Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Verootmoediging: Towerstaf of noodkreet?

.....

Die gebedsbyeenkoms van 22 April 2017 in Bloemfontein lê agter die rug en daar sal sekerlik nog lank gegons word oor die impak daarvan in mense se lewens en in ons land as geheel. Die algemene indrukke van diegene wat dit meegemaak het, was positief. Hulle ervaring is dat die Here teenwoordig was en werklik mense se lewens aangeraak het. Hulle verklaar: Die Woord het gespreek, die mense is opgeroep tot en gelei in verootmoediging en daar het gebede opgegaan vir ons land en vir ons nasie. Daarom was dit goed.

Daar hét sekere dinge op daardie dag gebeur en daar is sekere dinge gesê waarmee ons as gerefomeerdes heelhartig kan saamstem. Daar is egter ook ander dinge en woorde waarmee ons nie heeltemal akkoord kan gaan nie. Dit is egter nie die doel van hierdie artikel om op elkeen van hierdie dinge, goed of dalk minder goed, afsonderlik in te gaan nie. Ons wil eerder poog om sekere breë lyne vanuit die Skrif te trek om ons aan die dink te sit oor hierdie gebeurtenis en die implikasies daarvan.  Of ons dit wil weet of nie, dit het ’n impak op elkeen van ons se lewens – of jy nou daar was of nie.

 

Is die oproep tot ’n gebedsdag geoorloof?

Die eerste vraag wat ons daarom moet probeer beantwoord, is of so ’n saamtrek geoorloof is volgens God se Woord? Daar is heelwat verskillende opinies op sosiale media gelug. Dié wat daarvoor is, sê dat so iets ’n uitbouing van die gemeenskap van die gelowiges is en hulle haal Bybelverse aan om hulle standpunt te staaf. Dié wat daarteen is, verklaar dat elke gelowige net so goed op sy of haar eie of in ’n kleiner groep soos by ’n plaaslike gemeente, ook kan bid. Ook húlle haal Bybelverse aan om hul standpunt te staaf.

Hoe moet ons dan daaroor oordeel? Daar is te veel voorbeelde van soortgelyke gebeurtenisse in die Bybel waarop die seënende hand van God gerus het om dit sommer net uit die staanspoor af te skiet. Om maar net ’n paar voorbeelde te noem: Dink aan die stad Ninevé in die tyd van Jona. Hoe hulle tot bekering gekom het in antwoord op die prediking van die profeet en so die oordeel van die Here afgewend het. Dink ook aan die tyd van Esra en Nehemía hoe die volk berou gehad het oor hulle sonde en ’n nuwe verbond met God gesluit het. Dink aan Johannes die doper en hoe die skares gestroom het om deur hom gedoop te word.

 

Ware verootmoediging

Tog sien ons in die genoemde voorbeelde en elders dat daar sekere vereistes is vir die seën van God. Dit gaan oor die motiewe waarom so ’n dag gehou word en ook die uiteindelike gevolge daarvan.

In elkeen van hierdie gevalle is die motivering vir verootmoediging die feit dat daar teen God en sy wet oortree is. Daar is teen God gesondig en aangesien Hy as God die enigste aanspraak op mense se lewens het, word daar in berou tot Hom genader.

Die gevolge is dan ook telkens grootskaalse, sigbare en lewensveranderende bekering. Die stad Ninevé het volgens die gebruike van hulle dag rouklere aangetrek en gevas as teken van hulle berou. Die Jode het in Esra en Nehemía se tyd die heidense vroue uit hul midde verwyder as bewys dat hulle hul tot God bekeer het. Die bekeerlinge van Johannes is gedoop om te wys op die sonde wat afgewas is. Hartgrondige bekering lewer getuienis van mense se harte wat eerstens op God gerig is. Dít is ware verootmoediging. God wys nie die een wat in opregtheid tot Hom nader weg nie. Die noodkreet van ware  verootmoediging smeek saam met Dawid in Psalm 51: Wees my genadig, o God ... delg my oortredinge uit.

 

Towerstaf-verootmoediging

Ons hoor egter ook in die Bybel van soortgelyke samekomste wat nie met die regte motiewe gehou is nie en daarom ook nie die gewenste uitwerking in mense se lewens gehad het nie. ’n Sprekende voorbeeld hiervan vind ons in Jeremia 34. Juda was in ’n benarde posisie. Die Babiloniërs het Jerusalem beleër en daar was geen hoop nie. So doen die volk onder leiding van koning Sedekía ’n gelofte aan die Here, want hulle weet Hy is al Een wat hulle kon red. Hulle belowe dat hulle alle volkseie slawe sal vrylaat in die hoop dat die Here hulle sou verlos. Dan vind daar klaarblyklik ’n wonder plaas: Die Babiloniërs pak op en trek weg om ’n aanval vanuit Egipte af te weer.

Dit word egter baie gou duidelik dat die volk nie met die regte motiewe tot God genader het nie. Wanneer die gevaar verby is, laat hulle nie op hulle wag nie en maak weer die slawe diensbaar. Van ware verootmoediging en bekering was daar dus geen sprake nie. Dit het nie vir hulle gegaan oor die feit dat hulle teen God gesondig het nie, maar oor die nood waarin hulle verkeer het. Hulle sondige motiewe word deur hulle dade blootgelê. Hulle het verootmoediging gebruik as ’n wyse om God te probeer manipuleer. Hulle wou ’n towerstaffie swaai en die vingers klap sodat alles weer maanskyn en rose kan wees. Tot hulle skok kom die volk agter dat God nie jou speelmaat is nie wanneer Hy Jeremia na hulle stuur met die boodskap dat die oordeel vir seker op pad is.

 

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?

In ons beredenering van 22 April se dag van verootmoediging moet ons daarom dalk ook maar saam met die Engelse sê: “The proof of the pudding is in the eating”. Ons kan nie tot in mense se harte sien nie. Ons kan nie bepaal wat die motief is waarmee elkeen wat by hierdie dag betrokke was, dit gereël of bygewoon het nie.

Tog sal daardie motiewe wel met verloop van tyd duidelik word. As dit werklik tot eer van God gedoen is met ware verootmoediging as oogmerk, sal berou en bekering op groot skaal sigbaar word in veranderde menselewens in hierdie land. Dit sal mense wees wat anders optree by hulle huise, by hulle werke, by hulle skole of universiteite. Dit sal mense wees wat God eerste stel op elke terrein van die lewe en sy wil soek en ook doen. Daardie verandering sal voortduur al sou ons omstandighede wonderbaarlik oornag verbeter. Dit sal nie ewe skielik verflou omdat die nood nie meer so groot is nie. En selfs ook al sou die Here besluit dat ’n aansienlike tyd van beproewing en swaarkry steeds vir ons voorlê, sal mense bly hoop en vertrou en tot God se eer lewe.

Die probleem is dat dit lank kan vat voordat ons sal weet of die saad wat gesaai is gesonde plante voortgebring het wat goeie vrugte dra. Wat maak ons tot dan?

Daar is een uitvloeisel wat van dag een af in mense wat waarlik tot verootmoediging gedring is se lewens na vore behoort te kom. Ons kan nie wag tot die volgende massa-byeenkoms voordat ons weer die gemeenskap van die gelowiges opsoek nie. Dit is in die gemeenskap van die heiliges wat ons die volle omvang van Christus se liefde leer ken en vervul word tot al die volheid van God (Efés. 3:19). Dit is die beginsel dwarsdeur die Skrif. In die kerk lewe ons deurlopend saam as liggaam van Christus en so word verootmoediging, aanbidding, vergifnis en alles wat daarmee gepaard gaan ’n lewenswyse en nie net ’n sporadiese gebeurtenis nie. Laat ons die instelling wat God self gegee het, gebruik om in die genade te groei.

Gesonde debat oor hierdie saak is goed. Dit is wonderlik om mekaar te kan wys op die positiewe dinge wat op 22 April gebeur het en gesê is. Dit is egter ook noodsaaklik om mekaar in liefde te kan wys op dit wat nie Skriftuurlik was nie sonder om emosioneel te raak oor jou persoonlike belewenis daarvan. Tog dink ek ons moet ophou stry oor wie reg of verkeerd is en eerder elkeen persoonlik in opregtheid saam met die tollenaar bid: o God, wees my, sondaar, genadig (Lk. 18:13), en as ons van ons knieë af opstaan, elke dag en oral vir God gaan lewe.

 

TOP