Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die ironie van vadersdag

.....

Sondag was Vadersdag. Hoe ironies dat die 21ste eeu se mense  graag ’n spesiale dag vir vaders hou, maar dat die rol van vaders in hulle gesinne as outyds afgemaak word.

Ons leef in ’n wêreld wat verward is oor die rol van mans en vroue. Hierdie samelewing het alles wat deur die eeue heen verstaan is oor manlikheid en vroulikheid op sy kop kom keer en vandag is sommige mans soos vroue en sommige vroue soos mans en daar is vroue wat wil wees soos mans en mans wat wil wees soos vroue. In die proses het ons te make met kinders wat nie meer weet wat die rolle behels en hoe hulle veronderstel is om eendag as mans en vroue op te tree nie. Ons lees in tydskrifte van die deurmekaar rolle en ons sien dit op televisieprogramme en dikwels beleef ons dit in ons eie families. Ongelukkig word die verkeerd-om rolle wat vir ons as voorbeeld gewys word, dikwels as normaal beskou en die rol wat die Bybel aan elke mens gee, afgemaak of daar word selfs glad nie eens daarvan kennis geneem nie.

Terwyl die 21ste eeu geld maak uit ’n sogenaamde “dag vir vaders”, is dit ironies dat dit juis die 21ste eeu is wat maar baie min weet oor wat vaders veronderstel is om te wees.

As daar ’n tekort aan kos is, word daar gepraat van ’n hongersnood – ons sou dus kon praat van die 21ste eeu as ’n tyd van ’n vadersnood. Ons leef in ’n vaderlose tyd. En die simptome is oral duidelik. Soms pas ons aan, maar ons raak dit nooit gewoond nie en dit word nooit normaal nie.

Die ergste vorm van ’n afwesige pa is die een wat sy familie in die steek laat en weghardloop, of wat nog fisies teenwoordig is, maar emosioneel  sy familie reeds in die steek gelaat het. Dit is baie moeilik vir die familie om te verwerk, want behalwe dat die pa nie teenwoordig is nie, moet die gesin nog die hartseer van verwerping ook verwerk. Vir sulkes bring die Woord van die Here die troos in Deuteronómium 31:6 – “… dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie”. Daarmee sê die Here Hy is soos ’n Vader, maar anders as aardse vaders wat soms in die steek laat, sal Hy jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Hy is dus die volmaakte Vader.

Maar die Here praat nie in die Bybel net met vaders wat onverantwoordelik is nie. As Christelike vaders wil ons tog die beste vir ons gesinne hê en daarom is ons saam met ons gesinne gereeld in die kerk. Lees Deuteronómium 31:1-8 en ontdek wat die Here vir manne in hierdie deurmekaar eeu deur Moses kom leer.

Moses is 120 jaar oud (vers 2) en gaan binnekort sterf. Voordat Moses vir Josua as opvolger aanstel, roep hy al die manne (die vaders) van Israel bymekaar. Die pa’s van Israel kom staan voor Moses en soos ’n pa praat Moses met die manne, wat op hulle beurt weer hulle huise as vaders moet gaan lei en bemoedig. Hulle moes hiervandaan uitgaan en op twee terreine hulle gesinne lei: in ’n oorlogsveld in en op geestelike gebied. Hulle sou as ’t ware soos priesters die voorbeeld van Moses aan hulle gesinne moes gaan bedien sodat ook hulle gesinne nie bevrees sou wees nie en weet dat die Here hulle nooit sal verlaat nie.

Moses bemoedig die vaders wat namens hulle gesinne versamel het om na die Woord van die Here te luister dat God met hulle is (vers 3). En dié wat bereid is om God te volg, het die belofte dat Hy hulle leier is wat hulle nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie.

Dit moes vir hulle ’n groot troos gewees het om te weet dat hulle nie op generaals en leiers hoef staat te maak nie, want God is hulle generaal wat voor hulle die beloofde land binnetrek.

In plaas van om aan die volk allerhande wapens en tegnieke na te laat, laat Moses aan hulle die koninkryk van God as belofte. Die sterkste leier en die beste generaal gaan altyd in enige oorlog met ’n mate van onsekerheid in: gaan ons suksesvol wees? Selfs ’n lafaard sal veg as hy vooraf weet die oorlog gaan gewen word. Hulle moenie staatmaak op hulle sterk manne en hoeveelheid soldate nie. As die vyand kom, sal dit nie ’n volk laat staan nie.

As jy die koninkryk van God soek en dit vir jou alles is, sal al die ander dinge, ook die vrede en voorspoed en liefde van jou gesin, bygevoeg word. Só het Christus in die bergprediking beloof. As jy dus jou lewe leef sonder die koninkryk as prioriteit, ongeag van hoe konserwatief jy isof hoe mooi jou kinders opgevoed is nie, het jy die stryd verloor, want dan trek God nie met jou nie, en sal die stryd in jou eie krag gestry word. En jy sal faal.

In die deurmekaar wêreld hoef ons nie te vrees nie, want God, Hy wat ook aardse vaders se Vader is, sal ons nooit begewe en ons nooit verlaat nie. Christus het as priester sy lewe gegee sodat vaders in navolging van Christus nie hoef te twyfel in hulle roeping, veral as Bybelse vaderfigure nie. Hy gaan voor. Vertrou op Hom. Wees sterk en vol moed. God weet dat die stryd reeds volbring is en die uitkoms van die oorlog reeds bepaal is.


 [1] Gerrit Smit dekaan van die department Lettere en Wysbegeerte en dosent in Nuwe Testament by die Afrikaanse Protestantse Akademie.

  

TOP