Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

"Ou spore – nuwe weë". Feesrede Majuba 2017

   

Skaars 150 km. hiervandaan, by Danskraal, het my oupa ses geslagte terug op ’n kanon geklim en sy eerste woorde was: “My broeders en mede-landsgenote …” Die eerste woorde van die bekende 1838-Gelofte. ’n Week later vind die Slag van Bloedrivier plaas. 

Nou kan iemand dalk vra: “Waarom kon hy dit doen?” En die antwoord is: Want hy was ’n Protestant!  Hy was die afstammeling van die Hugenote wat vir hulle geloof uit Europa moes vlug.  Die gevolg van Martin Luther wat sy 95 stellinge 500 jaar terug aan die kerkdeur vasgespyker het, was dat gelowiges begin breek het met die “ander godsdiens” van daardie tyd. Daarom hoor ons so duidelik in ons voorouers se woorde en geskrifte dat hulle mense was wat in noue afhanklikheid van die Drie-enige God geleef het. Hulle het geglo dat God oor alle aspekte van die mens se lewe heers en alle dinge beheer. Hulle gereformeerd-protestantse erfenis was soos ’n penwortel waarmee hulle die lewende water uit Gods Woord getrek het om vrugbaar tot sy eer te leef.  Saam met hierdie gereformeerd-protestantse geloof wat hulle lewens deurtrek het, het daar egter nóg iets in hulle are gevloei.

Dit was ’n republikeinse strewe om hulself te regeer vry van enige vreemde oorheersing. Daarom lees ons reeds van talle republieke in ons volk se geskiedenis nog vóór die Slag van Majuba plaasgevind het: Die Republieke van Swellendam; Graaff-Reinet; Winburg, Potchefstroom, Lydenburg, Stellaland, Utrecht, Vryheid.  Ja, ook die Oranje Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek. 

Dit was veral in die Vrystaatse Republiek waar die gereformeerd-protestantse geloof en die republikeinse strewe baie mooi tot uiting gekom het in die Vrystaatse grondwet, en veral dan onder die regering van president Brand met sy bekende gesegde dat alles sal regkom as elkeen sy deel doen. 

In hierdie bekende gesegde hoor ons ook die klanke van ’n gemeenskaps-gerigtheid. Dit is nie net elkeen vir homself nie, maar elkeen het ’n deel om te doen.

Dit is egter baie hartseer dat vir meer as 40 jaar ná die Slag van Bloedrivier daar nie veel van hierdie gemeenskaps-gerigtheid in die ZAR tot sy reg gekom het nie, soveel so dat daar selfs ’n burgeroorlog was. Die Gelofte het baie vinnig grootliks vergete geraak. Weens onder meer hierdie gebrek aan `n gemeenskapsgerigtheid, kon bedreigings moeilik die hoof gebied word. Verder was die staatskas basies leeg en die burgers was nie baie ywerig om kommandodiens te lewer nie. In 1872 merk ds. Cachet heel tereg op dat die burgers so verdeeld is, hulle lyk meer soos vier of vyf verskillende volke as na een volk. Daarby maak hulle nog die liberalis, TF Burgers daardie jaar die president. Dit was onder meer ook hierdie onderlinge verdeeldheid wat die Britse anneksasie so maklik laat plaasvind het. 

Maar dit was hier by Majuba wat dit verander het. Hier het ’n volk wat eintlik nog nie eers werklik bestaan het nie, vir ’n opskudding gesorg deur die magtige Britse weermag vernederend te verslaan. Dit word die vierde en finale veldslag van wat ons sou leer ken as die Eerste Anglo-Boereoorlog, die enigste oorlog wat die Britse leër in twee eeue verloor het. Wat egter vir die Britte ’n vernedering was, was die saamsnoer van gereformeerde republikeine tot ’n nuwe gemeenskap. ’n Volk het hier by Majuba opgestaan. ’n Volk wat nie soos ’n betonfiguur oor tyd geset en droog geword het nie, maar ’n volk wat in die hitte van die stryd opgestaan het, soos ’n warm yster uit die vuur op die aambeeld gevorm word tot iets besonders.

Dit was ’n besonderse volk. Luitenant Hector MacDonald was hier een van die gevangenes en hy het later geskryf dat die Boere onmiddellik ná afloop van die geveg vir langer as ’n uur Psalms gesing het en al die eer vir die oorwinning aan die almagtige God gegee het. Daarom is die volgende jaar se proklamasie dat 27 Februarie voortaan ’n publieke feesdag en ’n dag van verootmoediging voor die Here moet wees, nie vir ons vreemd nie.

Vanoggend moet ons met hartseer vra wat van daardie volk geword het?  O ja, ons hou van feesvier, ons is immers hier vir die Majubafees. Maar weet ons ook nog iets van verootmoediging? Jy kan lekker saam by die Cantus sing, maar sing jy net so heerlik die Psalms?

Waar het dinge vir ons verander? Die antwoord is nie “met die verkiesing van 1994” nie!  Lank voor dit het daar reeds iets in die Boerevolk verander. Die veranderinge wat in 1994 gekom het, gee vir ons bloot ’n samevatting van waarop die 20ste eeuse geskiedenis in ons land uitgeloop het. As ons die 20ste eeu se geskiedenis van Suid-Afrika in ’n neutedop moet opsom,  kan dit iets wees soos: Die SAPPE het die stryd gewen.

Sien, ons voorouers se stryd het nie met die oorwinning hier by Majuba tot ’n einde gekom nie. Selfs nie eers later met Republiekwording nie. Vir dekade ná dekade is onder meer hierdie drie kenmerke van ons voorouers: hul gereformeerd-protestantse karakter, hul republikeinse strewe en hul gemeenskapsgerigtheid, aangeval en afgebreek.

Die liberalisme en humanisme het ons volk ingedring en daaraan gewerk om ons van ons geloofswortels af te sny. Die volk moes losgemaak word van sy God en sy kerk. Of jy hom nou ongelowig of sektaries maak, kry hom net weg van die waarheid af … Oortuig hom dan dat hy nóú die waarheid beet het …

Die republikeinse strewe van patriotte moes verander word, ’n volk moes ’n nasie word; die Boere-Afrikaner moes ’n Suid-Afrikaner word. So moes ook die gemeenskap vervang word met die individu. So asof jy jouself kan wees los van die gemeenskap waaraan jy behoort.

In die 21ste eeu, hier aan die voet van Majuba, is die uitdaging vir ons om die SAPPE te laat ophou wen. Want sien, as ’n volk die pad byster raak, hou hy nie noodwendig dadelik op met bestaan nie. Dit is juis dan tyd om terug te keer en vanuit ons wortels die pad van die toekoms te plavei. Daarom is die oproep in die eerste plek: Terug na die ware God. Terug na sy Woord. Nie ’n nostalgiese teruggryp na die “goeie ou dae” nie. Nee, dan gaan jy nog nie ver genoeg terug nie. Gaan verder, gaan terug na die God uit wie, deur wie en tot wie alles is. Daar by Hom en uit sy Woord gaan jy leer om trots te wees op wie die Here jou gemaak het. Daar gaan jy leer om te leef soos wat Hy van jou vra. Daar gaan jy streef na dit wat God vir jou beloof het, waar gaan word. Kom ons word nostalgies oor ons liefde vir God en dit wat Hy in ons geskiedenis gedoen het.

Dit is presies wat ons by die AP Akademie wil doen. Of ons studente nou onderwysers, sielkundiges, leraars, joernaliste of filosowe wil word, ons leuse dui die rigting aan: Ou spore – nuwe weë.

Vanuit die voetspore van diegene wat die stryd deur die eeue getrou gestry het, wat die toets van die tyd deurstaan het, wil ons die pad van die toekoms plavei. In die voetspore van diegene wat die Here Jesus getrou nagevolg het. Nie om mense te vereer nie, maar tot eer van die grote Skeppergod.

As jy vandag jou medalje koop en jy sien Martin Luther se gesig daarop, onthou dan dat hy maar net die instrument in God se hand was waarmee daar gebreek is met die “ander godsdiens” van sy tyd. Net soos wat daar voor in die ingangsportaal van die HS van Blerk-saal by daardie boomstomp baie duidelik gesê word: Hierdie is nie ’n heilige boomstam nie, maar dat ons Boerevolk slegs die heilige God eer …

Mag dit weer met opregtheid van ons volk gesê word. As jy vandag hier loop op die ou spore van ons voorouers, onthou dan  voordat hulle hier by Majuba oorwin het, het hulle eers by Paardekraal teruggekeer na die Here toe. En toe hulle terugkeer na die ou spore wat hulle verlaat het, kon hulle nuwe weë baan, selfs teen die steil kranse uit. Dit alles terwyl hulle die Here vir die oorwinning vereer het. Mag daar vandag iets van hierdie spore op elkeen hier afsmeer.

 

TOP