en kerk se profetiese roeping om die voorgestelde wetswysigings ten sterkste teen te staan.

Ons het nie ons kinders as eiendom ontvang nie, maar het wel van God die verantwoordelikheid vir ons kinders ontvang. Waar die staat met hierdie voorgestelde wetgewing meer beheer wil opeis en minder verantwoordelikheid wil aanvaar, is dit tyd vir ouers om op te staan en ons verantwoordelikheid na te kom. Dit is ons verantwoordelikheid dat ons kinders deur gepaste dissipline en opvoeding produktiewe lede van die samelewing word – nie ter wille van die staat nie, nie eers ter wille van die kinders of onsself nie, maar tot eer van die Here se Naam.

 

TOP