Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

In die spervuur van onreg

    

Die Sentrale Kerkekommissie van die Afrikaanse Protestantse Kerk het kennis geneem van die onrusbarende gebeure by sekere universiteite. Die afgelope dae was die media oorlaai met berigte oor die onrus wat op kampusse heers. Foto’s wys die onbeheerde optrede van verskeie groepe mense. Die onvermoë van die gesagsinstansies om die oproer te beheer, is kommerwekkend. Dat hierdie dinge mense met diepe onrus vul, is te verstane.

Daar is etlike sake wat ʼn rol speel in die ontstaan van die omstandighede. Ons sou kon verwys na ʼn regering wat ʼn klimaat van onverdraagsaamheid skep deur hulle eie korrupte optrede en swak prestasies. Dubbelpratery deur universiteitsowerhede en diskriminerende optrede teen sekere studente, is genoeg aanmoediging vir baie om gewelddadig te raak. Die verbreking van ooreenkomste met organisasies help nie om rustigheid te skep nie, maar dui op verskuilde agendas. So kan seker nog persone bygevoeg word om hierdie onaanvaarbare optrede te verklaar.

Die persone wat egter die meeste spanning verduur, is daardie studente wat net wil studeer. Hulle het ʼn doel vir hulself gestel en jaag dit na, maar word dit nie gegun nie. Hoe gaan iemand klas toe met dreigemente van aanranding as jy op die kampus loop? Hoe skryf ʼn student eksamen as dit kort-kort ontwrig word? Hierdie studente is die eintlike slagoffers van ʼn situasie wat soos ʼn kruitvat langs ʼn vuur dreig om heeltemal te ontplof.

Wanneer ouers dan tot hierdie stryd toetree, is dit te verwagte en te verstane. Hulle moet immers die rekeninge betaal en word eenvoudig gedwarsboom in hul opvoedingstaak deur hierdie kriminaliteite. Dit is te verstane dat studente mekaar te hulp sal snel waar hulle vriende benadeel word. Die spanning wat die toestand op elkeen van ons plaas, is skrikwekkend en dit bly `n uitdaging om dit reg te bestuur. Genadiglik beskik die Here ook ander alternatiewe, soos die Afrikaanse Protestantse Akademie, waar studente sonder ontwrigting oor taalkwessies, onbeskaamd in Afrikaans onderrig ontvang.

Dit is duidelik dat almal betrokke opgeroep moet word tot liefde en verdraagsaamheid. Waar die Woord van God die pad aandui sal oplossings gevind kan word. Waar die Woord nie aanvaar word nie, dien Bybelse optrede dan tot `n getuienis vir alle betrokkenes, ook hulle wat dalk ongelowig is.

In Mt. 11 lees ons dat Jesus Christus ons oproep om sy juk op ons te neem en van Hom te leer wat sagmoedigheid en nederigheid is. Dit mag dalk klink na ʼn uitweg wat net deur mense sonder durf gekies sal word. Mense wat nie kans sien om die situasie in die oë te kyk en daadkragtig op te tree nie.

Hierdie oproep tot gelowiges is inderwaarheid baie moeiliker as om geweld met geweld en onreg met onreg aan te spreek. Die juk wat Jesus gedra het, was om die sonde van die mens op Hom te neem en sy antwoord op al die onreg en haat wat Hy moes verduur, was genade en liefde. Hy het sondaars opgesoek en aan hulle vergifnis geskenk. Die las wat Hy op ons lê, is om sy genade en liefde uit te leef.

Dit beteken nie ʼn lafhartigheid in die lig van uitdagings nie. Dit is nie ʼn  aanvaarding van onreg sonder meer nie. In dieselfde hoofstuk in Mattheus sê Jesus dat die oordeel nie sal uitbly oor diegene wat nie glo nie. Die oordeel kom Hom toe en dit sal nooit ontduik word deur diegene wat volhard in hulle onreg nie. Uiteindelik is dit alleen die geloof in ’n God aan wie die wraak toekom, wat ons verhoed om kwaad met kwaad te vergeld.

Terwyl ons moet erken dat ons woede gevaarlike hoë vlakke bereik, moet ons nie self oorgaan tot sonde nie. Nou moet ons met nugterheid optree en veral ons ware studente aan die Here opdra sodat hulle die juk van genade en liefde te midde van gewelddadige provokasie sal kan dra.

 

TOP