Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Is God werklik kleurblind?

    

Die Afrikaanse sanger, Bouwer Bosch, se liedjie “Kleurblind” het reeds in November 2014 op YouTube verskyn. Met die onlangse vlaag van rassisme wat Suid-Afrika getref het, het hierdie liedjie nuwe prominensie verkry en is wyd op sosiale media versprei. In die lied sing Bosch onder andere dat God nie wit is nie, dat niemand tegelyk ’n Christen en ’n rassis kan wees nie en dat Jesus vir niemand se velkleur gesterf het nie. Volgens hom mis mense die punt wanneer hulle óf net op die wit klawers, óf net op die swart klawers van die klavier fokus aangesien beide belangrik is om ’n lied te laat sin maak.

Dit is duidelik dat Bosch se liedjie daarop gemik is om ’n bepaalde problematiek binne die Suid-Afrikaanse samelewing te ontbloot en daarop ’n antwoord te bied. Rassisme en mense se onvermoë om mekaar met respek te hanteer, word op die voorgrond geplaas terwyl Bosch kleurblindheid bepleit as oplossing vir die probleem. Dat hy daarin slaag om op ’n paar gevoelige senuweepunte te druk, is nie te betwyfel nie. Die vraag is egter of kleurblindheid ons regtig in staat gaan stel om verby die problematiek te beweeg en of ons nie maar bloot net ’n nuwe problematiek daardeur skep nie?

Globalisasie is ’n faktor wat lank reeds ’n baie groter invloed op ons denke het as wat ons wil toegee. Die koms van iets soos die Internet, het nie net ’n era van groter toegang tot inligting ingelei nie, maar ook ’n era waarin die wêreld waarin ons woon, klein geword het. Deur middel van die media beleef ons gebeure wat in ander lande afspeel asof dit op ons voorstoep plaasvind. Met ’n uitgebreide lugvaartnetwerk het selfs die mees afgeleë plekkies vir ons bereikbaar geword. Gereeld word na hierdie nuwe wêreld waarin ons leef as ’n “global village” verwys.

Een van die meesleurende newe-effekte van globalisasie is dat dit ook die gesig van plaaslike gemeenskappe verander. Reeds in 2003 het prof. Mirriam Adeney van die Seattle Pacific Universiteit hierdie effek as een van die grootste gevare van globalisasie uitgewys. Volgens haar is “creative destruction” ’n noodwendige gevolg van globalisasie, aangesien daar in ’n poging om nuwe geleenthede daar te stel en vooruitgang te bevorder, noodwendig ongevalle gaan wees. Etnisiteit is ook een van die slagoffers aangesien globalisme die gevolg het dat gemeenskappe en etniese groepe hul uniekheid verloor en aangemoedig word om op te gaan in ’n nuwe wêreldburger-identiteit.

Uniekheid gaan verlore in ’n gesiglose samelewing waarin die man op straat se identiteitloosheid uiteindelik lei tot ’n gevoel van waardeloosheid. Ten diepste kan hierdie proses as liefdeloos beskryf word aangesien dit die mens van sy Godgegewe uniekheid en waarde as beelddraer van God stroop. Bouwer Bosch is bekommerd oor die afwesigheid van liefde. Die vraag is egter of Bosch se oproep tot ’n kleurlose, kleurblinde gemeenskap nie dalk gevaar loop om gemeenskappe en individue nog meer waardeloos te laat voel nie? Is dit nie ook liefdeloos nie?

Bosch se waarskuwing dat ons beklemtoning van etnisiteit en verskeidenheid nie eenogig behoort te wees nie, moet ernstig opgeneem word. Sedert Thabo Mbeki se beroemde toespraak in 1996 getiteld “I am an African” waarin hy sy herkoms omhels en lede van etniese groepe aanmoedig om hul identiteit te waardeer, was daar ’n geweldige oplewing in etniese bewuswording. Die tragiese is egter dat hierdie oplewing ook tegelykertyd die vernietiging van ander etniese groepe tot gevolg het. Die voorreg om jou identiteit, wat ook jou etnisiteit insluit, te omhels, word net aan sekere groepe in Suid-Afrika gegun. Die eensydigheid van hierdie bewuswording word beklemtoon deur die feit dat groepe soos die Afrikaner hierdie einste voorreg ontneem word.

In teenstelling met hierdie ontwaking in Afrika-identiteit, word die bewustheid van Afrikaner identiteit as veragtelik beskou. Trots en waardering vir die Afrikaner se eie word verander in ’n skaamtekultuur van selfveragting. Die juk van hierdie skuldgevoelens is vir sekere Afrikaners, soos Terblanche Delport, so swaar dat die Afrikaner eerder aangemoedig word om kulturele selfmoord te pleeg deur in sy eie swaard te val. Wanneer een groep sy uniekheid verhef tot die hoogste goed, raak daardie uniekheid op sigself boos.

Wie die skeppingsgeskiedenis van Genesis 1 lees, kan nie anders as om bewus te word van die kleurvolheid van God se skepping nie. Hy het nie ’n gryse, eenvormige wêreld sonder enige verskeidenheid geskep nie. “Volgens hulle soorte” impliseer dat diversiteit ingebed is in die DNA van die skepping. Wanneer God voorgestel word as kleurblind deur ’n samelewing van grys wêreldburgers te bepleit, word sy liefde vir verskeidenheid geïgnoreer. Wanneer etniese en kulturele eilande geskep word waarin die uniekheid van gemeenskappe en volke verhef word tot die hoogste goed, word God se liefde vir kleurvolheid gereduseer tot ’n liefde vir een kleur. Nie een van die twee komplimenteer God se wese nie. Ps. 96 beklemtoon die feit dat God nie kleurblind, maar ook nie eendimensioneel is nie. Hy is ’n God wat die kleurvolle verskeidenheid van sy skepping lief het. Daarom moedig die psalmdigter gelowiges aan om God se lof en eer en verlossingsdade onder al die nasies te verkondig, sodat die geslagte van die volke aan die Here eer en sterkte kan gee.

Wie die kleurvolheid van God se skeppingsverskeidenheid tot sy reg wil laat kom, kan nie anders as om die liefdesgebod in die gesigsveld te bring nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ’n Gebod wat in ewewig gehou word deur die fyn spanning wat daarin opgesluit is. Aan die een kant die opdrag om die naaste lief te hê, maar aan die ander kant die opdrag tot selfliefde. Om ’n ander lief te hê, om respek te toon vir ’n ander se uniekheid, impliseer ’n gesonde vorm van selfliefde. Wie nie die waarde van sy eie, Godgegewe uniekheid besef en waardeer nie, sal ook geen respek en waardering vir die uniekheid van ’n ander hê nie. ’n Kritieklose selfliefde lei egter tot bose selfverheffing en loop uit op die miskenning en in sommige gevalle selfs op die vernietiging van ander se uniekheid. Uiteindelik kom die kleurvolle kaleidoskoop van God se skepping in gedrang.

Alleen die evangelie van Jesus Christus kan hierdie ewewig verseker en die kleurvolheid van God se skepping tot volheid bring. Die evangelie gee ’n gesonde verstaan en waardering van die eie aangesien Christus se verlossing ook die boustene van identiteit onder sy heerskappy plaas. Die evangelie bewerk ’n sensitiwiteit vir sondige selfverheffing, maar stel ons ook in staat om nie vir God te reduseer tot ’n kleurblinde God nie. Die evangelie bevry ons om nie net onsself lief te hê nie, maar uiteindelik ook die andersheid van my naaste lief te hê. Die evangelie bevry ons omdat dit gemeenskappe, etniese groepe en volke in staat stel om brûe te bou. Brûe van geloofsverbintenis wat die eilande van elkeen se uniekheid aan mekaar verbind sonder om die kleurvolheid van God se skepping in gedrang te bring.

Is Bosch reg? Is God kleurblind? Moet ons opgaan in ’n kleurlose samelewing waarin ons nodig het om God te verander ten einde in te pas by ’n wêreld wat omvorm is deur ons eie sondigheid en liefdelose selfverheffing? “Sonder aansien des persoons” noodsaak nie ’n eenvormige grysheid nie. Die probleem is nie ’n kleurvolle, multiëtniese samelewing nie. Die probleem is nie die teenwoordigheid van kleur nie, maar wel die afwesigheid van liefde – liefde vir jouself en liefde vir jou naaste. Hierin is Bosch reg. Alleen Jesus Christus kan hiervoor ’n oplossing bied. Wanneer verskeidenheid gekoester word as ’n gawe en nie verheerlik word as ’n afgod nie, word God se wêreld verander en kry ons ’n voorsmakie van die hemele waarin elke volk en taal en nasie in en deur hulle kleurvolle verskeidenheid aan die grote God lof sal betuig (Openb. 7:9-10)!

 

TOP