Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die Trump-era: Rede tot hoop of nie?

  

Donald Trump het op 8 November 2017 die linksgesinde wêreld, wat die meeste nuusinstellings insluit, geskok met sy oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Ná die oorwinning van Barack Obama in 2008, het menige linksgesinde intellektuele in Amerika gereken dat die koalisie van Amerikaanse linkses, minderhede en immigrante dit vir die Republikeinse Party onmoontlik sou maak om weer in die afsienbare toekoms ’n presidentsverkiesing te wen.

Trump se opponent, Hillary Clinton, het egter byna 5 miljoen stemme minder gekry as wat Obama in 2012 gekry het. Dit dui duidelik aan hoe uiters ongewild sy as vasaal-kandidaat was wat bloot Obama se beleidskeuses sou voortsit. Haar ongewildheid het wel in Trump se guns getel, maar die uitklophou is geplant deur die koalisie wat hy tussen Amerika se werkersklas, Christene en konserwatiewes kon vorm. Hierdie koalisie het aan Trump ’n strategiese meerderheid in die kieserskollege gegee ten spyte van sy gebrek aan steun in New York en Kalifornië, wat vir Clinton die meeste totale aantal stemme (en veelbesproke populêre steun) in die verkiesing gegee het.

Die Trump-koalisie het rondom sy banier (Maak Amerika weer Groot) versamel wat aan die hand van die volgende punte hul veldtog gevoer het:

  • Behoud van werksgeleenthede in Amerika
  • Beëindiging van onwettige immigrasie uit Latyns-Amerika
  • Breek van drukgroepe (veral voormalige politici en politieke amptenare) se invloed op Washington, en
  • Herstel van wet-en-orde

Trump se veldtog het uitermate goed presteer onder Christene. Hy het 61% meer steun as Clinton gekry by die sogenaamde Evangeliese Protestantse Christene, 11% meer by Histories Protestantse Christene en 4% meer by Rooms-Katolieke Christene. Die enigste Christen-groepe waar Clinton beter sou vaar, is met die minderhede (swart Protestantse Christene en Spaanse Katolieke Christene).

Trump se persoonlike aantreklikheid was egter nie deurslaggewend hiervoor nie, aangesien meer as 55% van hierdie Christene volgens meningspeilings ontevrede met hul kandidaat was. Dit kan daaraan toegeskryf word dat Trump nooit ’n kampvegter vir sake na aan Christene se harte was nie, soos bv. die reg op lewe of godsdiensvryheid. Hillary Clinton, daarteenoor was ’n groot ondersteuner van aborsie-wetgewing en haar beleide het die vryheid van Christene om hul geloof en oortuigings ten volle uit te leef, ernstig bedreig. Trump was in hierdie opsig ’n neutrale keuse teenoor ’n vyandige keuse.

Trump se keuse vir vise-president, Mike Pence, was egter ’n deurslaggewende trekpleister vir Amerikaanse Christene. Pence is gebore in ’n Rooms-Katolieke gesin van Ierse oorsprong en het as student ’n wedergebore Christen geword en by ’n Evangeliese Protestantse gemeente aangesluit. Hy is ’n ervare politikus wat vir 10 jaar in die Huis van Verteenwoordigers gedien het en later ’n baie suksesvolle goewerneur van Indiana geword het, waar hy die ekonomie met laer belastingkoerse verbeter het en ook stappe geneem het om Christene se regte te beskerm. Hy is bekend as ’n kampvegter vir die reg op lewe en ’n beskermer van tradisionele huwelike.

Pence het sedert die verkiesing die voorsitter geword van Trump se oorgangskomitee. Hierdie komitee was verantwoordelik vir die aanstelling van die nuwe kabinetslede wat Trump se verkiesingsbeloftes moet uitvoer. Die komitee het die werkywer van Trump en Pence tydens die verkiesing voortgesit en het ná vyf weke reeds twaalf poste gevul. Op dieselfde tydstip het Barack Obama slegs sewe poste gevul gehad en George W. Bush en Bill Clinton geen.

Die voorgestelde kabinet (wat nog deur die wetgewende gesag bekragtig moet word), word gekenmerk deur die groot aantal voormalige generaals (4) en suksesvolle sakereuse (4) en natuurlik ook strydrosse uit die Republikeinse Party. Baie lede is egter ook bekend vir hul openlike Christelike-oortuigings. Dink maar aan Betsy de Vos (Sekretaris van Onderwys), dr. Ben Carson (Sekretaris van Behuising en Stedelike Ontwikkeling), Jeff Sessions (Prokureur-Generaal), dr. Tom Price (Sekretaris van Gesondheidsdienste), Rex Tillerson (Sekretaris van Buitelandse sake/staat) en Rick Perry (Sekretaris van Energie).

Die Trump-kabinet bestaan uit mense wat ’n voorkeur vir aksie vertoon. Uit sy aanstellings is dit duidelik dat die volgende aktiwiteite voorkeur sal geniet tydens sy eerste ampstermyn:

  • Vervanging van die huidige universele gesondheidsversekering (Obamacare) – soortgelyk aan die nasionale gesondheidsversekering wat vir Suid-Afrika beplan word – met ’n alternatief wat meer kompetisie en verbruikerskeuse toelaat (en daardeur ’n insentief sal skep om kostes laag te hou);
  • Belegging in reuse infrastruktuurprojekte, insluitend die versterking van die grens met Mexiko;
  • Ondersteuning van onafhanklike skole en tuisskole asook die herstel van ouers se invloed in skole ten koste van die onderwysvakbond;
  • Normalisering van internasionale betrekkinge met Rusland en ’n buitelandse beleid wat minder inmeng in internasionale gebeure;
  • Inperking van die uitbreiding van “sosiale regte”, soos aborsieregte en die wegdoen van tradisionele huwelike;
  • Groter steun vir die VSA se veiligheidsmagte om wet-en-orde te handhaaf;
  • Implementering van ’n omkeerstrategie om vervaardiging en die sakesektor in Amerika te steun. Dit sluit in die verlaging van belasting, die verslapping van strafmaatreëls wat dit moontlik maak om geld wat in die buiteland verdien is, terug te bring na die VSA vir belegging, die verwydering van burokratiese rompslomp met betrekking tot omgewingsregulasies en die moontlike bestraffing van maatskappye wat hul vervaardiging na lande met lae arbeidskoste verskuif deur die instel van invoertariewe.

Hierdie beleidsrigtings skep meer ruimte vir die private sektor en die burgerlike sektor, insluitend kerke, om ’n groter rol in die alledaagse samelewing te speel teenoor die rol wat die regeringsektor vir homself toe-eien. Hierdie balans tussen die gesag van die staat en die vermoë van die private- en burgerlike samelewing is in die verlede bewys as ’n belangrike voorwaarde vir volhoubare vooruitgang. Die inperking van die staat sal ook vir Christene meer ruimte skep om hul roeping sonder vrees vir vervolging uit te leef.

Daar is egter ook ’n meer spesifieke belofte wat deur Trump en Pence gemaak is tydens die verkiesing wat verrykende gevolge vir Christene sal inhou indien die belofte uitgevoer sou word.

Kerke is van inkomstebelasting vrygestel in die VSA terwyl skenkers hul skenkings van hul inkomstebelasting kan aftrek. Hierdie reëling het egter in 1956 daaraan onderhewig geword dat kerke nie voorspraak of teenspraak mag maak vir enige politieke kandidaat tydens ’n verkiesing nie. Dit beteken dat kerke hulself sedertdien moes weerhou om direk aan die demokratiese prosesse deel te neem uit vrees dat hul moontlik sonder inkomste gelaat sal word wat hul ander aktiwiteite sou raak. Hierdie reëling is deur die voormalige Demokratiese president, Lyndon Johnson, ingevoer gedurende sy termyn as senator en het kerke se invloed in die politieke sfeer geknak. Dit is ook opmerklik dat hierdie reël nie vir alle soortgelyke organisasies geld nie. Vakbonde geniet byvoorbeeld dieselfde belastingvoordele, maar is vry om aktief aan die politiek deel te neem, wat hulle ook met groot ywer doen, veral om linksgesinde agendas te bevorder. Dit  bots dikwels met die belange van Christene, soos byvoorbeeld die inhoud van die onderwyskurrikulum.

Donald Trump en Mike Pence het tydens hul veldtog beloof om hierdie Johnson-wysiging aan die belastingwet ongedaan te maak.[1] Indien dit gebeur, sal gemeentes in elke dorp en stad hul stemme terugvind om hul profetiese roeping na te kom deur hul deelname aan die prosesse wat openbare beleid in Amerika bepaal. Dit is dikwels hiérdie beleid wat aandui wat aanvaarbaar in ’n gemeenskap is en wat nie.

Die tyd sal leer of Trump se Sekretaris van die Tesourie, die bankier Steve Mnuchin, die belofte om die Johnson-wysiging van die wetboek te verwyder,gestand sal doen. Dit is onwaarskynlik dat hy dit uit persoonlike oortuiging sal doen, maar dit mag dalk deur druk vanaf Mike Pence gebeur.

Amerika is weens sy reuse uitset aan boeke, films, musiek en televisiereekse steeds die sentrum wat die vorming van Westerse denke betref. Daarom sal die verwydering van die Johnson-wysiging ook ’n wêreldwye verandering meebring in die wyse waarop Christene en hul kerke aan die stryd om idees meedoen.


 [1https://www.youtube.com/watch?v=04Gapm-ugkE 

 

TOP