Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Voor die aangesig van die HERE sal ek vrolik wees

.....

(Boodskap met die herdenking van die dertigste bestaansjaar van die AP kerkverband: 27 Junie 198727 Junie 2017).

 

Tersaaklike Skrifgedeelte: 2 Samuel 6:1-23

2 Samuel 6:21b –“…voor die aangesig van die HERE sal ek vrolik wees”.

Die ark van die verbond was 'n houtkis oorgetrek met goud, waarin die staf van Aäron, die kliptafels waarop die Wet van Moses geskryf was en (volgens Joodse oorlewering) ook die mantel van Moses geplaas is. Die ark was simbolies vir die teenwoordigheid van die HERE.

 

Inleiding

Ná Saul se dood is die ark van die HERE deur die Filistyne weggeneem na die vyande se gebied en in Dagon se tempel gesit. Ná al die teenspoede wat die Filistyne beleef met die ark in hulle midde, laat hulle Dawid toe om die ark na Israel te neem. Die enigste lewende God laat Hom nie met afgode gelykstel nie.

Dit wil voorkom of Dawid weerstand van die Filistyne verwag het, vandaar die saamneem van 30 000 manne om die ark te gaan haal. Dalk was hy bekommerd dat dit ’n lokval kon wees?

 

Van blydskap na trane

Maar die blydskap oor die terugbring van die ark was van korte duur. Ussa sterf onder die oordeel van die HERE. Waarom laat die HERE Ussa sterf? Wat was sy oortreding? Die antwoord is nie so eenvoudig nie, maar dit is duidelik dat Ussa die bevele van die HERE ten opsigte van die hantering van die ark verontagsaam het. Die HERE het destyds vir Moses gesê dat geen mens met hulle hande aan die ark mag raak nie en daarom is die ark met ’n draagbaar vervoer. Dit het die heiligheid van die ark van die HERE gesimboliseer. Die straf kom streng voor, maar Dawid word eintlik gestraf omdat hy die ark van die HERE van die Filistynse gebied neem sonder om eers seker te maak wat die HERE se voorskrifte ten opsigte van die vervoer van die ark was. Die val van die ark was eintlik ’n teken dat die HERE vir Dawid waarsku dat hy besig is om die heiligheid van die HERE aan te tas.

Dawid het nie die HERE se wil gesoek nie, en dikwels ly die onderdane as die koning verkeerde besluite neem. Ussa se dood plaas ’n demper op die feesvieringe en die volk begin die vraag vra: wil ons die HERE in ons stad terughê?

Dawid skrik so groot dat hy die ark wegstuur na die huis van Obed-Edom. Dawid neem die ark van die HERE dus terug na die Filistynse gebied van Gad en laat die ark weer by ’n Filistyn agter. Dit word nie direk hier gemeld nie, maar ons kan aanvaar dat Obed-Edom nie baie opgewonde was om die ark van die HERE in sy huis te ontvang ná wat pas gebeur het nie, maar die koning se besluit is ’n bevel! Tog het die HERE die huis van Obed-Edom geseën omdat hy die ark gehuisves het.

 

Gehoorsaamheid volg

Vir ’n tweede maal probeer Dawid om die ark terug te bring nadat hy hoor hoe goed dit gaan met Obed-Edom. Maar hierdie keer word daar geen kanse gevat nie. Ná 6 treë word ’n os en ’n vetgemaakte kalf geslag. Waarom spesifiek 6 treë? Die Joodse skrifgeleerdes het gemeen dat Ussa ses treë gegee het voor hy gesterf het. Die 6 treë van die prosessie voordat hulle die offers aan die HERE bring, simboliseer waarskynlik dat hulle bewus is dat dit die HERE is wat Ussa laat sterf het en nou wil hulle deur hulle offer vrede maak tussen hulle en die HERE. Hier moet nie afgelei word dat hulle elke ses treë ’n offer gebring het nie, maar aan die begin van die reis en toe hulle weer in Jerusalem kom: die werk begin en eindig met ’n offer aan die HERE.

Op pad na Jerusalem het Dawid voor die ark gedans en sing van blydskap. Dawid het 'n linnekleed aangehad wat ooreenstem met die klere wat die priesters gewoonlik in daardie tyd gedra het. Dawid verruil dus sy koninklike klere vir gewone priesterklere en verneder hom voor die mense om fees te vier voor die HERE. Die Woord sê vir ons dat Dawid voor die HERE gedans het. Die priesterklere was gemaak vir plegtige geleenthede en nie jolige danse nie, en in die dans en huppel het Dawid se klere waarskynlik meer ontbloot as wat die mense gewoond was. Dit is die agtergrond tot Migal, die dogter van Saul, se veragting van Dawid (vers 20). Toe Dawid terugkom in Jerusalem vind hy die dogter van Saul jaloers op die jong koning wat in haar pa se plek koning geword het. Dit is onder meer die rede waarom sy Dawid se optrede afmaak as ’n vernedering vir haar en hulle huis.

Daar is gelowiges wat meen dat Dawid se optrede hier vir ons 'n reël stel van hoe ons in die erediens die HERE moet loof: met dans en sing en jolyt. Dawid se dans voor die ark gee egter geensins ’n reël vir die wyse waarop ons in die kerk die HERE moet aanbid nie.

 

Daar is 3 belangrike redes vir hierdie stelling:

  1. Dawid is nie in die kerk nie, of tempel of tabernakel nie, maar buite in die veld op pad na Jerusalem toe.
  2. Daar was nooit weer in Israel so ’n gebeurtenis nie en kan daarom nie die reël wees van hoe ons tot eer van die HERE moet aanbid nie.
  3. Dawid se optrede voor die ark was ’n feesgeleentheid, nie ’n erediens nie.

Die gedeelte eindig waar Dawid aan die mense kos uitdeel. Rosynekoeke was gewoonlik by heidense feeste aan die mense gegee wat die vrugbaarheid van die gode gesimboliseer het. Dit was nooit 'n opdrag van die HERE dat dit in Israel moes gebeur nie. Die mees waarskynlike rede waarom Dawid dit doen, was om die volk daarop te wys dat hulle beïnvloed is deur die heidense godsdienste en dat God eintlik die Een is wat verantwoordelik is vir die vrugbaarheid van die land.

 

Toepassing

Die hele gedeelte wil ’n belangrike les leer: hoe die verkeerde optrede teenoor die HERE gevolge kan hê vir ’n koning en sy land, maar hoe die seën van die HERE verwag kan word as mense die HERE se wil opreg soek. Die HERE het die trane van Israel wat onder die Filistyne gely het, afgevee en Hy het in Jerusalem as die Hemelkoning en ook die Koning van sy volk sy regmatige plek ingeneem. Van hierdie dag af was Jerusalem die hoofstad van die Joodse godsdiens en enigste plek waar God toegelaat het dat daar later ’n tempel vir Hom gebou kon word.

Ons hoef nie vandag ’n ark soos die van Israel van ouds te hê om die teenwoordigheid van die HERE te vier nie. Met die koms van ons HERE Jesus het die Ou-Testamentiese simbole verdwyn. Die HERE is deur sy Heilige Gees by ons teenwoordig en ons het die belofte dat Hy ons nooit alleen laat nie, selfs al gaan dit nie altyd met ons planne soos ons gehoop het nie. Die waarskuwing bly egter staan dat ons moet seker maak ons planne is in ooreenstemming met God se planne anders kan ons nie sy seën op ons planne verwag nie.

In die viering van die 30ste bestaansjaar van die AP Kerk op 27 Junie hierdie week, word ons daaraan herinner dat vreugde en voorspoed nie aan mense nie, maar aan die HERE toegeskryf moet word. Ons is geneig om maklik op mense staat te maak om ons uit ons aardse verdrukking en bekommernisse te verlos. God herinner ons egter deur die geskiedenis van Dawid en die ark dat Hy teenwoordig is by sy kerk en dat ons sy seën kan verwag as ons vra wat sy wil is?

Tot hiertoe het die HERE ons gebring, maar as ons dink dat ons in eie krag vorentoe kan gaan, herinner die HERE ons dat ons uiters verras sal wees dat die Hy nie ongehoorsaamheid ongestraf laat nie. Dié wat sy wil soek, kan egter die seën van die HERE in hulle planne verwag. Dit was in Israel duidelik: die gelukkige man is die een wat in besit van die ark was. En ná die koms van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees leer God dat die gelukkige man, of die gelukkige huis, of die gelukkige kerk, of die voorspoedige volk hulle is wat die HERE naby hulle het en vra: wat wil U hê moet ons doen?

Ons moenie dink dat die Blye Boodskap vir soetkoek opgeëet sal word nie. Christus is wel ’n steen waarteen ongelowiges hulle stamp en selfs Een wat verag word (1 Petr. 2:6-8), maar dit beteken nie dat Hy nie totaal in beheer is en as Regter oor sy heiligheid wag hou nie.

Ons is so onwaardig; so vol sonde en kom dikwels voor of ons in eie krag die werk van die HERE probeer doen. Kom ons leer egter uit die voorbeeld van Dawid: hier het hy sy koningsklere afgegooi en nederig geword voor die HERE, saam met sy mense gebid en in die Naam van die HERE gedien. Ons het meer geestelike leiers soos Dawid nodig!

 

Slot

Laat ons in ons kerkgang, planne, voorbereiding en diens aan die HERE onvoorwaardelik aan sy wil gehoorsaam bly. Genadiglik hoef ons nie die HERE by die bure te gaan haal nie. Hy is teenwoordig in sy kerk en in ons land.

Kom ons maak soos Dawid en gee die Erekoning opnuut weer die ereplek wat Hy verdien. Dan kan ons as kerk sy seën verwag.

 

TOP