Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die kultuur van inflasie

    

By ’n vorige geleentheid is gehandel met Oneerlikheid in ons geldstelsel. Hierdie keer gaan ons die lyntjie verder trek en meer kolletjies verbind om ’n beter idee te kry van die breër kulturele invloed van ons oneerlike geldstelsel.

 

 

In sy artikel The Cultural and Spiritual Legacy of Fiat Inflation[1] doen professor Jörg Guido Hülsmann juis dit en sit hy breedvoerig uiteen hoe die Staat se vermoë (in samewerking met banke) om geld uit die niet te skep, ons wêreld en daaglikse lewe beïnvloed.

 

Wat is inflasie?  

Meeste van ons eien inflasie aan stygende pryse. Alhoewel inflasie wel onder andere stygende pryse tot gevolg het, is dit op sigself nie inflasie nie. Inflasie is eintlik die vermeerdering van die geldvoorraad in die samelewing.

 

Ons kan dit aan die hand van die volgende eenvoudige voorbeeld verduidelik:

 

Gestel daar word elke jaar 100 liter melk produseer en daar is R100 in omloop, dan sal 1 liter melk R1 kos. Gestel egter dat ons die beskikbare geldvoorraad verdubbel na R200 en produksie bly dieselfde, dan sal 1 liter melk later R2 kos. Dit sal egter nie dadelik gebeur nie, maar meer geredelik oor tyd. Dit beteken dat daardie persone/instansies wat eerste toegang tot die nuwe geld het (voordat pryse begin styg het) bevoordeel word ten koste van diegene wat laaste toegang daartoe kry (nadat pryse begin styg het). Hierdie is ’n baie subtiele vorm van sakkerollery waar die koopkrag van geld gesteel word, eerder as die nominale waarde van die geld. Tipies is die reserwebank, tesourie, ander staatsdepartemente en kommersiële banke van die instansies wat eerste toegang tot die nuwe geld kry.

 

Soos voorheen vermeld is alle geldeenhede sedert 1973[2] vryswewend, met die Amerikaanse dollar wat as die wêreld se reserwe geldeenheid dien. Die geldvoorraad in meeste lande word op twee wyses vermeerder: (1) die blote skep van nuwe basisgeld deur die reserwebank en (2) deur die fraksionele reserwe bankstelsel word nuwe geld geskep elke keer wat ek en jy ’n banklening uitneem of iets op ons kredietkaart koop.[3]

 

Inflasie het altyd drie direkte gevolge: (1) dit bevoordeel die oortreders ten koste van al die ander geld gebruikers; (2) dit laat toe dat skuld ophoop bo die normale vlakke wat ’n vrye mark sal toelaat; en (3) dit verminder die koopkrag van geld tot ’n laer vlak as wat in die vrye mark sou plaasvind.

 

Hülsmann gaan egter verder en bespreek ook die volgende eienskappe van inflasie se nalatenskap:

 

Hipersentralisering van regering

Soos hierbo verduidelik, bevoordeel inflasie die regering wat dit beheer ten koste van die burgery en ander sekondêre en tersiêre tussen-instellings. Die sentraliseringsproses wat in die 17de en 18de eeu deur Europese konings begin is, is in die 19de en 20ste eeu deur die demokratiese nasiestaat voltrek.

Inflasie stimuleer die groei van die sentrale staat, stel dit in staat om groter te word as wat normaalweg in ’n vrye samelewing die geval sou wees en bemagtig die staat om meer funksies vir die staat toe te eien as wat normaalweg die geval sou wees – alles ten koste van die gemeenskap en gemeenskapsinstellings soos die familie.

Die gevolg hiervan is dat die gemiddelde burger meer en meer in ’n geïsoleerde atoom verander, met al sy sosiale bande en verbintenisse wat deur die sentrale staat beheer of gereguleer word.

 

 Oorlog

Een van die mees grusame gevolge van fiatgeld[4], en papiergeld[5] in besonder, is die vermoë om die duur van oorloë te verleng.

 

Die vernietiging wat met oorloë gepaardgaan het ’n positiewe effek om die aanvanklike oorlogswaansin af te koel. Hoe langer uitgerek en vernietigend ’n oorlog word, hoe minder is die burgery bereid om die oorlog deur belastinggeld of die aankoop van staatseffekte te finansier.

 

Inflasie laat egter die regering toe om die fiskale weerstand van die burgery te ignoreer en die oorlog teen dieselfde vlakke voort te sit, of selfs te eskaleer. Die regering druk/skep bloot die geld wat nodig is om die wapentuig en ammunisie aan te koop.

 

Dit is presies wat in die twee wêreldoorloë gebeur het. Neem ons ook in ag dat meeste lewens na die einde van die oorlog verloor is, kan ons net dink hoeveel lewens gespaar sou word indien regerings nie die oorlog verleng het deur fiat-finansiering nie.[6]

 

Tirannie

Oorlog is die uiterste geval waar inflasie die regering in staat stel om ’n doel na te jaag wat nie noodwendig deur die burgery ondersteun word nie. Die groter vraag is egter: Watter tipe regering sal sy eie burgery se eiendom steel? Aristoteles en ander politieke filosowe noem dit ’n tirannie, terwyl monetêre teoretici soos Oresme en Mises telkens uitwys dat inflasie, as regeringsinstrument, ’n finansiële karaktertrek van ’n tirannie is.

 

Institusionaliseer immoraliteit en onverantwoordelikheid

Ekonome van die Oostenrykse skool argumenteer dat inflasie ’n inherent onstabiele wyse is om geld te produseer aangesien dit morele gevaar en onverantwoordelikheid institusionaliseer en herhalende finansiële krisisse tot gevolg het.

 

Uit die pogings om hierdie nadelige gevolge van inflasie te bestuur, sonder om met inflasie weg te doen, is ’n eienaardige mengelmoes van finansiële monetêre instellings ontwikkel – belangrike mylpale in hierdie proses is fraksionele reserwe bankdienste, nasionale reserwe banke, internasionale reserwe banke en papiergeld.

Hülsmann beskryf dit as ’n institusionele “race to the bottom”.

 

Besigheid

In ’n natuurlike stelsel van geldproduksie, sal banke slegs as tussengangers tussen spaarders en leners optree. Dit beteken ’n bank sal net geld kan uitleen wat hulle self gespaar het of wat iemand anders gespaar het en aan die bank uitleen. Met ander woorde rentekoerse waarteen banke uitleen sal altyd meer wees as die koerse wat aan beleggers betaal word. Dit sal daarom vir ’n bank onmoontlik wees om steeds besigheid te doen en beter terme aan die lener te bied as wat ’n spaarder sal kan bied.

 

Met fraksionele reserwe bankdienste kan banke juis dit doen. Aangesien gewone kommersiële bank nuwe geld uit die niet kan skep, kan hulle baie laer rentekoerse vir die leen van geld bied as wat in ’n natuurlike stelsel die geval sou wees. Die afgelope paar jaar was dit nie snaaks om te verneem van lenings teen 0% rente, of soos in die geval van Japan, waar banke jou betaal om by hulle geld te leen nie.

 

Die direkte gevolg is dat entrepreneurs eerder hulle ondernemings deur skuld sal finansier as ekwiteite (eie kapitaal). Maar kan ’n entrepreneur wat ’n onderneming met 10% ekwiteit en 90% skuld begin, steeds ’n entrepreneur genoem word? Of is hy bloot die bestuurder van ’n onderneming waarvan die bankiers die ware entrepreneurs is en ook al die deurslaggewende finansiële besluite neem?

 

Ons kan daarom oortuigend aanvoer dat inflasie ook die getal ware entrepreneurs verminder – onafhanklike mense wat met hul eie geld woeker.

 

As ’n algemene reël kan ons aanvaar dat banke reeds deur hul lenings in bestaande besighede belê en, ten einde hul eie beleggings te beskerm, sal kies om nie die innoverende entrepreneur se onderneming te finansier nie, of om die nuwe idee aan hulle besigheidsvennote te kommunikeer.

 

Die toegang tot goedkoop krediet stimuleer verder ook roekelose gedrag – veral by groot gevestigde korporasies met toegang tot die kapitale markte.

 

Skuldlas

Inflasie bied ook nie net goedkoop krediet aan regerings en besighede nie, maar ook aan private persone – dit beteken dat meer mense skuld sal aangaan as wat onder normale omstandighede die geval sou wees.

 

Weens die feit dat inflasie ook ’n styging in pryse tot gevolg het, straf dit spaarders baie swaar. Geld wat vandag gespaar word se waarde word deur stygende pryse uitgewis. Waar die gewone man in die verlede geld oor tyd vir sy/haar oudag kon spaar of kon spaar om eendag ’n huis kontant te koop, is dit vandag onmoontlik. Vandag kan jy omtrent net ’n huis koop deur ’n verband uit te neem en moet enige berekening vir die oudag inflasie inreken, wat beteken dat ’n belegging gesoek moet word wat teen dieselfde koers as inflasie sal groei.

 

Ook wat gewone verbruikerspatrone (van veral die jeug) betref, beteken die stygende pryse dat verbruikers instinktief eerder hulle geld vandag sal uitgee as volgende jaar wanneer inflasie al sy tol op die waarde daarvan begin eis het. Dit dien as verdere vermenigvuldiger tot al die bestaande aansporings tot ’n materialistiese verbruikerskultuur, wat ook tot hoër vlakke van persoonlike skuld in die vorm van korttermynlenings en kredietkaarte lei.

 

Dit beteken dat die huidige finansiële bestel skuldgebaseerde finansiële strategieë buitengewoon aantreklik maak en is die burgery in die Weste só beweeg tot ’n vlak van finansiële afhanklikheid wat ongekend aan enige vorige generasie is.

 

Hierdie algehele finansiële afhanklikheid verminder selfstandigheid in alle sfere van die samelewing. Die skuldlastige individu tree nie meer soos ’n selfstandig, verantwoordelike en volwasse persoon op nie en is nie meer ’n morele anker vir die familie nie, maar wend hom-/haarself voortdurend na ander vir hulp.

 

“’n Opsiener dan moet ... een (wees) wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” – 1 Timoteus 3:2-5

 

Spirituele slagoffers van inflasie

Selfs diegene wat wel verantwoordelik wil wees en hul geld ingelig in die markte wil belê, moet vervolgens buitengewoon baie aan geld dink en onbedoeld word ’n ongesonde materialisme gestimuleer. Selfs die keuse van ’n beroep word al hoe meer aan die hand van die finansiële voordele gemaak en die tydperk om aktief geld te maak word ook verleng ten einde jou vir jou oudag teen die gevolge van inflasie te beskerm.

 

Dit dwing nou ook vir Ma om geld te begin verdien, vir Pa om werk verder weg van die huis af te neem en die kinders by ’n dagmoeder of dagsentrum af te laai – dit op sigself laat ’n verskriklike letsel op die geestelike welstand van die gesin en groter familie. Ouers wat beloof het om hul kinders in die weë van die Here groot te maak, word deur omstandighede gedwing om hierdie verpligting of na te laat of aan ’n ander (soos ’n dagmoeder) uit te kontrakteer.

 

“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” – Efesiërs 6:4

 

Blus die vlam

Vriend of vyand van die tradisionele Christelike familie is dit eens dat die Christelike familie die belangrikste draer van Christelike waardes is en só ook ’n belangrike vestiger van sosiale norme is. Binne die Christelike familie word die realiteit van die Drie-Enige God, gesonde gesag, die heteroseksuele verbintenis tussen man en vrou, liefde en respek vir mekaar aan die kinders geleer.

 

Hierdie ervaring “breinspoel” alle lede van die familie om dit as die normale te sien en dit dan ook binne hulle onderskeie wyer besigheids-, sosiale- en politieke kringe te promoveer.

 

“My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.” – Spreuke 1:8-9

 

Dit is presies waarom die Kerk se vyande hul aanvalle op Christelike families fokus. Vir die afgelope 45 jaar was die welsynstaat hulle wapen van keuse. Vandag lewer die welsynstaat ’n hele aantal dienste wat voorheen deur die familie voorsien is, dit sluit onder andere in die onderwys van kinders en sorg vir die broses en bejaardes. Die familie word gereduseer tot klein eenhede van produksie wat rekeninge, motors, yskaste en natuurlik die belastingrekening deel. Die belasting gefinansierde welsynstaat voorsien dan die nodige onderwys en sorg. Só maak die staat inbreuk op die familie se gesagsterrein. Dienste wat tradisioneel meer effektief en met meer deernis deur die familie gelewer is, word nou aan die hand van ’n duurder “one size fits all” met belastinggeld gefinansier.

 

“Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.” – 1 Timoteus 5:8

 

’n Oorsigtelike blik op Westerse historiese rekords toon ’n eksponensiële groei van die welsynstaat sedert die 1970’s (toe alle geldeenhede vryswewend verklaar is), tesame met ’n eksponensiële groei in staatskuld. Die hedendaagse skaal van staatskuld is alleen moontlik gemaak deur die inflasionêre aard van ons geldstelsel. Bestaande skuldvlakke is heeltemal ondenkbaar binne ’n eerlike, nie-inflassionêre geldstelsel wat aan gevestigde rekeningkundige en begrotingspraktyke onderworpe is.  

 

Subtiele aansporings

Wanneer gelowiges dan die leuen in al sy verskillende vorme bestry en ervaar hoe die Kerk in die post-moderne samelewing in ’n hewige stryd gewikkel is om die sondes van die dag aan die kaak te stel, is dit belangrik dat ons nie net fokus op die openlike ideologiese debat nie, maar ook op die spinnerak van hefbome wat aan die hand van onderliggende kragte en verbande, Godvresende mense onwetend en baie subtiel aanspoor tot die aanvaarding van ’n goddelose samelewing.

 

 


[1] https://mises.org/library/cultural-and-spiritual-legacy-fiat-inflation 

 

[2] https://www.imf.org/external/about/histend.htm

 

[3] https://www.youtube.com/watch?v=iFDe5kUUyT0

[4] Enige geld wat deur staatsdekreet tot wettige betaalmiddel verklaar word.

[5] Betaalmiddel wat geen intrinsieke waarde het nie.

[6] Heelwat mense dink alle middele is geoorloof in oorlog en mag argumenteer dit is geoorloof ten einde ‘n onmiddellike gevaar af te weer, maar só benadering is glad nie moreel regverdigbaar nie. In ons Christelike tradisie het ons die “Regverdige Oorlog Teorie” wat juis só siening aan bande lê.

Ander mense sal argumenteer dat die regering meer weet en beter ingelig is as die burgery – “alhoewel die oningeligte mense fisies en emosioneel tam, moeg en uitgeput is, is die regering deeglik bewus van die situasie en kan rampspoedige gevolge afgeweer word, sou inflasie as middel gebruik word. Alhoewel dit die geval mag wees dat die regering beter ingelig mag wees, is daar niks wat dit verhoed om mense in te lig en te mobiliseer tot hoër belasting nie.

TOP