Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

"Waterskeiding-saak" vir godsdiens in skole

.....

Ná lang verwagting word die saak van OGOD (Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie) vs. Laerskool Randhart & Andere uiteindelik van 15 – 17 Mei in die Johannesburgse Hooggeregshof aangehoor. Hierdie saak wat al beskryf is as ‘n “waterskeiding-saak” in Suid-Afrika en heel moontlik in die Grondwetlike Hof mag draai, gaan spesifiek oor die reg van openbare skole om hulself met ’n bepaalde godsdiens (in die geval, Christenskap) te vereenselwig en hulself as ’n skool met ’n bepaalde godsdienstige (in die geval, Christelike) etos en/of waardes voor te hou.

 

Indien OGOD suksesvol is in die hof, kan dit die einde van (selfs vrywillige deelname aan) Skriflesing en gebed, lofprysing en aanbidding, ACSV - en ander Christelike aktiwiteite in openbare skole beteken. Alhoewel die uitkomste van die saak nie ’n direkte impak op privaatskole sal hê nie, mag dit wel ’n impak hê op die vryheid van ander staatsinstellings of staatsondersteunde instellings om godsdienstige praktyke in daardie instellings toe te laat.

 

  

Waaroor gaan die saak?

Die eiser is die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (“OGOD”), ’n sekulêre organisasie wat beweer dat hulle in die publieke belang en veral in die belang van kinders optree “om hulle te beskerm teen die inbreukmaking van hul grondwetlike regte op die altaar van godsdienstige praktyke en onderrig”. 

 

Die verweerders is ses openbare skole (drie laerskole en drie hoërskole) en word in die saak verteenwoordig deur die “Federation of Governing Bodies of South African Schools” (FEDSAS). Die skole het almal ’n Christelike etos en waardes, maar laat leerders van ander geloofsoortuiging toe tot die skool en gee hul die vryheid om hulself van Christelike aktiwiteite te verskoon. (Ander partye tot die saak sluit in die Ministers van Basiese Onderwys en Justisie. Verskeie organisasies het ook tot die saak toegetree as “Vriende van die hof”)

 

OGOD se saak teen die skole, in ’n neutedop, is dat dit téén die Nasionale Beleid op Godsdiens en Onderrig en/of téén die Suid-Afrikaanse grondwet is vir enige openbare skool om ’n spesifieke godsdiens te promoveer, of hulself primêr daarmee te vereenselwig of te assosieer. OGOD beweer verder dat dit verbode is om ’n leerder te versoek om die godsdiens (indien enige) waaraan sy/hy behoort, aan die skool bekend te maak; om ’n rekord van leerders se godsdiens/kerkverband (indien enige) te hou;  en om leerders op grond van hul godsdienstige verbintenis van mekaar te skei.

 

OGOD vra die hof dan verder om ’n bevel (interdik) teen elkeen van die skole afsonderlik uit te reik, wat hul gelas om sekere godsdienstige praktyke (insluitende die volgende) stop te sit: motto’s en skoolwapens wat geloof (veral geloof in die drie-enige God) erken of simboliseer;  godsdienstige sang en ACSV-aktiwiteite as deel van die skool se weeklikse aktiwiteite (selfs tydens pouse-tyd); Skriflesing en gebed aan die begin of einde van enige skoolbyeenkoms; die nooi van godsdienstige leiers om leerders toe te spreek; die uitdeel van Bybelmateriaal en/of promovering van Bybelstories; verwysings na die skeppingsleer (“creationism”) asof dit feitelik is.

  

Alhoewel OGOD in hul hofstukke benadruk dat die saak nie gesien moet word as ’n “aanval” op Christenskap nie, maar bloot as ’n aansoek om die regte van álle leerders te beskerm, argumenteer FEDSAS dat dit presies dit is. Hoekom anders sou OGOD, ’n erkende ateïste-organisasie, slegs openbare skole wat ’n Christelike etos handhaaf, teiken, ten spyte daarvan dat die regshulp wat hul vra, ’n direkte impak op élke openbare skool in die land met ’n godsdienstige etos (hetsy Christelik, Moslem, Joods, ens.) sal hê?

 

 

Wat sê die reg?


Artikel 15 van die Grondwet, onder die opskrif “Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening”, bepaal onder meer die volgende:

  

(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits –

(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;

(b) dit op billike grondslag geskied; en

(c) bywoning daarvan vry en vrywillig is

               

Die betrokke skole in hierdie geval is almal “openbare skole” wat (finansiële en ander) ondersteuning van die staat geniet. As sodanig, en in terme van a 15(2) van die Grondwet, word godsdiensbeoefening (“religious observances” – i.e. godsdienstige praktyke soos Skriflesing en gebed, lofprysing, aanbidding, meditasie, oordenking, getuienislewering, vas en ander voedingsverwante praktyke, godsdienstige kleredrag, ens.) in beginsel wél toegelaat, maar slegs indien daar aan die bostaande drie voorwaardes voldoen word.

 

In dié saak word heelwat regstegniese argumente rondom die betekenis van “tersaaklike openbare gesag” (is dit die Minister van Onderwys, die skoolbeheerliggaame, of beide?) gevoer; “’n billike grondslag” (“equitable basis”) (beteken dit dat alle godsdienste presies dieselfde hanteer moet word, of dat die meerderheidsgodsdiens voorrang mag geniet mits minderheidsgodsdienste redelikerwys geakkommodeer word?); asook “vry en vrywillig” (in omstandighede waar OGOD argumenteer dat daar “indirekte dwang” op leerders van ander godsdienstige oortuigings is om aan Christelike praktyke deel te neem, uit vrees dat hul geëtiketteer en gemarginaliseer sal word indien hul nie sou deelneem aan ’n “meerderheidspraktyk” nie.)

 

Terwyl die Grondwet spesifiek godsdiensbeoefening (“religious observances”) toelaat, sê dit niks oor die bestudering van verskillende godsdienste (“religion education”) en godsdiensonderrig (“religious instruction”) nie. Die Nasionale Beleid op Godsdiens en Onderrig (wat weliswaar nie regskrag as wetgewing het nie, maar tóg as riglyn geld) tref egter so ’n onderskeid en sê dat godsdienste-onderwys/studies (“religion education” i.e. die bestudering van verskillende godsdienste as deel van die verpligte kurrikulum) die verantwoordelikheid van skole is; terwyl godsdiensonderrig (“religious instruction” i.e. onderrig/opvoeding in ’n bepaalde godsdiens met die doel om daardie godsdiens se leerstellings, waardes, ens. in leerders te vestig) primêr die verantwoordelikheid van die huis, familie en godsdienstige gemeenskap is. Die beleid moedig skole wel aan om hul fasiliteite vir godsdiensonderrig beskikbaar te stel, mits dit nie met die skool se kern opvoedkundige oogmerke inmeng nie, bv. vir vrywillige byeenkomste en ontmoetings van godsdienstige organisasies buite skoolure, of tydens pouse-tyd.  

 

In hierdie saak is die bestudering van verskillende godsdienste nie in geskil nie, maar wel godsdiensbeoefening en (in die geval van twee van die skole) godsdiensonderrig. Volgens OGOD, behoort álle godsdiensonderrig in skole verbode te wees Hierteenoor argumenteer FEDSAS dat so lank as wat godsdiensonderrig ’n vrywillige vak is (eerder as ’n verpligte vak wat nodig is om na ’n volgende vlak/jaar te vorder), die nasionale beleid dit nie verbied nie.  

 

 

Waarom is die saak belangrik?

Die saak is belangrik omdat dit die vraag vra: Wat is die plek van godsdiens in openbare skole? Dat daar wél ’n plek vir beoefening van godsdienstige praktyke is (onderhewig egter aan sekere voorwaardes), staan vas (art. 15(2) van die Grondwet). Anders as in Amerika wat ’n streng skeidslyn tussen staat en godsdiens handhaaf, volg Suid-Afrika ’n samewerkende model tussen staat en godsdiens in terme waarvan godsdiens, onderhewig aan sekere voorwaardes, in staats(ondersteunde)-instellings toegelaat of selfs aangemoedig word. Die waarborg van ons Grondwet is duidelik “freedom of religion”, nie “freedom from religion” soos wat OGOD oënskynlik in die saak betoog nie.

 

Die vraag wat die hof derhalwe moet beslis, is: Wat beteken dit en hoe lyk dit in ’n reënboogland soos Suid-Afrika waar elke persoon en leerder (Christen, Moslem, Jood, ateïs, ens.) daarop aanspraak kan maak dat sy/haar geloof (of nie-geloof) gerespekteer, beskerm en bevorder moet word? 

 

Terwyl sommige, juis a.g.v. die uitdagings en potensiële konflik wat so ’n diverse omgewing meebring, mag argumenteer dat godsdiens liefs in die binnekamer (en uit die skool) gehou moet word, is dit nie so eenvoudig nie. As Bybelgelowige Christene verstaan ons dat ons geloof en ons Christelike oortuigings nie slegs ’n (private) kompartement van ons lewens is nie, maar die kern is waarom alle lewensterreine sentreer. 1 Korintiërs 10:31 sê: Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.  Daarom laat ons nie ons geloofsoortuigings agter, die oomblik wanneer ons ons voete by die huis uit sit nie – ons neem ons geloofsoortuigings met ons sáám na die skool, die werksplek en die markplein. 

 

In die Grondwetlike hofsaak van Christian Education South Africa v Minister of Education (2000), het regter Sachs (’n selferkende ateïs) soos volg hieraan erkenning gegee:

 

 There can be no doubt that the right to freedom of religion, belief and opinion in the open and democratic society contemplated by the Constitution is important. The right to believe or not to believe, and to act or not to act according to his/her beliefs or non-beliefs, is one of the key ingredients of any person’s dignity. Yet freedom of religion goes beyond protecting the inviolability of the individual conscience. For many believers, their relationship with God or creation is central to all their activities. It concerns their capacity to relate in an intensely meaningful fashion to their sense of themselves, their community and their universe. For millions in all walks of life, religion provides support and nurture and a framework for individual and social stability and growth. Religious belief has the capacity to awake concepts of self-worth and human dignity which forms the cornerstone of human rights. It affects the believer’s view of society and founds the distinction between right and wrong. It expresses itself in the affirmation and continuity of powerful traditions that frequently have an ancient character transcending historical epochs and national boundaries. (par. 36)

 

Natuurlik is ’n skool nie ’n kerk (moskee, sinagoge, ens.) nie. Die wyse waarop en die mate waartoe gelowiges uitdrukking aan hul geloof kan (behoort te) gee in ’n skool, verskil daarom (tereg) van ’n godsdienstige konteks. Die vraag wat die hof in hierdie saak sal moet beantwoord, is derhalwe nie óf godsdiens in openbare skole hoort nie (dit hoort), maar wat die grense is - in die konteks van hierdie spesifieke skole (wat almal ’n leerder-samestelling van feitlik 100% Christene het), maar ook in die breër konteks van ’n diverse land soos Suid-Afrika wat behoort aan “almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid” (aanhef tot die Grondwet).

 

Gegewe die impak wat hierdie saak sal hê – nie net op die ses skole wat in die saak betrokke is nie, maar potensieel op álle openbare skole en by implikasie op die miljoene mense (onderwysers en jongmense) in Suid-Afrika wie se diepste oortuiginge en dag-tot-dag lewens direk deur die saak geraak sal word, nie net vir nou nie maar vir geslagte vorentoe – vra ons Christene regoor die land om saam te staan in gebed vir hierdie saak en te vertrou vir ’n uitkoms wat ons vryheid as gelowiges om te glo en ons geloofsoortuigings uit te spreek en ook uit te leef, sal beskerm eerder as om dit aan bande te lê. 

 

*Nota:  Alhoewel FOR SA nie ’n party tot die geskil is nie, en die organisasie nie direk by die saak betrokke is nie, het ons die volledige hofstukke en betoogshoofde in die saak bestudeer. FOR SA se regsverteenwoordiger is ook genader om die Council for the Protection and Promotion of Religious Rights and Freedoms, wat ’n “Vriend van die Hof” is, in die saak by te staan. 

 

 

Ondersteun FOR SA:

Freedom of Religion South Africa (FOR SA) is ’n nie-winsgewende organisasie wat hul vir die beskerming en bevordering van godsdiensvryheid in Suid-Afrika bewyer. Die organisasie het onlangs voorleggings gemaak m.b.t. die nuwe voorgestelde wetgewing op haatspraak en die ‘CRL’ Regte Kommissie se voorstelle vir die regulering van godsdiens in Suid-Afrika. Ondersteun FOR SA deur:

  • Gebed;
  • (Kosteloos) by die organisasie aan te sluit en/of op hul nuusbrief in te teken, by www.forsa.org.za;
  • Die organisasie op Facebook te volg, by “Freedom of Religion SA”;  en/of
  • ’n Donasie aan die organisasie te maak, by www.forsa.org.za/donate 

 

TOP