Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Genade op genade!

Op 14 Desember 2015 word foto’s van Mnr. Bennie van Zyl van TLU op sosiale media gedeel (kyk onder). Lees weer die artikel van Suné van Heerden op 22 Desember op Maroela media. Die foto’s is geneem tussen Hoopstad en Bothaville. Dit beeld die droogte uit en die nood waarin boere verkeer. Lande waar geplant moes word, is beklee met ’n dorheid wat jou laat dink aan die Kalahari. 

Tydens die teologiese dag van die Afrikaanse Protestantse Akademie op 25 Januarie 2015, spreek mnr. Van Zyl die predikante van die AP Kerkverband toe. Die erns van die droogte-situasie word onder ons aandag gebring. Daar word oproepe gedoen om biddae vir reën en verootmoediging op vele plekke deur ons land te hou. Mense word aangegryp deur die nood wat almal in die gesig staar.

Hoewel die knyptang van die droogte sekerlik nog nie oral gebreek is nie en die ons die gevolge daarvan nog lank gaan beleef, is die Here se genade groot. Graag word hierdie getuienis met u gedeel: 7 maande nadat die foto’s van mnr. Van Zyl gedeel is, getuig die foto’s deur Janine Lambrechts van genade op genade toe baie boere al amper moed verloor het vir die seisoen.

Laat ons die Here nog meer dank vir sy uitkoms toe mense nie meer geweet het watter kant toe nie, maar laat ons ook steeds bid vir hulle wat nog nie verligting gehad het nie of steeds die aaklige nadraai van die droogte beleef.

 

 Hugo Lambrechts lewer ’n aangrypende getuienis as boer wat daardie lande bewerk en geplant het en nou kon oes:

Ons gaan nooit in Desember met vakansie nie, want dit is ons besigste tyd. Dan plant, spuit en bewerk ons die lande. Maar hoe hou jy 'n rustige Kersfees wanneer jou boerehart breek omdat jy die dor en barre aarde rondom jou sien en die warm, droë grond voel en weet dat niks daarin sal ontkiem nie.

Foto: Mnr. Bennie Van Zyl
    
Foto: Mnr. Bennie Van Zyl
    

Ons het gehoop dat die begin van Januarie reën sou bring, maar dit gaan ook verby en dan, wanneer die planters al gewoonlik diep weggebêre is, kry ons laat in Januarie reën. Ons plant. Hoekom? Want ons is landbouers en ons kan nie niks doen nie. Dis nie net om finansieël te oorleef nie, maar om te voorsien. Ons vertrou, want ons God wat nog altyd voorsien het, het vir ons mildelike reën gestuur.

Die reën raak egter weer weg en dit reën, so voel dit vir ons, “elders en plek-plek”.

Teen middel Maart is ons seker dat dit nie eers nodig gaan wees om 'n stroper reg te kry vir die oes nie. Ons oorweeg om van die lande dood te spuit en vog te bewaar. Dinge lyk hopeloos. Tradisioneel kry ons tussen 6 en 12 April ligte ryp. En dit sal nie baie vat om die verlepte plante finaal te laat vrek nie. Mens, dier en plant verkeer in uiterste nood.

Op 6 April kry ons egter 110mm reën! Dit is verspreid en alhoewel dit koud is, ryp dit glad nie. 'n Week later staan sonneblomme wat amper dood was, goudgeel en groen. Alhoewel baie van dit slegs hoër as kniehoogte staan, is ons in verwondering oor hoe vinnig dit kon herstel.

Die stryd is egter nog nie gewonne nie. Met winter om die draai, is die kans dat die gewasse fisiologies ryp gaan word, nog baie skraal. En dan kom die eerste ryp ... die 17de Junie! Weereens ’n wonderwerk. Ons kan stroop! Selfs die kort sonneblomplantjies lewer hulle deel. Ons het geweet ons vat 'n kans om te plant, maar ons het kinderlik vertrou. Jare van nou af gaan ons nog onthou dat hierdie oes nie aan ons of ons menslike vernuf te danke was nie, maar dat dit 'n genadegawe van die enigste, lewende en almagtige God, ons Here, was!!

Foto: Mev. Janine Lambrechts
    
Foto: Mev. Janine Lambrechts
    

Hierdie droogte was uniek. Selfs die dorpenaars het die impak daarvan gevoel. Mense het miljoene liter water geskenk, aangery en geborg. Dieselfde met die voer vir die diere. Die belangrikste is egter dat almal van ons op ons knieë was, omdat geen mens die uitkoms kon gee nie. Net God alleen.

Ns. Uit bydraes van AP gemeentes, was die SKK in staat om reeds ongeveer R30 000 se droogtehulp aan gemeentes te verleen.

 

TOP