Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Rassisme-debat

Ons taak is groter as blote deelname aan rassisme-debat 

    

Die deelname van Afrikaners en selfs blanke Suid-Afrikaners in die algemeen aan ‘n debat oor rassisme in Suid-Afrika gedurende ’n verkiesingsjaar is ’n verlore stryd. Voeg daarby die feit dat die ANC waarskynlik verlede jaar reeds besluit het dat die rassekaart hul laaste uitweg gaan wees wanneer die EFF aan hul linkerkant en die DA aan hul regterkant van hul steun gaan begin wegneem. ’n Harde veldtog oor wit rassisme sal die verlies na links help stuit omdat dit die EFF van ‘n kernboodskap, waarop hy as party staatmaak, sal ontneem. Dit sal ook afvalligheid na regs keer omdat dit die persepsie by middelklas, gematigde swart kiesers sal wakkermaak dat ’n party met soveel blanke ampsdraers soos die DA, weens wit rassisme nie vertrou kan word nie.

Die fout wat talle Afrikanerinstellings die afgelope paar weke gemaak het, is om volgens die agenda wat die ANC gestel het tot die nasionale debat oor rassisme toe te tree. Die probleem hiermee is dat die ANC in ’n baie sterk posisie is om ’n debat te domineer en om die spelreëls so te bepaal dat dit sterk in hul guns tel. Geen Afrikanerorganisasie kan tans lynreg teen die ANC oor rassisme debateer en hoop om op ’n nasionale verhoog die stryd te wen nie.

As volk en as Christene sal ons egter ook ’n fout maak om eenvoudig stil te bly. Eerstens moet ons tussen onsself sterk in gesprek tree oor rassisme, rasseverhoudinge, multikulturalisme en die gevolge van die ANC se veldtog op ons as volk.

Tweedens moet ons instellings, hetsy dit kerke of burgerlike instellings is, ’n hernude poging aanwend om die morele hoëgrond te behou. Ons kan nie dat die ANC se rassisme tot onverantwoordelike en onchristelike optrede onder ons eie mense lei nie.

Derdens moet ons verby Suid-Afrika se grense kyk. Die res van die wêreld begin toenemend krities na die ANC kyk. Daar bestaan goeie geleenthede om nou internasionale opinies oor Suid-Afrika te help verander sodat ons dit dit vir die ANC moeiliker en moeiliker kan maak om teen ons as volk te mobiliseer.

Die huidige onrus en die vrees wat dit onder ons mense skep, hou egter ook ’n geleentheid vir die kerk en ons burgerlike instellings in. Indien ons daarin kan slaag om ons mense te laat verenig rondom ’n Bybelgefundeerde boodskap van liefde vir die eie sonder haat vir die andere, kan ons nuwe inhoud aan terme soos rassisme en multikulturalisme gee.

Ons moet ook nie uit die oog verloor dat die huidige rassedebat in Suid-Afrika nie net tot ons land beperk is nie. Die debat wat ons om ons sien afspeel en wat toenemend deur geweld en erge anti-witrassisme gekenmerk word, gaan oor iets veel groter as slegs rasseverhoudinge in Suid-Afrika.

Die sogenaamde ‘Black lives matter’-veldtog in die VSA toon sterk ooreenkomste met dit wat ons in Suid-Afrika beleef. Oproepe tot groter divirsiteit in elke Westerse land en selfs aspekte van die Westerse kultuur en gemeenskap, is ’n verdere teken van ’n groter anti-wit beweging.

Martin Bosma, Nederlandse parlementslid, beskou die oorsprong hiervan as die linkse studente-opstande van die 1960’s in Europa en die val van kolonialisme in talle Europese kolonies gedurende dieselfde dekade of kort daarvoor. Volgens Bosma het die konsep van ‘witskuld’ toe reeds ontstaan en bereik dit eenvoudig tans ‘n hoogtepunt met nie-blankebevolkings wat Westerse beskawings vir hulself wil opeis as finale prys vir kolonialisme. Die Westerse beskawing en daarmee saam Westerlinge in die algemeen, moet ophou bestaan sodat die prys vir kolonialisme finaal betaal kan word.

Binne hierdie breër konteks kan ons negatief of selfs depressief raak of ons kan strategies dink en nou die grondslag lê om wel op die ideëterrein onsself te onderskei. As Christene het ons ’n natuurlike saak vir die behoud van die Christendom. As Afrikaners het ons ’n roeping om ook ons taal, kultuur en tradisies te behou. Wat ons nou moet doen, is om seker te maak dat die idee van multikulturalisme deeglik as onwerkbaar ontmasker word en dat ons ’n deeglike plan vir ons eie behoud daarstel. Indien ons hierin kan slaag, sal daar hoop vir ’n toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika wees en sal ons iets groter vermag as om bloot die ANC te probeer oortuig dat hul siening oor rassisme verkeerd is.

 

TOP