Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Is genoeg ooit genoeg?

    

Twee radio-omroepers het een oggend gewys op die voorregte waarin ons deel en wat ons so maklik miskyk. Dit is al tweede natuur om gegrief te wees vir verkeer wat jou ophou, mense wat by tolhekke nie vinnig genoeg beweeg nie en ’n duisend en tien ander dinge. Dit was juis in so ʼn  situasie wat die omroeper sê dat dit ʼn  voorreg is om met ʼn  motor werk toe te ry. Iets wat die meerderheid mense in hierdie land nie kan doen nie. Die stewige ontbyt soggens en die koppie koffie wat by die kantoor wag is dinge wat by ons verbygaan, maar wat baie ander nie ken nie.

Dit is toe wat die gewete begin reguit praat. Is ons dankbaar vir die dinge wat ons het, vir die lewensomstandighede waaronder ons leef? Ons kla oor ander mense en hul gerief, maar dink nie aan al die gerief waarin onsself leef nie. Op hierdie trant sou ons kon voortgaan, want ongelukkig is dit waar van elke aspek van ons lewens. Daar is ʼn  onderliggende ontevredenheid met my omstandighede, my geld is te min en my huis te klein terwyl niemand my waardeer nie. Hierdie onvergenoegdheid is deel van talle mense se lewensingesteldheid en kom in alle sfere van ons samelewing voor. Almal dra ʼn  onnodige ongelukkigheid met hulle saam oor een of ander saak.

Dit sou dalk van pas wees om te beweer dat daar in ons land `n kultuur van swartgalligheid gevestig is. Daar is so baie negatiewe dinge wat gebeur dat dit alles wat mooi is oorweldig. Dit is waaroor nuusberigte tot oorlopens toe vol is. Dit is die nuus wat ons met mekaar deel. Ongelukkigheid hang in die lug en besoedel ons denke en ingesteldheid. Daar is natuurlik geweldig baie dinge wat negatief is. Ons landsbestuur is vol korrupsie en onbekwaamhede. Die ekonomie hoop op ʼn orgaanoorplanting om die wagtende dood te ontglip. Dienslewering is op baie plekke net ʼn  illusie en onluste ontsier die eens netjiese strate van ons stede en dorpe. Onheil lê oral en loer na `n volgende slagoffer. Alle vlakke van die samelewing loop deur en dit beïnvloed die hele bevolking.

Laat ons liewer nie verder hierop uitbrei nie. Dit sal ook nie help om na sondebokke te soek en vingers te wys nie. Die nare werklikheid is dat ons almal op ʼn  manier met die siekte besmet is en dit aan ander mense oordra. Om dit te stop moet daarom in ons eie harte begin word.

Eerlike selfondersoek kan ʼn  pynlike proses wees, want dit ontbloot dinge wat liefs verborge moet bly. Dit ontbloot oordrewe eiebelang, beterweterige foutvindery, hoogmoedige selfverheffing, vas gewortelde ontevredenheid, gierigheid en inhaligheid. Dit, en nog meer kan saamgevat word met een gedagte: miskenning van God se goedheid en ondankbaarheid vir al sy gawes aan ons. Saam met al hierdie dinge is daar ʼn  onderliggende gewoonte wat deel is van so baie van ons: ons leef volgens ʼn  standaard wat ons vir onsself stel. As my standaard ʼn huis in ʼn sekere plek is of ʼn sekere motorvoertuig, dan bepaal dit wat ek nodig het. Hoe hoër die standaard, hoe groter die behoefte. Dit is nie verkeerd om altyd te poog om te verbeter nie, maar dit mag nie gebeur as dit nie bekostigbaar is nie. Dit is een van die redes waarom baie ryk mense, net soos die gemiddelde man, kla oor te min geld. Hoe hoër die standaard, hoe meer is nodig en daarom is daar ʼn  tekort. So word ʼn negatiewe houding gebore en word gekla oor die moeilike stryd van oorlewing. Verhoogde inkomstes is geen oplossing nie, want daar is net nuwe dinge wat dan noodsaaklikhede word. Hoe breek ʼn mens uit hierdie spiraal van die drang om beter te leef en meer te besit of te doen as die bronne waaruit dit gefinansier word?

Daar sal seker baie planne deur die mense aanbeveel kan word. Wat egter nodig is, is ʼn  totale nuwe benadering tot die probleem van ekonomiese druk.

Dit moet begin by die besef van wat ons wel besit en ontvang. Sien die voorregte raak en wees daaroor dankbaar en bly. Kyk weg van ander en besef wat jy ontvang het. Hiermee saam is dit van groot belang om te weet vanwaar al die voorregte kom. Ons leef tog uit die hand van ons hemelse Vader. Hy weet wat ons nodig het en wat ons kan hanteer. Aanvaar gelowig sy heerskappy want daarin is vrede en rus opgesluit. Hy weet wat ons nodig het en Hy voorsien oorvloedig in ons behoeftes. In Lukas 12:22-34 word die versekering gegee dat God vir ons sorg en ons hoef nie te bekommer oor aardse dinge nie. Om voortdurend na aardse voorspoed te jaag, trek die aandag weg van dankbare diens aan God en dit is nooit die moeite werd nie.

Terwyl ons dan gebuk gaan onder verslegtende ekonomiese toestande kan ons positief bly, want God ontferm Hom oor sy kinders. Alles wat ek het, is gawes uit sy hand. Sien dit raak, wees dankbaar en dien Hom met volle oorgawe.

Kom ons breek weg uit die negatiewe stroom van klagtes en ons erken dat dit bo verdienste goed gaan.

 

TOP