Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die Onteieningswet en ’n Christen

    

Die emosie rondom grond en besitreg in Suid-Afrika vier tans hoogty. Dit maak van die ANC-regering, wat polities bankrot is, 'n baie gevaarlike rolspeler in dié sin dat dit amper die enigste aspek is waarmee hulle die massas verder met beloftes, maar ook moontlik met die daad, kan tevrede hou. Pres. Jacob Zuma is op rekord dat hul (die ANC) die land na sosialisme en kommunisme gaan neem. Die Onteieningswet behoort dus binne hierdie konteks beskou te word. Die vraag kan tereg gevra word of die grond net geneem gaan word soos in Zimbabwe. Baie jare gelede was ek teenwoordig toe ’n ANC minister gesê het dat hulle nie soos Zimbabwe gaan maak nie – in Suid-Afrika gaan hulle dit met wetgewing doen! Met die Onteieningswet, maar ook ander wetgewing soos bv. Esta e.a., is die tafel gedek daarvoor dat daar wel met wetgewing, hetsy geleidelik of vinnig, grond (of ander bates) onteien/ontneem kan word.


Daar moet dadelik gemeld word dat persone verskil oor die moontlike aanwending van die wet. Groot ruimte bestaan vir moontlike verskil in interpretasie. Die vraag is egter wie se siening uiteindelik sal geld?


Wetgewing moet ingevolge die bedoeling van die wetgewer beoordeel word en dan moet dit grondwetlik wees. In Artikel 25 van die grondwet word daar o.a. genoem dat eiendom onteien kan word vir die openbare belang of ’n openbare doel. Die grondwet beskryf openbare belang o.a. as die nasie se verbintenis tot grondhervorming en ook om gelyke en billike toegang tot hulpbronne te bewerkstellig. Daar word voorts gemeld dat eiendom nie tot grond alleen beperk word nie.

Onteiening ter wille van openbare doel is wêreldwyd 'n aanvaarbare praktyk. Dit word aangewend om bv. infrastruktuur soos damme, kragstasies en paaie te bou.

Volgens die grondwet behoort die volgende vyf aspekte in ag geneem te word by die prysvasstelling van grond/bates wat die regering wil onteien: Huidige gebruik, rede vir die onteiening, vorige subsidies ontvang, markwaarde en die geskiedenis van die grondbesit. Gereeld word dit van politieke platforms af verkondig dat blankes die grond gesteel het met hul aankoms in Suid-Afrika. Indien dit dan wel gevestig word as die waarheid, sal die argument gevoer kan word dat daar nie vir gesteelde goed betaal word nie.

Daar word ook in die grondwet voorsiening gemaak vir die ontneming van bates. Geen vergoeding is dan ter sprake nie. Twee sulke hulpbronne is reeds deur die regering ontneem, naamlik water en minerale regte. Die hoogste hof in die land het dan ook bevestig dat daar nie vir die minerale regte van burgers betaal moet word nie aangesien die staat dit net reguleer namens al die mense en nie vir hulself onteien het nie. Weer eens ontstaan die vraag of grond nie ook moontlik ontneem kan word in die openbare belang (soos die grondwet magtig) om gelyke en billike toegang tot die hulpbron te bewerkstellig en die staat dit dan bloot reguleer namens al die inwoners nie?

Baie mense reken dat hierdie wet net op plase/grond van toepassing sal wees. Dit is ’n mistasting en moet besef word dat alle bates hieronder hanteer kan word – selfs die yskas of kos in jou huis.

Dat onteiening nie slegs vir ’n openbare doel gedoen hoef te word nie, maar ook gedoen kan word waar dit in openbare belang is, is ook problematies. Die interpretering wat in die openbare belang is, kan uiteenlopend wees. ’n Onverantwoordelike regering wat irrasioneel in hul optrede is, kan dit moontlik aanwend as politieke instrument om die voetvolk, na wie se stemme hul vry, ’n verdere rat voor die oë te draai.


’n Verantwoordelike regering se taak in ’n demokrasie is tweërlei van aard, naamlik om na die veiligheid van die inwoners om te sien en om ’n gunstige klimaat te skep wat beleggings bevorder en sodoende ekonomiese groei bevorder. Klaaglik faal die ANC regering in beide.

As gevolg van die moontlike wanaanwending daarvan, bring hierdie wet net te veel onsekerheid en is die volume geld wat tans die land uitstroom seker die hoogste ooit. Dit bring mee dat daar op geen wyse by die nodige ekonomiese groei uitgekom kan word nie. Die kapasiteit wat benodig word om bv. werkloosheid en armoede aan te spreek, word nie geskep nie en verval die land in ’n bose, negatiewe spiraal wat die slegte dinge net slegter maak.

Dit lyk inderdaad nie rooskleurig nie. As Christen is daar egter altyd ’n beter antwoord as dit wat die bose magte en die owerhede (Efés. 6:12) op ons probeer afdwing. Deur Christus is ons reeds oorwinnaars en kan ons daarom ons koppe optel en steeds ingevolge ons kultuuropdrag (Gén 1:28 en Gén 2:15) positief skep en bewaar. Die Christenboer weet waar kom al die antwoorde vandaan en in tye van voorspoed en ook in tye van nood word daar gehandel as rentmeesters van die grond met ’n uitgangspunt dat die grond, soos alles anders in ons lewe, eintlik aan God behoort en dat ons dit net leen by ons nageslag wat ook weer rentmeesters moet wees. Dit beteken allermins dat ons die spreekwoordelike “Gods water oor Gods akker”-benadering moet volg en maar wag en kyk wat gaan gebeur nie. Die huidige situasie verg van ons elk om juis die wapenrusting (Efés. 6:10–20) op te neem, want dit is al hoe ons staande kan bly. Omgord met hierdie wapenrusting en toegerus met ons Godgegewe gawes en talente, behoort ons te woeker en planne te maak sodat God se koninkryk eerstens al meer hier op aarde gevestig word, ook in ons wetgewing. Dit bring die belofte mee dat Hy al die ander dinge wat ons nodig mag hê, vir ons sal byvoeg (Mt. 6:33). Vandag is wysheid nodig om die regte keuse te kan maak voor al die uitdagings wat ons nou en ook in die toekoms gaan ervaar. Ons kragtigste wapen is gebed. Gebruik ons dit regtig nog in diepe nederigheid en afhanklikheid? Kom ons bid vir wysheid – dan sal die insig kom oor hoe en waar ons wel ons energie moet aanwend en die regte uitkoms sal ons dan beskore wees. Uiteindelik lê die toekoms nie in ons hande nie, maar dit lê beslis ook nie in die ANC-regering se hande nie!

Ons het in die tye ’n keuse of ons die oog gaan hou op die ANC of gaan ons wel ons oog rig op die lewende God wat beskik oor die lotgevalle van alle volke en nasies. Daarin lê ons toekoms ongeag watter wet of handeling ’n sekulêre regering ook al skep of aanvang.

 

TOP