Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Enkele opmerkings n.a.v. RSG uitsending “Uit ‘n ander hoek”

    

Die twee gespreksgenote van die programaanbieder, Jean Oosthuizen - dr. Ben du Toit (NG Kerk-teoloog) en dr. Jurie van den Heever, (o.a. paleontoloog) - het m.i. ’n hele paar onbehoorlike, aanvegbare en ook (Gods) lasterlike stellings gemaak wat om reaksie vra:

  1. Is Jean Oosthuizen se bewering korrek dat “die kerk” (sic!) huiwerig/onwillig is om aan die gesprek oor Geloof en Wetenskap en in besonder oor Evolusie deel te neem? Of is dit dalk eerder ’n kwessie van (wedersydse?) onverdraagsaamheid en/of arrogansie?
  2. Dr. Ben du Toit vra aan die begin van sy spreekbeurt, namens vele ander, as’t ware verskoning aan wetenskaplikes omdat hulle kwansuis vir wetenskaplikes kwaad word oor hul sienswyses en uitlatings vanuit hul “bewese” wetenskapsbeoefening. Diesulkes word by implikasie beskuldig van onchristelike optrede ... .
  3. Dr. Jurie van den Heever maak o.a. die stelling dat die kerk en dogmatici deur die eeue heen verkondig en aan die lidmate belowe dat daar ’n ewige lewe anderkant die graf is, maar dat dit eenvoudig nie waar is nie, omdat die mens slegs bestem is om EENMALIG te lewe! Só ’n uitspraak is uiters bejammerenswaardig (vgl. 1 Kor. 15:19).
  4. In dieselfde asem sê dr. Van den Heever ook dat die kerk eerder sy lidmate moet leer om menswaardig en mensliewend op aarde te leef om hiervan ’n beter plek en omgewing te maak. Dan gebruik hy die voorbeeld van sekere ateïstiese lande waar daar kwansuis so besondere liefdevol na mekaar omgesien word. Uiteraard kan alle skepsele op aarde goeie humaniste wees – dit is deel van God se algemene genade. Christusvolgelinge IS beslis ook (veronderstel om) om hul naaste lief te hê en word trouens dikwels daartoe opgeroep en aangespoor deur leraars wat dit reeds en steeds klokslag doen omdat die Here God ons die opdrag tot naasteliefde in sy Woord gee en boweal, ons eerste liefgehad het!
  5. Bestaan daar iets soos “neutrale” kliniese wetenskapsbeoefening? Na my beskeie oordeel hoegenaamd nie. Die (natuur) wetenskaplike beoefen sy vakgebied en navorsing vanuit een of ander vooropgesette of vooraf bepaalde belydenisgrondslag asook met behulp van ‘n ideologiese bril waardeur hy na die realiteite kyk. Uiteraard is ’n sinvolle gesprek oor die versoenbaarheid tussen wetenskap en Bybelse geloof futiel as die vertrekpunte van die gesprekvoerders nie dieselfde is nie.
  6. Weliswaar kan die Bybel as Woord van God in mensetaal nie gebruik of aangewend word as wetenskaplike handboek nie. Die Woord bied egter wel duidelike, onomstootlike riglyne vir die beoefenaar van die wetenskap – dit moet altyd tot eer van die grote God en tot heil van die mens geskied. Wanneer die Bybel en die heilsboodskap daarin egter nie beskou word as ten volle geïnspireer deur die Heilige Gees en daarom tydsbetrokke nie, maar eerder as ’n tydgebonde woorde en uitsprake van (steeds-ontwikkelende) mense rakende hul Godsbeskouing, dien so ’n gesprek geen doel nie.
  7. Jean Oosthuizen maak, heel tereg, die opmerking dat die (natuur)wetenskap voortdurend onderworpe is aan falsifikasie, maar dan vra hy waarom dogmatici nie ook bereid is om aanpassings te maak nie. Weliswaar kan daar mettertyd oor leerstellige sake wat op die periferie lê beslis aanpassings gemaak word, soos bv. oor modes, ruimtereise en sommige medies-etiese kwessies soos orgaanskenking, maar wanneer dit die kernsake en essensie van ons geloofsbelydenisse raak, is leerstellige aanpassings eenvoudig nie moontlik nie!
  8. Dr. Van den Heever beweer en impliseer in ’n uiters lasterlike stelling (waaroor niemand hom gerepudieer het nie!) dat dit die Skepper se skuld is dat die skepping en die menslike liggaam vol foute en gebreke is! Hy gebruik dan die kru vergelyking dat die Skepper hom laat dink aan ’n werktuigkundige wat in sy agterplaas die mens aanmekaargesit het! In teenstelling hiermee, leer die Bybel dat die Skeppergod die mens as kroon van sy Skepping, goed en volmaak geskep het en bestem het om ewig te lewe, maar dat die gebreke, siektes, ensovoorts, die eerste mensepaar se skuld is a.g.v. hul ongehoorsaamheid en sondeval. Die ganse menslike geslag dra en beleef die gevolge.
  9. Moontlik is hierdie sienings die rede waarom sommige (gereformeerde) Afrikaanse kerke nie meer die Apostolicum (Twaalf Artikels) tydens hul eredienste bely nie. Is dit dalk vanweë die feit dat, naas die maagdelike geboorte van Christus, sy liggaamlike opstanding en hemelvaart, die belydenis: “Ek glo aan die ewige lewe”, nou ook bevraagteken en as onwetenskaplik beskou word?
  10. Laastens gaan dit oor die twee geleerdes se Gods- en Skrifbeskouing. Uit die gesprek klink dit asof dr. Du Toit die Bybel, die Koran en die Joodse Tora op presies dieselfde vlak as Godsopenbaring plaas en daaraan kanonieke sanksie verleen.

**Die gesprek is ook op RSG se Webwerf as potgooi beskikbaar.

 

 

TOP