Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Konserwatiewe herlewing is moontlik in Europa

    

Toe die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, in die Europese somer van 2015 besluit het om Duitsland se grense vir meestal Moslem-immigrante uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika oop te gooi, is Europa as kontinent vir altyd verander. Talle ander Wes-Europese lande soos Swede, Nederland en België het ook die sogenaamde vlugtelinge met ope arms ontvang. Mense het vanuit Turkye na Griekeland en vanuit Noord-Afrika oor die Middellandse See na Griekeland en Italië en van daar na die res van Wes-Europa begin stroom.

Dit was nie lank nie of die gevolge van hierdie stap, het duidelik geword. Die meer as een miljoen aankomelinge in Europa het hul geloof en kultuur saamgebring en in baie gevalle het dit wesenlik met dié van die meeste Europeërs gebots.

Kort voor lank het die immigrasiekrisis politieke gevolge begin toon. Regse politieke partye van regoor Europa het opgang in verkiesings begin maak. Sommige lande het vir die eerste keer in jare grensbeheer begin toepas en selfs hul grense vir asielsoekers en vlugtelinge gesluit. In Brittanje het ’n meerderheid van kiesers besluit om hul land uit die Europese Unie te onttrek.

In Pole het die regs-konserwatiewe party, Reg en Geregtigheid, die regering oorgeneem. In Hongarye het dié land se konserwatiewe eerste minister, Viktor Orban, die stem van Europeërs wat teen Merkel en die Europese Unie se immigrasiebeleid gekant is, geword.

Volgende jaar gaan kiesers in Duitsland, Nederland en Frankryk na die stembusse. In Nederland loop die regse leier van die Partij Voor de Vrijheid, Geert Wilders gemaklik voor in peilings. In Frankryk is daar ’n wesenlike kans dat die regse leier van Front National, Marine Le Pen, as volgende Franse president verkies kan word. In Duitsland gaan die regse Alternative für Deutschland heelwat steun wegkalwe van die regerende Christen-Demokratiese Party.

Beteken dit alles dat Europa tans ’n konserwatiewe herlewing ervaar? Allermins. In Europa moet ’n mens duidelik onderskei tussen konserwatief en regs. Talle regse politici en politieke partye in Europa is glad nie konserwatief nie. Politieke leiers soos Geert Wilders en Marine Le Pen is ongelowig. Hulle onderskeie politieke partye is gekant teen talle Christelike waardes, soos die behoud van die Bybelsgefundeerde huwelik. Die enigste mate waartoe hulle konserwatief is, is dat hulle iets goeds wil behou, naamlik die Westerse beskawing en standaarde.

Regse politiek in Europa word sterk gekenmerk deur populisme en ’n oordrewe fokus op die enkele kwessie van immigrasie en die gepaardgaande toename in Moslems in Europa. Regse partye is reaktief en wil terugveg teen immigrasie en die transformerende effek wat ’n toename in die aantal Moslems in hul lande op die samelewing het.

Hoewel regse partye meestal nasionalisties is, beskik hulle nie werklik oor die vermoë om die kernvraag oor identiteit te beantwoord nie. Die enorme identiteitsverlies wat die afgelope paar dekades in Europa ingetree het en veral verband hou met die bykanse in duie storting van die Christendom in Wes-Europa, word nie deur reaktiewe anti-Moslempartye beantwoord nie.

Europa beleef tans ’n krisis omdat die Bybelse waardes en waarhede wat vir eeue ten spyte van interne konflik en eksterne bedreigings, hoop en visie vir Europeërs ingehou het, vandag bykans nie meer teenwoordig is nie.

Die reg van ’n volk om grond te besit, dit te bewoon, bewerk, bewaar en beskerm het lankal verflou. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Europeërs ’n ingeboude vrees en skuldgevoel hieroor. Die Bybelse opdrag om uit te gaan in die wêreld, te vermeerder en die Christendom na alle nasies te neem, bestaan omtrent nie meer in Europa nie. Europa het tans die laagste bevolkingsaanwas van alle kontinente en is ver onder die vervangingskoers. Ou Europa is besig om demografiese selfmoord te pleeg.

Konserwatisme in Wes-Europa is vir jare reeds ’n randverskynsel. In Nederland is dit slegs die Staatkundig Gereformeerde Partij wat werklik as konserwatief beskou kan word. Dié party het slegs drie lede in die land se parlement van 150 lede. Bart-Jan Spruyt, ’n konserwatiewe Nederlandse skrywer, skryf reeds vir jare oor die wyse waarop konserwatiewe denke tot die periferie van Nederlandse denke verskuif het.

In Duitsland, Frankryk, België en die Skandinawiese lande is daar byna geen konserwatiewe stem op die politieke landskap teenwoordig nie.

Is daar ’n toekoms vir die konserwatiewe Christendom in Europa? Ja en nee. Die huidige regse reaksie op veranderinge in Wes-Europa word deur ’n eksterne lokus van kontrole gedryf terwyl ’n werklike identiteitsherlewing gedryf deur ’n interne lokus van kontrole nie werklik aanwesig is nie. Daar is egter twee redes waarom daar wel hoop is.

 

1. Oos-Europa

In die Eurobarometer van 2012 het 72% van mense wat woon in lande wat deel van die Europese Unie is, aangedui dat hulle Christene is. In lande soos Nederland, Duitsland, Swede, Frankryk en die Tsjeggiese Republiek is die persentasie egter baie laer. Volgens navorsing wat in 2015 deur die Radboud Universiteit en Vrije Universiteit Amsterdam gepubliseer is, is slegs 25% van Nederlanders nog lid van ’n Christenkerk. Meer as 67% van Nederlanders verbind hulle nie meer aan enige geloof of kerk nie. In dieselfde studie het 82% van Nederlanders aangedui dat hulle nog nooit, of byna nooit ’n kerk besoek het nie. Minder as 10% van Nederlanders woon weekliks eredienste by.

Wat ook belangrik uit hierdie navorsing is, is dat baie Nederlanders Christenskap as ’n soort kultuurassosiasie beskou en dat hulle die geloof glad nie aktief beoefen nie hoewel hulle sal aandui dat hulle Christene is. Dieselfde tendens as in Nederland geld ook in die meeste ander Wes-Europese lande. Die Christelike geloof is iets waarmee mense hulself onderskei van ander mense soos Moslems, maar aktiewe uitlewing van die geloof is uiters beperk. Daar bestaan eintlik in die meeste Wes-Europese lande ’n soort konsensus dat geloof tot private ruimtes beperk moet word en dat openbare ruimtes totaal sekulêr moet wees.

Hoe is dit dus moontlik dat ’n meerderheid van Europeërs steeds Christene is? Die antwoord lê oos. In Pole, Hongarye, Roemenië, Malta, die meeste Balkanlande en Griekeland is die Christendom nog sterk teenwoordig in openbare ruimtes. Meer as 88% van mense in Pole is Christene en geloof speel daagliks ’n aktiewe rol in die politiek en lewe van Pole. In Hongarye is dié land se eerste minister, Viktor Orban, ’n uitgesproke Christen. Sy regering bevorder moraliteit en beveg die bedreiging wat Moslemimmigrasie vir Europa inhou. Orban is bekend vir sy opmerking dat hy Wes-Europa se liberale demokrasie kontrasteer met sy eie onliberale vorm van demokrasie.

Pole se nuwe konserwatiewe, vroulike eerste minister, Beata Szydło, is sedert haar verkiesing laat verlede jaar bekend vir haar uitgesproke geloofstandpunte en oortuiging dat die Christelike geloof aktief in die openbaar bevorder moet word. Wat leiers soos Orban en Szydło en hul onderskeie politieke partye anders maak as die regse leiers en partye van Wes-Europa is dat hulle as regs-konserwatief beskou kan word. Hul optrede teen immigrasie en vir die behoud van identiteit is nie net bloot regse reaksie nie, maar word gedryf deur ’n sterk interne drang om die goeie te behou. Hierdie kombinasie van konserwatief (defensief) en regs (offensief) mag dalk net tot die behoud van die Christendom in Europa lei.

Terwyl die Christendom in Wes-Europa tot ’n soort abstrakte simboliek gereduseer word, kan Oos-Europese lande se onwilligheid om voor die liberale, politieke korrektheid van Wes-Europa te swig, tot die behoud van die goeie en ’n konserwatiewe, Christelike Europa aanleiding gee.

 

2. Die Benediktus-opsie

Die Amerikaanse skrywer, Rod Dreher, het ’n paar jaar gelede oor die sogenaamde Benediktus-opsie begin skryf. Dreher, ‘n konserwatiewe Christen, is besonder negatief oor die toekoms van die Christendom in Westerse lande. Volgens hom is die enigste oplossing vir Christene om in enkele dorpe, woonbuurte of streke te konsentreer en daar sentrums van geloof te vestig.

Die filosoof, Alasdair MacIntyre, het in 1982 in sy boek, After Virtue, vandag se kulturele verval met die kulturele verval van antieke Rome vergelyk. Benediktus van Nursia, ʼn jong Christen, het uit Rome getrek om in afsondering in ʼn woud oor die verknorsing van sy volk te gaan bid. ʼn Gemeenskap van tradisionele Christene het om hom ontstaan en regdeur die vroeë Middeleeue het soortgelyke gemeenskappe tot stand gekom.

In Nederland sien ons vandag die bestaan van die sogenaamde Bijbelgordel. Hierdie gebied wat uit die suidweste deur die sentrale deel van die land tot in die noorde strek bestaan uit ’n groot aantal dorpies waar die oorgrote meerderheid van inwoners aan ’n konserwatiewe, gereformeerde kerk behoort. In hierdie gemeenskappe bepaal die gemeenskap sy eie reëls. In talle word geen Sondaghandel toegelaat nie en is Christelike waardes deel van die openbare lewe. Die bevolkingsaanwas in hierdie dorpe is baie hoër as in die res van Nederland en Christene is toenemend geneig om na hierdie dorpe te verhuis.

Konserwatisme gaan oor die behoud van die goeie. Vir Christene sluit die goeie ook ons geloof, waardes en die vermoë om die Christendom uit te bou, in. Die huidige immigrasiekrisis in Europa, die toename in terrorisme en interne konflik en die uiteindelike vraag oor wie en wat Europa is, kan dié kontinent moontlik laat herbesin oor waarheen hy op pad is. Die demografiese teenvoeter en politieke durf wat nodig is, sal egter heel waarskynlik nie uit Wes-Europa kom nie. ’n Konserwatiewe herlewing vind reeds in Europa plaas, maar dit vind plaas in armer Oos-Europese lande en klein, maar dapper Christengemeenskappe. Die Afrikaner sal toenemend eerder hier aansluiting vind, as by Wes-Europese lande wat waarskynlik nog vir lank die pad van liberale selfvernietiging gaan bly stap.

 

TOP