Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Hofsaak: Godsdiens in skole

.....

Glo dit of nie ...1

Die hofsaak oor godsdiens in skole gaan oor véél meer as net godsdiens in skole.

Van godsdienstige diversiteit, verdraagsaamheid en vrye keuse aan die een kant tot beïnvloeding, sekularisme en onverdraagsaamheid aan die ander kant het na vore gekom in die argumente wat die 13 partye in die onlangse hofsaak ook godsdiens in skole gevoer het. 

Oor ’n tydperk van drie dae is nagenoeg 4 000 folio’s voor die volbank van drie regters geplaas en 18 advokate en ’n groot span prokureurs het die hof vol gesit – dit was opsigself iets om te beleef!

Die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie het in Augustus 2014 die aansoek teen ses skole aanhangig gemaak om bepaalde gebruike, praktyke en simbole by hierdie skole ongrondwetlik te laat verklaar en te laat verbied.

Fedsas het die ses skole ondersteun en die opponerende eedverklaring namens die skole afgelê. Daar is onder meer op twee kernpunte gefokus:

Die vryheid al dan nie van skole en skoolgemeenskappe om:

  1. te kies vir ʼn bepaalde godsdienstige etos, en
  2. om gedurende skoolaktiwiteite ’n bepaalde godsdiens te beoefen onderworpe aan die voorwaardes wat in die Grondwet en Skolewet daarvoor voorgeskryf is. 

Benewens die applikant in die saak en die ses skole, is die minister van basiese onderwys en die National Association for School Governing Bodies ook respondente. Daar is ook ses vriende van die hof waarvan Cause for Justice, The Council for the Promotion and Protection of Religious Rights, AfriForum en Solidariteit die skole ondersteun het en The Council for the Advancement of the South African Constitution die applikant ondersteun het.

Daar was geldige besware oor “preaching” in plaas van “teaching” in skole, maar min feite van ouers wat hul besware en bekommernisse met skoolstrukture bespreek het. Was die deur toe of het niemand eers probeer om daaraan aandag te gee nie?

Die saak plaas die kollig nie net op skole of godsdiens nie, maar ook hoe ons as Suid-Afrikaners met mekaar as mense omgaan. Die kommentaar in die media (en kommentaar op berigte) het dalk meer oor gewone mense gesê as oor die regsargumente. Die venyn en skerp reaksies laat ’n mens stom – in ’n samelewing waarin ons ons roem op geloofsdiversiteit en verdraagsaamheid het min daarvan die afgelope tyd in praktyk sigbaar geword.

Glo dit of nie, maar artikel 15 van die Grondwet skep voldoende ruimte vir elke burger om sy of haar geloofsoortuiging en wêreldbeskouing te kan uitleef. Deur aan hierdie artikel te torring, is om ’n vuur aan te blaas onder die kruitvat van godsdienste.

Glo dit of nie, maar dit is gelowige mense wat een ding bely en iets anders leef, wat die groter probleem skep. As die navorsing waar is dat meer as 90% van Suid-Afrikaners Christene is, dan kan ons land mos nie lyk soos dit nou lyk nie!

Glo dit of nie, maar die hofsaak oor godsdiens in skole gaan nie bepaal hoe geloof werklik in ons land uitgeleef word nie. 

Ek is dankbaar vir die geleenthede wat hierdie hofaansoek geskep het om weer te besin oor godsdiensvryheid, hoe ons dit prakties toepas (tradisie of ware geloof) en hoe ons as burgers van die land met mekaar omgaan.

Ek kan nie ’n oomblik dink om my los te maak van wie ek is nie, nie by die kerk, werk of huis nie. Glo dit of nie...


Dr. Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings en redakteur van Juta Education Law and Policy Handbook.

1 Hierdie artikel verskyn ook op Maroela Media se webblad en word met toestemming van die skrywer en Maroela Media op die webblad van die Afrikaanse Protestantse Kerk geplaas.

 

TOP