Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Roepingsbewustheid en die onderwys

    

In die openingstoespraak tydens Solidariteit se afgelope Toekomsberaad oor Onderwys (31/8/2016), maak mnr. Flip Buys tien stellings oor die onderwys. Die sewende stelling lui soos volg: “Ons moet mense vir hulle roepings toerus, nie net vir beroepe oplei nie.” Hy begrond hierdie stelling in ons Protestantse erfenis wat roepingsbewustheid natuurlik dadelik binne ’n geestelike konteks plaas. Onderwys met ’n sterk fokus op roepingsbewustheid vra natuurlik ook roepingsbewuste onderwysers en ouers. Vanuit ’n Christelike perspektief kan hiermee volmondig saamgestem word. Kolossense 3:23 sê immers: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”

Wat telkens tydens die beraad beklemtoon is, is die belangrikheid en ononderhandelbaarheid van moedertaalonderrig, kwaliteit onderwysers en hoë akademiese standaarde. Hierdie dinge vorm uiters belangrike boustene vir die Afrikaner se ekonomiese selfstandigheid. Hoewel hierdie dinge inderdaad baie belangrik is, moet ons versigtig wees dat ons nie ons roeping binne die onderwys tot slegs hierdie dinge verskraal nie. Dit kan katastrofiese gevolge vir die voortbestaan van die Afrikaner hê as ons nie besef dat die aanslag veel groter is as die bedreiging van moedertaalonderrig en verlaging in akademiese standaarde nie.

Hierdie groter aanslag is ’n ideologiese stryd (of ideëstryd soos dr. Herman in sy toespraak daarna verwys het) en het te doen met die kurrikulêre inhoud waaraan ons kinders blootgestel word. Vir meer as twee dekades nou al is die Suid-Afrikaanse onderwyskurrikulum daarop gemik om kinders se identiteit te omvorm sodat dit kan inpas by die regering se idee dat die ideale burger een is wat bereid is (en van wie verwag word) om sy unieke identiteit prys te gee ten einde ’n reënboogidentiteit te omhels.

Wie die nasionale kurrikulum noukeurig bestudeer, sal dadelik opmerk hoe dit daarop toegespits is om Christelike waardes en norme af te takel, die Christelike godsdiens van sy uniekheid te stroop en te relativeer en uiteindelik die Christelike lewens-en-wêreldbeskouing met ’n humanisties-liberale lewens-en-wêreldbeskouing te vervang. Dit is egter nie waar dit eindig nie. Die Afrikaner se geskiedenis word verdraaid aan hom voorgehou, sy taal word geëtiketteer as ’n simbool van onderdrukking en sy kultuur moet opsy staan aangesien dit wit oorheersing bevorder. Die gevolg is dat Christen-Afrikanerkinders wat hieraan blootgestel is, skaam is vir hulle unieke identiteit en vanweë ideologies-opgelegde skuldgevoelens, minderwaardig voel teenoor ander groepe in Suid-Afrika.

Wanneer ons dus roepingsbewustheid binne die onderwys verskraal deur slegs te fokus op dinge soos die behoud van moedertaalonderrig en uitnemende onderwys, gaan ons dalk op die korttermyn wen, maar oor die lange duur gaan ons baie meer verloor. Ons gaan sit met ’n geslag wat, hoewel hulle die beste onderrig in Afrikaans ontvang het, Afrikaans op ’n skinkbord gaan weggee omdat hulle nie meer daarmee wil identifiseer nie. Ons gaan sit met ’n geslag wat presies weet wat die voor- en nadele van onbeskermde seks is en, vanweë die uitnemende onderrig wat hulle ontvang het, selfs uiters vaardig sal wees met die gebruik van voorbehoedmiddels. Dog, ’n geslag sonder enige morele waardes.

Wanneer werklik oor roepingsbewustheid nagedink word, kom twee vrae op: 1) Ons is geroep om wat te wees en 2) om wat te doen? Wanneer ons dit vanuit ons Protestantse erfenis bedink, is gelowiges eerstens geroep om Christen en beelddraer van God te wees. Dit sluit in dat ons die unieke identiteit wat God aan elke volk en taal en nasie gegee het, sal koester tot sy verheerliking. Tweedens is ons geroep om in ons doen en late God se eer bo alle dinge te stel. Onderwys gerig op roepingsbewustheid, sal hierdie twee vrae deeglik moet verreken. Dit bring ’n mens by die besef dat ons inderdaad gewikkel is in ’n ideologiese stryd, soos dr. Herman dit uitgelig het en daarom sal ons ons aanslag ter behoud van ons kinders tot ’n baie wyer front moet verbreed.

Dit onderstreep wat gesê is op die beraad, naamlik dat Afrikaanse openbare skole sal moet veg vir groter selfstandigheid sodat hulle nie nodig het om beheer af te staan oor dit waaroor hulle veronderstel is om eiendomsreg te hê nie. Groter selfstandigheid beteken natuurlik nie net om die reg te besit om oor ’n skool se taalbeleid te besluit nie, maar veral om ook inspraak te hê in die kurrikulum wat gebruik word. ’n Kurrikulêre teenvoeter vir die liberaal-humanistiese aanslag waarin alle boustene van identiteit gerelativeer word, sal bedink moet word vir die openbare skole. Dit vra nie net die oorgooi van ’n Christelike sousie met ’n effense Afrikaner/Afrikaanse nasmakie oor die huidige inhoud nie. Programme en leerplanne behoort ontwikkel te word waarin kinders opgevoed word binne die Christelike lewens-en-wêreldbeskouing. Sonder om kritiekloos daaroor te wees, behoort die Afrikaner se taal, geskiedenis, kultuur en tradisies binne die sfeer van Godsgeskapenheid geplaas te word.

Terselfdertyd behoort ons Afrikaanse privaatskole te ondersteun en te help uitbou as ’n alternatief tot die openbare skole, maar ook as ’n ruimte waarbinne só ’n kurrikulêre teenvoeter ontwikkel en verfyn kan word. In hierdie verband het die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys, reeds baanbrekerswerk gedoen deur die klem baie sterk te laat val op die boustene van identiteit.

Uiteindelik vra dit natuurlik ook vir roepingsbewuste onderwysers. Dit help nie ons het al die regte gereedskap, maar die persone wat dit moet gebruik, is opgelei binne dieselfde ideologiese dampkring van die staat se kurrikulum nie. Onderwysers met ’n sterk reformatoriese onderbou, gegrond in ’n Christelike lewens-en-wêreldbeskouing wat skaamteloos, maar nie meerderwaardig, hulle identiteit uitleef, is nodig. Instansies soos die AP Akademie (wat al vir meer as 15 jaar onderwysers in hierdie dampkring oplei) en Aros behoort dus ondersteun en uitgebou te word tot wêreldklas instansies.

Wanneer hierdie benadering gevolg word, sal kinders nie net begelei word om ’n roepingsbewustheid ten opsigte van hulle beroep te besit nie, maar om in hulle ganse bestaan voortdurend bewus te wees van ’n hoër roeping.

 

 

TOP