Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Roepingsbewus die toekoms in

    

Vra jy vandag die gemiddelde Afrikaner na die betekenis van 6 April, is die beste antwoord wat jy kry: Dit was mos in die ou bedeling een of ander vakansiedag? Vir die meeste Afrikaners het 6 April al in 1994 (dalk selfs voor dit) sy betekenis verloor. Binne die huidige politieke klimaat word die dag waarskynlik gebrandmerk as die begin van Europese imperialisme en blanke oorheersing in Suid-Afrika. Dit maak Afrikaners amper nog versigtiger om die ware betekenis van hierdie dag na te spoor. 

Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck met sy drie skepe, die Dromedaris, die Reyger en die Goede Hoop, in Kaapstad aangekom. Sy opdrag was om namens die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) ’n halfwegstasie te begin vir skepe wat handelsware tussen die Ooste en Weste vervoer het. Van Riebeeck was egter baie meer as net ’n gewone staatsamptenaar wat opdragte uitgevoer het. Hy was ook ’n baie gelowige man wie se wortels stewig geanker was binne die gereformeerde teologie. Weens Van Riebeeck se sterk Calvinistiese inslag, was hy iemand wat nie sy opdragte van die VOC los kon sien van wie hy as gelowige was nie. Sy bestaanswyse was nie opgedeel in twee verkillende wêrelde wat niks met mekaar te doen gehad het – een op ’n Sondag en die ander in die week nie. Sy Christelike geloof en roeping as gelowige het sy bestaanswyse deurdrenk. 

Wanneer ’n mens die gebed lees wat Van Riebeeck gebid het by hulle aankoms in die Kaap, is dit opvallend hoedat hy sy roeping en opdrag baie breër gesien het as bloot die uitvoer van die VOC se besluite. Daarom bid hy in hierdie gebed onder andere die volgende woorde: Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Dit is duidelik dat hy homself primêr as kind van God beskou het en sekondêr as amptenaar van die VOC. 

Hierdie gebed van Jan van Riebeeck, is vir gelowiges in Suid-Afrika baie belangrik omdat dit in die eerste plek die Afrikaner se koms en bestaansreg binne hierdie land regverdig, maar in die tweede plek omdat dit ook ons roeping as gelowiges binne Suid-Afrika formuleer. Die probleem is egter dat hierdie roeping die geneigdheid het om in die wasigheid van die geskiedenis te verdwyn. 

Deesdae regverdig mense hulle bestaansreg binne Suid-Afrika met baie ander dinge. So reken ons byvoorbeeld dat die Afrikaner ’n bestaansreg in Suid-Afrika het omdat ons hier was voor die meeste ander swart stamme wat eers later suidwaarts migreer het totdat wit en swart mekaar by die Visrivier ontmoet het. Ons reken ons het meer bestaansreg omdat ons ’n groter bydrae tot hierdie land se ontwikkeling gelewer het as die meeste ander bevolkingsgroepe. Ons is hier gebore en getoë en daarom is hierdie land net soveel my land as wat dit jou land is. 

Natuurlik is hierdie alles baie geldige argumente ter verdediging van die Afrikaner se bestaansreg binne Suid-Afrika. Die probleem is egter dat wanneer ons bloot op hierdie dinge fokus as rede vir ons bestaansreg, gaan ons by die punt uitkom waarby baie van ons mense vandag is. Die punt van moedeloosheid, negatiwiteit en hopeloosheid oor die toekoms. Die punt waar baie mense redeneer: As hiérdie redes vir my bestaan en my bydrae tot Suid-Afrika so blatant ontken en die hele tyd gekriminaliseer word, wat doen ek nog hier? Is daar dan nog enige rede vir my om in hierdie land te bly en ’n bydrae te lewer? Omdat die Afrikaner-gelowige se roeping, soos deur Van Riebeeck uitgespel, in die wasigheid van die verlede verdwyn het, lewer die ander redes alleen nie genoeg motivering vir ons om hier aan te bly nie. 

Om hierdie rede is dit goed dat ons vandag, 364 jaar na die koms van Van Riebeeck, opnuut nadink oor ’n onderwerp wat heelwat dieper sny as bloot die Afrikaner se roeping in Suid-Afrika. Indien ons slegs vassteek by die Afrikaner se roeping in Suid-Afrika, kan ons maar ons goedjies oppak en trek. Ons behoort dieper te delf en soos Jan van Riebeeck te vra: Wat is die gelowige se roeping in Suid-Afrika? Wanneer ons hierdie vraag vra, help Van Riebeeck se gebed en uiteindelik die gelofte wat in 1654 afgelê is, ons om by ’n antwoord uit te kom wat ons met geesvervulde ywer die toekoms indwing ten spyte van die uitdagings. 

Van Riebeeck het deur die voorsienigheid van God reeds in 1652 vir ons volk ’n tydlose roeping verwoord: (Om) U ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hierdie roeping word nie uitgedoof deur omstandighede nie, maar juis daardeur aangevuur omdat die dag en die uur van Christus se wederkoms al nader kom. Hebr. 13:7 moedig ons aan om met hierdie roeping, hoopvol die toekoms tegemoet te gaan: Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. 

 

Die Van Riebeeckgelofte (6 April 1654) 

Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die Here gelei met die skepe Drommedaris, Reyger en Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters* te bou en te bestendig en opgelet het dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word. 

*(dit is die Here XVII)

 

TOP