Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Waar sentreer die mag?

.....

Op 17 en 18 Oktober 2017 is die CRL-kommissie (Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious and Linguistic Communities) se verslag en gepaardgaande aanbevelings oor die regulering van godsdienste aan die COGTA-portefeulje kommissie (Coorporative Governance and Traditional Affairs) voorgelê en bespreek. Geloofsgemeenskappe vanuit alle spektrums regoor Suid-Afrika, het hewig op die voorstelle van die CRL-kommissie gereageer en tydens hierdie geleentheid hulle misnoeë met die kommissie se verslag weergegee. Die reaksie was veral heftig toe die kommissie daarop aanspraak gemaak het dat hy die ondersteuning van “miljoene” gelowiges en godsdienstige organisasies in Suid-Afrika het.

Dit was verblydend om te sien hoe verskeie geloofsgemeenskappe die een na die ander beswaar gemaak het teen die CRL-kommissie se voorstelle rakende die beoogde staatsregulering van godsdienste. Niemand het die misbruike en selfs misdaad, wat onder die dekmantel van godsdienstigheid plaasvind, ontken nie. Inteendeel, dit is uit een mond veroordeel. Hiermee het talle geloofsgemeenskappe erken dat die uitbuiting en misbruik van individue en gemeenskappe se goedgelowigheid in die naam van godsdienstigheid, glad nie aanvaarbaar is nie en nog minder onder godsdiensvryheid gereken of in die naam daarvan toegelaat kan word.

Die vraag wat telkens tydens die gesprek na vore gekom het, was: Wat is die aangewese en gepaste reaksie hierop? Dit het duidelik geblyk dat die oorgrote meerderheid van die sprekers en verteenwoordigers reken dat die CRL-kommissie se voorgestelde oplossing van godsdiensregulering nie ʼn aanvaarbare voorstel is nie. Die oplossing kan dus ook nie daarin gesoek word om bloot die kommissie se voorstel tot regulering te “verbeter” nie. Die antwoord lê nie in die skep van nuwe regulasies en wetgewing nie, maar eerder in die effektiewe toepassing en verbetering van reeds bestaande wetgewing.

Een van die leemtes in die CRL-kommissie se ondersoek en verslag is juis die feit dat hulle in gebreke gebly het om aan te toon hoe huidige wetgewing onvoldoende is om die vergrype hok te slaan. Daar kan dus heelhartig met talle van die respondente saamgestem word dat die huidige landswette voldoende is om hierdie vergrype aan te spreek en dat die probleem, soos op baie ander terreine, eerder by die gebrekkige toepassing van die bestaande wette lê. Wanneer die wetstoepassers onbevoeg en hul optrede onvoldoende is, sal nie eens ’n 100 nuwe wette die situasie omkeer nie.

Net soos die Menseregtekommissie het die CRL-kommissie ook die bevoegdheid om persone te dagvaar om voor hulle te verskyn, maar hulle hoef nie noodwendig daarvan gebruik te maak nie. Tydens hulle ondersoek het hulle egter gekies om uit die staanspoor van hierdie bevoegdheid gebruik te maak. Die gevolg was dat wetsgehoorsame godsdienstige instellings en organisasies van meet af aan soos oortreders hanteer is. Die voorveronderstelling wat aanleiding gee vir só ’n optrede, is dat almal skuldig is totdat hulle hul onskuld kan bewys. In plaas daarvan om simpatie vir hulle taak te kweek en die vertroue van hierdie organisasies in te boesem, is daar uit die staanspoor ’n atmosfeer geskep wat tot wantroue gelei het.

Die vraag is egter waarom die CRL-kommissie nie van hierdie reg tot dagvaardiging gebruik maak om vergrype in die naam van godsdienstigheid hok te slaan nie? Waarom moet ʼn hele nuwe burokrasie geskep word om godsdienste deur die staat (uiteindelik die CRL-kommissie) te laat reguleer, terwyl die CRL-kommissie se mandaat reeds die ruimte daarvoor laat om oortreders vas te vat? Hoewel van die godsdienstige groeperinge wie se leiers by die vergrype betrokke was, ook gedagvaar was om voor die kommissie te verskyn, is daar sover die kennis strek, nie een van die beweerde oortreders wie se optrede die kommissie ter motivering van hulle voorstelle gebruik het, gedagvaar nie. Waarom nie? Waarom gebruik die kommissie nie sy bevoegdheid om die eintlike oortreders aan die pen te laat ry nie?

Die gedagtes van prof. Christof Sauer dat daar geen optrede kan wees teen enige persoon wat vrywillig deelneem aan bedenklike praktyke soos die drink van petrol of die eet van slange of die spuit van Doom in die gesig nie, hou ook nie water nie. Vervolging vir kindermolestering of kindermishandeling word tog nie in die wiele gery omdat die betrokke kind nie daaroor wil getuig nie. Dit is juis dán wanneer daar op hulle wie getuies van die oortreding was, se getuienis gereken word om iemand in ʼn kwesbare posisie te beskerm. Vrywillige deelname aan die drink van gif, maak geen omstander minder aanspreeklik vir moord nie. Vrywillige deelname aan enige onwettige en kriminele aksies bly steeds onwettig en krimineel. Dit moet met die bestaande wetgewing beveg word en kan nie in die naam van godsdienstigheid verdra word nie.

Die oproepe vir ʼn nasionale konferensie van godsdienstige leiers wat tydens die gesprek geopper is, mag dalk help om meer stemme te hoor as net die 85 persone/organisasies/instansies na wie die CRL-kommissie geluister het. Die uitkoms en waarde van so konferensie sal grootliks bepaal word deur wie die sameroeper daarvan is. Indien die CRL-kommissie die sameroeper is, moet ons nie verbaas wees wanneer dieselfde voorstelle vir staatsregulering van godsdienste binnekort weer op die parlement se tafel verskyn nie.

Die hele optrede van die CRL-kommissie getuig van ’n marxisties-deurdrenkte samelewing waarin die sentralisasie van mag as die evangelie beskou word waarin die gemeenskap sy heil moet vind. Dieselfde klanke klingel ook op die agtergrond wanneer die voorgestelde wysigings van die skolewet bestudeer word. Ten diepste word die staat en sy organismes tot ’n godsposisie verhoog, terwyl die subteks is: Godsdienste is toelaatbaar, solank hulle net besef daar is ’n “hoër gesag” – die staat. Om dieselfde rede kan howe hulself ook aanmatig om te sê dat redelike en gematigde tugtiging deur middel van lyfstraf, nie toelaatbaar is nie.

Die sentralisasie van mag en om hoëre gesag te erken, is natuurlik nie ’n vreemde gedagte vir Christen-gelowiges nie. Waar die mag sentreer en wie die hoëre gesag besit, is egter ’n ander vraag. As Christene bely ons immers dat alle mag in die hemel en op aarde, aan Jesus Christus, ons Koning en Verlosser, behoort (Mt. 28:18) en dat God soewerein is (vgl. Rom. 11:33-36). In Hom sentreer alle mag sodat Christus teenoor Pontius Pilatus (die owerheid) kan verklaar: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”

Wanneer die kerk toelaat dat sy deur die staat gereguleer word, erken sy nie net dat haar selfregulering ontoereikend is nie, maar ten diepste sal dit ’n erkenning wees dat Christus se regulering van sy kerk (wat neerslag vind in haar selfregulering), ontoereikend is. Om dus in hierdie saak (en by implikasie enige saak wat die grondwaarhede van ons geloof raak) toe te gee tot staatsregulering, sou neerkom op ’n verloëning van die fundamentele belydenis dat die Here onse God ’n enige Here is (Deut. 6:4). Die eensgesindheid waarmee gelowiges dus hierdie voorstelle van die CRL-kommissie verwerp, spruit juis voort uit die gemeenskaplike belydenis dat die knie voor God alleen gebuig sal word. Dit is ’n bewys van hoe die algemene Christelike Kerk tot uiting kom sonder om noodwendig aan een oorkoepeldende organisatoriese struktuur te behoort.

Plaaslike kerke en gelowiges binne elke gemeenskap behoort op hoogte te bly van hierdie debat wat godsdiensvryheid in Suid-Afrika daadwerklik kan vernietig en waar nodig hul stem te laat hoor. Is dit nie ironies dat, presies 500 jaar ná die Reformasie, die tyd in Suid-Afrika aangebreek het om opnuut soos Luther te verklaar: Hier staan ek, want ek kan nie anders nie? Die vraag is: Is kerke bereid om die streep te trek en selfs ondergronds te gaan as die omstandighede dit van ons vereis of gaan ons die knie voor Baäl buig?

 

TOP