Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

NG Kerk se 2016 Sinodebesluit oor selfdegeslagverhoudings

    

Kommentaar op die besluit van die buitengewone vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op 10 November 2016 rakende selfdegeslagverhoudings:

Die Algemene Sinode van 2015 se besluit om selfdegeslagverhoudings goed te keer, het buitengewoon baie kommentaar uit die geledere van die kerk ontlok. ’n Buitengewone Algemene Sinode is vir 7-10 November belê, om hierdie besware, appèlle, gravamina en ander voorleggings te hanteer. 

Die voorleggings is aangehoor en daar is oor drie temas besin nl., die gesag van die Skrif, die interpretasie van die Skrif en, selfdegeslagverhoudings en die Skrif. Voortspruitend hieruit het die Algemene Sinode ’n nuwe besluit geformuleer wat die Kerkbode op 10 November aankondig as: “NG Kerk sê nee vir gay-verhoudings” en verklaar dat die omstrede besluit van 2015 volledig omgekeer is. Dit was ’n  grootse besluit wat geneem is en daar is waardering teenoor en dank aan God en al die rolspelers wat meegewerk het om die sinode tot dié besluit te bring. 

Die amptelike besluit verskyn op die NG Kerk se webblad. Dit kom voor as vaag en dubbelsinnig geformuleer en laat ruimte vir baie vrae. Dit is jammer aangesien dit ’n persoon wat nie die konteks van die sinode ken nie, aan homself oorlaat om te bespiegel oor die betekenis van die inhoud. Ek het dit in skrille kontras met die klinkklare en duidelike standpunt van die Evangelies Gereformeerde Kerk wat ek ook in die tyd gelees het, beleef. Dit is duidelik dat die sinode sy woorde versigtig kies en inklusief en akkommoderend wil wees in ’n poging om die eenheid nie te skaad nie. Waarheid en eenheid word teen mekaar opgeweeg. Dit is in lyn met die “ruim-huis” benadering. Die onvermydelike staar die kerk egter in die gesig. Net soos ’n koninkryk of ’n huis wat teen homself verdeeld is, nie bly staan nie, sal die kerk ook nie kan bly staan as probeer word om twee eties-onversoenbare standpunte gelyktydig te akkommodeer nie. 

Oor die Gesag van die Skrif blyk daar eenstemmigheid te gewees het terwyl daar oor die Interpretasie van die Skrif uiteenlopende sieninge was. Te midde van laasgenoemde, besluit die vergadering dat die vorige amptelike besluite van die Algemene Sinode oor Skrifgebruik en Skrifgesag nie gewysig is nie en steeds die geldende standpunt van die Algemene Sinode is (2.2). 

Aangaande Selfdegeslagverhoudings en die Skrif kon na my mening besluitneming vergemaklik en verwarring uitgeskakel gewees het, indien daar ’n duidelike onderskeid tussen gay en selfdegeslag-aangetrokkenheid getref sou word. Persone wat as “gay” identifiseer, beleef aangetrokkenheid tot persone van dieselfde geslag. Maar nie almal wat selfdegeslag-aangetrokkenheid beleef, identifiseer as gay nie. Gay staan ’n ideologie voor en is ’n sosio-politieke term wat geskep is rondom die LEUEN dat "gay"-wees geneties of andersins biologies bepaald is en dus geheel en al onveranderlik en permanent is. ’n Gay persoon is hiervolgens dus ’n slagoffer van sy omstandighede en God is verantwoordelik vir sy aangetrokkenheid tot dieselfde geslag.  Hieragter skuil ’n agenda wat poog om seksuele dade tussen persone van dieselfde geslag aanvaarbaar te maak as net nog ’n variant van menslike seksualiteit. Vir dié rede moet dit ontsondig word en mag dit ook nie as ’n psigiese ongesteldheid voorgehou word nie. Dit loop hand aan hand met aktivisme, om vir gay mense hulle regte te bekom. 

Word die polities-gedrewe ideologie uit die saak verwyder, gee die term selfdegeslag-aangetrokkenheid erkenning dat daar mans en vroue is wat so 'n probleem ervaar, wat sielkundig beskryf kan word en waarvan die dinamika en onderliggende problematiek herken en erken kan word. Dit skep die geleentheid dat so ’n persoon die uitlewing van sy aangetrokkenheid onder die heerskappy van Christus kan plaas. Dit kan ook daartoe bydra dat sulke mense met empatie en insig bygestaan en ondersteun kan word, terwyl hulle hard werk aan die herontdekking van en identifisering met hul Godgegewe biologiese geslag, sou hulle wou. 

’n Ander sosio-politieke term wat problematies is, is oriëntasie. Dit is ’n woord wat geskep is as ’n teëvoeter vir die begrip dat selfde-geslag aangetrokkenheid ’n persoon se voorkeur of keuse is. Die probleem met die term is dat talle navorsers uitwys dat die term nie na behore gedefinieer kan word nie. Tweedens plaas die term alle mense in kategorieë asof seksualiteit so netjies afgebaken kan word. Op dié wyse kan heteroseksuele persone en homoseksuele persone teenoor mekaar gestel word. So gesien, word veral die heteroseksuele persoon dikwels as die verontregter en die homoseksuele persoon die verontregte geskets. 

Dit is egter nie verrassend dat die Skrif nooit na ’n mens kragtens sy belewenis van aangetrokkenheid verwys nie, maar geslagtelik as man en vrou. So gesien, behandel die Skrif dus alle mans en vroue gelykwaardig en moet elkeen as man en vrou hom of haar aan God se seksuele etiek onderwerp. 

Gesien teen dié agtergrond, word punt 4.1 van die besluit wat erkenning gee aan die gelykwaardigheid van alle mense en dit bepleit dat daar met respek en liefde teenoor alle mense as beelddraers van God opgetree moet word, verwelkom. Daarom kan ek my ook vereenselwig met 4.2 wat lidmate oproep, om mekaar met die liefde van Christus te aanvaar. 

Punt 4.4 “herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie.” 

Dit is jammer dat die vae sinsnede “nie aan Christelike riglyne voldoen nie” aan die einde gebruik word, in stede daarvan dat dit duidelik as sonde afgewys word. 

Enige seksuele verhouding tussen mense van dieselfde geslag word hiermee afgewys. In sy wese plaas hierdie besluit die NG Kerk terug by besluit 30.5.3.2 van 1986 wat lui: “Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos deur die Heilige Skrif geopenbaar (AS1986:672). 

Die verklaring gaan egter ook verder en verklaar dat enige seksuele gemeenskap buite die huwelik verkeerd is. Dit sê dus dat alle mans en vrouens die uitlewing van hulle seksualiteit in lyn met God se Woord moet bring en dit net binne die huwelik mag beoefen. 

Hierdie herbevestiging bevestig indirek God se uitsprake oor egskeiding en hertrou en moet ter harte geneem word. Die kerk is dan ook in stryd met die uitspraak deur goedkeuring te verleen aan paartjies van die teenoorgestelde geslag, om saam te woon. 

Punt 4.5 “erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.” Verhoudings van die aard is volgens navorsing baie yl gesaai. Die feit dat sulke verhoudings kan bestaan, sê egter niks oor of dit vir God aanvaarbaar is al dan nie. So is dit moontlik dat ’n seun en ma in ’n verhouding kan wees en getuig van liefde en trou. Liefde en trou negeer egter nie God se bepaling, dat sulke verhoudings sonde is en dus afgekeur word nie. 

Punt 4.7 gee die oortuiging weer “dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.” 

Na aanleiding van besluit 4.4 kan daar myns insiens nie langer van “gay lidmate (gay Christene) gepraat word nie. Skriftuurlik kan ’n persoon nie volhardend in onbelyde sonde leef en dan daarop aanspraak maak dat hy deel uitmaak van die liggaam van Christus nie. So beteken dit dan ook dat enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in sonde leef. 

Punt 4.8 “bevestig dat kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.” Maar punt 4.9 stel die grens waarbinne die kerkrade die aanstelling mag doen. Die punt skep geen ruimte vir ’n person wat in sonde leef, om in ’n amp aangestel te word nie, aangesien “dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone.. Dit impliseer wel ook dat ’n kerkraad ’n lidmaat wat aangetrokke voel tot persone van dieselfde geslag, maar sy aangetrokkenheid nie uitleef nie, weens sy verhouding met en liefde vir die Here, in enige van die ampte in die kerk kan aanstel. 

Die moderator maak egter die mees verwarrende uitspraak in sy YouTube-opname[1], waar hy die sinode se besluit verduidelik. My verstaan van die verduideliking is onder meer dat die gemeente nie die mag het om ’n dominee die bevoegdheid te gee om burgerlike verbintenisse te voltrek nie en kragtens die besluit van punt 4.4, is ’n gemeente se vertrekpunt dat hulle nie aan homoseksuele verhoudings erkenning mag gee, dit kan legitimeer of bevestig nie. Net in die volgende asem word egter bygevoeg dat dit nie in die praktyk op gemeentevlak so werk nie. In die gemeentes is daar “gay lidmate” en “lidmate in gay verhoudings” en kan hulle maar in sonde leef en word hulle geakkommodeer. Die sinode sanksioneer op sy beurt die gemeentes se akkommodering deurdat dié ook nie met “stokke en swaarde” teen die gemeentes gaan optree nie. Die moderator beroem hom daarin dat daar in die NG Kerk “liefdevol” met “gay lidmate” omgegaan word. Daar is tans nie een enkele tugsaak in die NG Kerk teen ’n “gay lidmaat” of ’n “gay lidmaat wat in ’n gay verhouding is” nie.  

Behalwe dat dit gemeentes vrymoedigheid verleen om die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluit te verontagsaam, druis die toedrag van sake lynreg teen die Skrif in. In 1 Korinthiërs 5 stel Paulus vir ons die voorbeeld waar hy die sedeloosheid van die Korinthiërs aanspreek, hulle bestraf en vermaan. Die vraag is of hierdie liefdevolle aanvaarding en stilswyende sanksionering van die sonde nie juis neerkom op ’n liefdelose optrede nie? 


[1] http://kerkbode.christians.co.za/2016/11/22/moderator-verduidelik-2016-besluit/

 

Behalwe dat dit gemeentes vrymoedigheif verleen om die BAS 2016 se besluit te verontagsaam

TOP