Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Verdorwenheid opnuut bevestig

    

In ʼn artikel van Jacob Rooi wat in Rapport van 8 November 2015 onder die opskrif: “Uitdagende Zuma trek streep in die sand” verskyn het, word berig hoe Jacob Zuma teen sy politieke teenstanders te velde trek. Die verdeeldheid binne die ANC word bespreek en dit is vir die president baie duidelik ʼn yslike klippie in die skoen. Sy politieke rol kom al meer onder druk en dit laat hom beslis met slaaplose nagte.

Die artikel wys hoe Zuma onder sy teenstanders inklim en hy hulle veroordeel vir alles wat slegs is. In hierdie proses gebruik hy dan die woorde “Jirre Jissis”. Dit is duidelik nie as deel van ʼn gebed geuiter nie maar om krag te voeg by sy standpunte wat op hul eie bene maar wankelrig is. Dit is natuurlik nie ʼn nuwe truuk wat hy hier uithaal nie. Die misbruik van die Here se naam kom op baie plekke in ons samelewing voor. Ons kan maar net luister na die programme op televisie of na films kyk en dieselfde vergryp kom voor. Dit laat mens wonder oor ons eie gebruik van die Naam van die Here. Te dikwels is die uitroep van die Naam van die Here ʼn paniekerige gryp na iets groter as jyself of om uiting te gee aan woede en magteloosheid. 

Ons moet tereg vir president Zuma hieroor vermaan maar dit is hartseer om te erken die probleem baie groter as net hierdie spesifieke optrede is. Die probleem kom oral voor en ook binne ons eie geledere. God word belaster op alle terreine van die lewe en dit wil voorkom of ons al so gewoond daaraan geword het dat dit selfs gelowiges nie meer pla nie. Op talle maniere word God bygeleep om argumente te wen en teenstanders te intimideer. Die misbruik van die naam van die Here is lastering van sy hele wese. ʼn Miskenning van sy grootheid en gesag. 

Ons land is besig om deur algehele verdorwenheid oorweldig te word en dit wat president Zuma gesê het is net maar die bevestiging daarvan. As ʼn president tot die vlak van minagting van God gedaal het kan daar seker verwag word dat die probleem stewig gevestig is. 

Vir elke Christen gelowige moet hierdie weer ʼn oproep wees om die lastering teen ons God te sien en daarteen in opstand te kom deur hernude toewyding aan Hom en diens in sy koninkryk. Om weg te kyk of jouself doof te hou is om goed te keur dat God belaster word en dit is dalk ons grootste uitdaging om die hoof te bied.

 

TOP